Ek is nie 'n uithalerkok nie – gee my nie uit vir ‘n uithaler-enigiets nie. Doodgewoon. Maar dankie tog, ons Vader moet baie lief wees vir doodgewone mense, want kyk net hoe baie van ons het Hy gemaak.
Vanoggend skryf Ousus my broer het hulle oorgenooi vir ete, omdat hy bietjie allenig gevoel het sonder sy vrou wat op besoek was by siek familie. Smul toe aan varkblad met braaisous, gebakte aartappels, soetpatats en stolwortelslaai. Broer…!
By dié lese, begin ek toe summier kook aan ‘n ou kerriekossie vir vanaand. Gelukkiglik tog het ons net verlede week ‘n skapie te kope gekry – kerriekos is mos net ordentlik as dit met skaapnek gekook is, met so ‘n laaang sous.
Maar was dit tot op hede 'n stryd om skaapvleis in die hande te kry. Coloradoskaap is van die lekkerste (ek vergelyk niks met iets nie, en daarom jaag ek nie ‘n Karooskapie hier nader nie). Lekker of nie, nergens kry mens te koop nie, behalwe by een winkel wat voortdurend slegs Australiese skaapboud aan te biede het. (Baie lekker). Maar nou ja, na ure se soek kom ek internetsgewys by ‘n stokperdjieboer uit wat so een maal per jaar skaapslag, en siedaar, ons ry dadelik en gaan laai op.
Al wat ons kan aflei, is dat skaapvleis uit hierdie geweste so gewild is dat meeste daarvan landwyd opgekoop word. ‘n Vriendin se ma het glad anderdag op ‘n toer deur Alaska Coloradoskaap op die spyskaart gehad. En in New York is daar ‘n voorste restaurant wat geen ander skapie aankyk vir opdis nie.
Nietemin, ek weet net – vanaand gaan Vennoot hom weer vereet.
NS.: As jy lus is, luister bietjie na die Skaapkoor op YouTube:
http://www.youtube.com/watch?v=YguWlAJ47YQ