Saturday, February 5, 2011

Oupa bly nie meer by nie

Met my breiery vir die dogterkindertjies wat oppad is, soek ek gisteraand ‘n bababaadjie-patroon op die internet, en die ene hier langsaan trek my aandag.


Ek vergroot die prentjie en terwyl ek dit sit en bestudeer, stap Vennoot verby. Skielik steek hy vas, kom loer oor my skouer en vra so half verstom: “Wie’s dié?”


Ek verduidelik waarmee ek besig is. Toe hy wegstap, hoor ek hy brom so onderlangs verontskuldigend vir homself: “Ek wou mos darem sê dis nie een van die kleinkinders nie.”


Siestog Oupa -- dinge gaan nou te vinnig vir jou.

Wednesday, February 2, 2011

Konsertpret

Dié ouma het reeds gehoor dat sy swemlesse, balletklasse, ‘n Sondagskoolpiekniek en ‘n skoolkonsert daar in Australië gaan bywoon.

Skoolkonsert! Jare laas dié vreugde beleef. Ek hoop dit is net so vermaaklik soos hierdie ene:

Tuesday, February 1, 2011

Ouma trêwwel weer

Saam met al die gedoentes en gewoel en opgewondenheid van pas-verby Kersfees, bel ons Kanada-kinders om uit die bloute te vertel dat daar by hulle ‘n tweelinkie oppad is.

Die nuus veroorsaak ‘n familie-oproer vanaf Kanada tot in Amerika, word deurgebel Suid-Afrika toe en oorgesein na Australië.


Verstomming! Aan geen kant van die families is daar nog ooit twee rye spoortjies langs mekaar getrap nie. Wat ‘n héérlike verwondering en dankbaarheid oor die spesiale hemelse geskenk wat oppad is – ‘n identiese tweelingdogtertjiekinners!!


En Ouma begin boeke aanstuur en brei en oorweeg om te leer hekel. Maar grootste beplanning is om te moet gaan help wanneer die mensies aan die kom is, so teen April-iewers, want ander ouma woon baie ver.


Net daar sit die Australië-kinders hul voet neer en hulle kleim in – jongste Aussietjie is al vyftien maande oud, en Ouma se arms het hom dan nog nooit vasgehou nie!

Een doller, twee dollers…..spoeg, spaarvark spoeg. Spaargeld maak dit!

Nou staan die stofwolke dakhoog soos hierdie ouma spring om klaar te kry vir volgende Woensdag se vliegtuigklim.

Ouma kom, kangaroetjie, Ouma kom!

Sunday, January 30, 2011

Ek met die keiser se klere aan....

'n Voorbeeld van 'n aaklige sekuriteitskassie:

~~~~~

Staan toe mos vandeesweek met geen klere aan nie, op die lughawe.


Kaal. Sonder ‘n draad of ‘n vesel om my te bedek.


En ek is bekyk. Van bo to onder en van voor tot agter.


Darem deur mense wat ek nie kon sien nie – asof dit ‘n verskil maak…..En die mense rondom my wat ek wel kon sien, het genadiglik teen my klere vasgekyk.


Vrywillig? Nee, natuurlik nie!


Maar dit het gekom toe ons ná ‘n kort wekie se kuier by Tweede-Jongste in Phoenix se lughawe deur die sekuriteitskontrole moes gaan, en ek onkant gevang was, en nie vinnig genoeg gedink het om dié vernedering te ontduik nie. Voor ek my kon kom kry, is ek in die Full Body Scanner ingewink, met hande bokant die kop staan gemaak, en – soos dit vir my gevoel het – “gefussileer.”


Ek weet nie in hoeveel ander lande dié aaklige sekuriteitskassies al hul opwagting gemaak het nie, maar hier vervuil hulle by dosyne.


Die Full Body Scanner “ontklee” ‘n mens deur ‘n 3-D beeld van jou te vertoon – kompleet met alle nate, voue, skaduwees, bult-en-hobbel vlakke – en op die lughawens word dié beeld gesein na ‘n skerm in ‘n vertrek waar sekuriteitspersoneel jou bestudeer om te sien of al daardie kontoere werklik jou eie is, en of jy dalk dwelms, wapens of plofstof saamsmokkel.


Genadiglik kan mens nog weier om so verneder te word, maar dan word jy deeglik deur gehandskoende dames “betas”.


Liewer dit. Vat aan my as jy dan moet. En ek kan jou sien. Maar moet my nie beloer nie. Veral as ek nie klere aan het nie.