Sunday, September 28, 2008

Wat was dit? Ek wil meer daarvan hê!


Ooohh…feeste! Dit was ons besoek die afgelope naweek by sendelingvriend Ben, wat vir ‘n paar weke by sy ouers kuier. Hy werk etlike jare al onder nie-christene in lande ver hiervandaan.

Ons het aan die passievolle man se lippe bly hang, totdat dié so verlam was dat ons maar om ons vriend se onstehalwe ons greep moes verslap en laat los! Maar hoe bemoedigend om te hoor van die opwindende werk van ‘n liefdevolle God wat nuwe lewe in dooie harte wek!

Ben (geen identifikasie word gebruik nie), het dit reggekry om saam met ‘n besoekende predikantsvriend ‘n afspraak te kry by ‘n hoogsvername politieke leier van een van die lande waar Ben arbei. Mense ek wens, wens ek kon name noem, want dis ongelooflik hoedat God werk, maar nou kan dit nie. Weet maar net: waar die Here deure oopmaak, kan niemand dit sluit nie.

In elk geval, so kom hulle toe by die baie hoge meneer uit, met sewe van dié se vennote, en omring deur lyfwagte. Ben vertel: “Ek begin gewoonlik so ‘n gesprek deur te gesels oor hierdie mense se geloof, en wat hul ‘wysheidsboek’ vir ons lewens te sê het, en lei dit dan so na Jesus, maar ewe skielik vra ds. Aleck hier by my oor of hy maar vir ons vername gasheer mag bid. Ek dra die versoek oor, en Grootmeneer, duidelik verbaas en effe onkant gevang, sê, ja, dis goed so.

“Nou kyk, gebed is die basis van al ons handel en wandel, maar toe Aleck noem dat die Here wil hê hy moet Grootmeneer die hande oplê omrede van ‘n dowwe, swart kol iewers aan die linkerkant in Grootmeneer se borskas, toe slaan my oncharismatiese gedagtes net daar in my kopbeen vas, want….hoe verduidelik ek dit nou aan hierdie magtige man -- wat niemand nader as drie tree aan hom toelaat nie?

“Die volgende oomblik beweeg Aleck vorentoe en steek doelgerig sy regterhand uit; ek sien met afgryse hoedat die lyfwagte met gerigte gewere op Aleck afstorm en ek hoor myself skree ‘Prayer!’ Asof ‘n weerligstraal hulle tref, neem almal daar en dan ‘n eerbiedige gebedshouding in, en broer Aleck begin bid asof hy dit ‘n paar maal elke dag onder sulke omstandighede doen!

“En toe daal die Gees van die Here so duidelik voelbaar op almal in daardie vertrek neer, dat ek ineenkrimp van verwondering. Aleck sluit af, en Grootmeneer kyk hom oorbluf aan: ‘What was that? I want more of it.’

“En so breek die Here Self sy pad oop in verharde, militante harte en lewens.”

Sjoe, een van die opwindendste verhale wat ek ‘n laaange tyd gehoor het!

4 comments:

Anonymous said...

Hoendervleis-storie, Mariki. O ja, en welkom in blogland!

mariki said...

Stem! Dankie vir die besoekie, ek is lekker bly daaroor.

Skitter said...

Dis so bemoedigend om sulke getuienisse van die Here se werk te hoor ! Dis soos juwele wat skielik skitterblink so daar in die eentonigste woestyn van stof.Dis 'n stukkie lig, 'n knypie sout.Ons het sulke stories so nodig om ons geloofsbene weer energie te gee ne?

mariki said...

Absoluut, Skitter!