Tuesday, September 13, 2011

Tyd en hoogtyd


‘n Tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan....en as mens te lank wegbly moet jy oppas, of jou blokmaters mag dink, jy (dis nou ekke) -- het besluit dit is beslis net hier die gerieflike tyd vir myse kraaltjie om af te sterwe.

Dêffenitief néé EN aikona. Dit sou mos moord wees om hierdie ou kuierkraaltjie van my nek om te draai! As’t ware so goed soos om ‘n eie kind by die deur uit te jaag.

‘n Ander logiese moontlikheid vir die "stilstatus" sou kon gewees het, dat ekself dalk nie meer op die ondermaanse was nie. Sal dalk eendag gebeur, hoor – nie “dalk” nie -- dis nou die doodgaan, want dis mos tog wat op ons almal wag. Maar dat ek net in stilte sal wegraak met kraaltjie daar medeby is goed moontlik, want liewe Vennoot het g’n basteridee van hoe om by hierdie geselsplek uit te kom indien hy oor my heengaan sou moes publiseer nie.

(Heeltemal anders as die ou wat vir sy vrou die opdrag gegee het:

As ek die dag finaal disnis is,

my assies in ‘n nis gekis,

kan jy maar oral vonkpos stuur:

die ou is oor “ en in“ die muur!)

Nou maar wat het dan gebeur om my langerekte stiltetyd te veroorsaak?

Verskonings, verskonings: kinders en kleinkinders en ver reis en lank vat met die terugkomslag, en weer ‘n keer die vlaktes inry.

Kangaroeland toe gewees vir ‘n kinderkuiermaand tot helfte Maart; drie weke tuis; opry Halifax, Kanada toe saam met Vennoot aan begin April vir die geboorte van die tweelingfeetjies -- tot my tuiskoms so al terug by mysigselwers met die langpad langs, ‘n tyd gelede. Daarna groot vreugde toe die Australiërs hulle vir vyf weke hier by ons kom tuismaak het. Toe weer laasweek die wiele vir 900 myl ver laat draai saam met Vennoot, om die noordwestelike hoek van Colorado bietjie te verken so voor die koms van die winter.

En van al die dinge en doene sal ek dalk nog vertel.

Dit was ‘n ryk tyd; ‘n moegwerk tyd; ‘n dinktyd; 'n rustyd;‘n liefhê tyd en die hele tyd kon ek sê: “Die Here het vir my die meetsnoere in lieflike plekke laat val.”

Ja, die afgelope paar maande was verrykend en vervullend.

Ek het waarlik gelééf. En daarom wens ek ook vir jou vandag in die woorde van Jonathan Swift toe:

“May you live all the days of your life.”

En mits dese sê ek dan weer “hallo” aan almal van die liewe julles! (Gróót verskoning aangeteken, want julle het vriende geword met die tyd saam, en my vriende is kosbaar.)

5 comments:

Sonja said...

Dis lekker om weer possies te lees hierso! Hou maar die verskonings! Skryf net vir ons oulike stories soos altyd!xxxhahaha!

Thea said...

Welkom terug Mariki! Het jou gemis!! mos dat mens net weer die drade optel waar jy dit gelaat het en weer aangaan asof daar geen onderbreking was nie.

Dané said...

Ag dankie tog, mariki, jy is terug. Het al sooo gewonder of ons ooit weer van jou gaan hoor!

En jy was omtrent besig gewees. Vertel bietjie meer?

Anonymous said...

Vriendin, waar was jy? Ek was saam met DH op business trippie en sal jou bel om te hoor.

Love, C

mariki said...

Hmmm, Sonnie -- praat jy my aan?!

Reg so, Theatjie!

Dané, ek sal probeer onthou van alles wat nou al weer so lank gelede gebeur het!

Ek wag, C'tjie.