Vennoot is in sy skik -- sommer baie. Want sy bester mater (*die uwe), is veilig tuis ná amper ‘n week se uithuisigheid.
Ek en my klein rooi karretjie het voorverlede Donderdag padgevat na Utah se jaarlikse storiefees. Die tweede grootse ene in die land.
Vennoot sou saamgegaan het, maar sy werksvrag pootjie hom toe. Hy het my die geleentheid egter van harte gegun -- "Ry, vrou, ry."
Syse vrou het haar ook nie onnodiglik laat aansê nie.
Luister partykeer baie graag as die man praat.
Hierdie storie-gedoente is waarlikwaar ‘n fees. Gewoonweg (maar alles behalwe “gewoon”), word die feesgangers deur storievertellers van formaat, en wat vanoor die hele land kom, op die wieke van die woord meegevoer.
En as dit nie stories uit die skatkis van die geskiedenis of oor hul eie families se doene en late en stommiteite is nie, is dit opgerakelde verhale oor wie en wat ook al. Huilstories en lagstories en liegstories. (Einste so op Jan Spies-patroon.)
Die Utahfees trek jaarliks 25 000 besoekers, en word gehou in 'n natuurpark, op in 'n kloof.
Sowat van uitmuntende organisasie het ek nog nie baie gesien nie. Parkeer op aangewese plekke in die dorp, klim op een van die string busse wat staan en wag, en ry sit-sit-so tot by die feesterrein. Twaalf kunstenaars wissel heeldag tussen die ses groot markiestente, vertel elke keer 'n nuwe storie -- hoe kies mens tog?!
Verhale word, o, so kunstig gespin soos 'n spinnerak se web......en mens word weer pure kind....
Moenie hierdie "tannie" onderskat nie -- sy het die afgelope 25 jaar voor ongeveer al 250 000 mense haar ding gedoen. Internasionaal ook. Sy is Elizabeth Ellis, en word gereken as een van die voorste Amerikaanse storiekunstenaars.
Dis einste sy wat my een aand wat-en-trane laat huil het met haar storie oor die graftes van onbekende soldate uit die Burgeroorlog uit, en 'n ma of vrou of kind wat nooit sal weet van waar of hoe nie....
Die verrigtinge word afgesluit by 'n opelugpark -- en 'n uur voor die tyd al sal jy hard soek om 'n plekkie te kry waar jy jou kombersie kan oopgooi.
Feitlik elke staat het sy eie storiefees en die beste van die bestes (uit 'n groep van 9000 woordkunstenaars uit Amerika en die res van die wêreld), word uitgenooi na die nasionale fees.
Dié word elke jaar in Oktober in Tennessee gehou.
Oktober...oor drie weke...wonder mos nou of Vennoot my weer sal laat ry.
Miskien moet ek vir hom 'n allermooiste ou storietjie spin.
8 comments:
Hehehe... ek reken jy gaan 'n mooi storie vir vennoot kan spin vir die Tennessee storiefees, jy het mos nou hoeka gesien en gehoor hoe word stories aanmekaar geflans! :-)
Ai maar dit klink te heerlik! Ek is seker jy ken Dana Snyman se wonderlike stories. Was ek toe nou verbaas dat die man glad nie 'n storieverteller op die verbale sin vand ie woord is nie. Skryf wonderlik, maar 'n stil observeerder van ander.
Wat 'n absoluut wonderlike manier om kultuurgoedere te bewaar.
Klink na 'n "fees".
Theatjie -- jy seg dit....
cat, ek is ook heeltemal verbaas oor wat jy my van Dana hier vertel. Wys jou net hoe kry ons verskillende gawes.(Myne is om te lees en te luister....en rond te ry!)
Oooo - en WAS dit, D!
Volgende maal SAL jy my saamneem, maatjie.
C
Maar beslis, c'tjie.
Ek dink dit kan net 'n belewenis...
Dit klink so interessant. Dit moet seker n lekker rustige uitstappie wees!
Post a Comment