Tuesday, August 31, 2010

Behoorlik poegaai

Kan ook nie anders nie: het Donderdagoggend voordag hier afgesit Kentucky toe, so al padlangs deur Kansas, Missouri, Illinois en Indiana – ‘n hele 1 862 km heen, en toe weer 1 862 km terug, gister.


Wat mens ook nie alles vir jou kroos sal doen nie. Julle weet mos die spreekwoord sê, ouers sal hulself uittrek vir hul kinders – nou darem nie vóór hulle se kinders nie -- tog hopelik nie.


En uittrek was ook nie deel van die doel van die reis nie, nee, moeder het ‘n mooi rokkie uit die tas gehaal vir die funksie waar Jongste-maar-grootste-Seun, sy “balkies” op sy skouers gekry het as ‘n nuwe luitenant in die National Guard van ‘Kintuck’. (Ses-en-sestig kandidate het begin, maar net 16 manne het klaargemaak.)


Elke staat het sy eie groep Guards.


Hoe staan “National Guard” te vertale? Nasionale Garde? Ek dink nie so nie. Maar

“by any other name” genoem ofte nie, hulle word opgelei deur, en maak deel uit van die Amerikaanse weermag. Is oorspronklik in 1636 in die lewe geroep om Amerika hier binnelands te verdedig.


Ook om te help in geval van natuurrampe, soos met Orkaan Katrina en die groot bosbrande in Kalifornië verlede jaar, waar hulle onmisbare hulp gelewer het.


Maar toe hierdie land se regering na hartelus begin oorlog maak, wettig of onwettig, toe word die NG sommer oorsee ook ingespan. Die mag in Irak het uit meer as 40% NG-lede bestaan, en dié in Afghanistan tans uit 55%.


Soldaatwees is nooit speletjies nie. Selfs nie tydens opleiding nie. Seunskind se hakskene het eenkeer met ‘n veldmars so stukkend geskuur en gebloei dat die “medics” hom aangesê het om uit te val en hospitaaltent toe te kom – wat die einde van sy offisiers-opleiding sou beteken. Hy het geweier en drie ure later met terugkoms by die basis, was sy stewels so bloedbevlek, dat hulle moes asdrom toe -- en hy in die hospitaal gedraai het.


Hy kan dus regtig sê dat hy sy balkies met sweet en bloed verwerf het.


(En ek is seker met trane ook – maar daaroor sal ‘n man mos nie praat nie.)



7 comments:

Dané said...

Baie geluk, Mariki -- jy kan so trots wees op jou seun!

Anonymous said...

dis darem so, fluitjies. met die trekkery en als het my ma-hulle laasweek 2000km gery heen en weer om die kinders te kom haal om bietjie daar te gaan kuier. wat 'n ma nie sal doen nie, en 'n ouma!

Sonja said...

n Ma moet seker trots en in trane van dankbaarheid wees na so n plegtigheid! Baie geluk Ma-riki!x

Jan and Miekie said...

Voorwaar iets om op trots te wees. Baie geluk Ma en Seun en die res van die familie! Dit klink na 'n baie tawwe kursus wat net die tafstes (is daar so 'n woord?) kan voltooi!

Thea said...

Baie geluk met jou seun se besondere prestasie Mariki! Sjoe, julle het omtrent ver gaan draai. Lyk op die kaart vir my of julle omtrent daar in die "country" musiek wêreld was of hoe?!

cat said...

Geluk vir hom en vir julle ok

mariki said...

Dankie almal -- hy is 'n wenner, hierdie ene.

Andorize - (lief jou "fluitjies"!) Is mens nie geseënd met so 'n ma/ouma soos jy/julle nie!

Jip Thea - Bluegrass country ok nog.

Sexy fototjie, cat.