Monday, May 25, 2009

En hoe kraak jy jou neute?

Ek wou só graag die volgende oggend nog ‘n draai by die neutkrakermuseum in Leavenworth gaan maak, maar met die baie myle voor totdat ons Sondagmiddag op die eiland moet wees, kon dit net nie. Maar, soos ons weet, ‘n Boer maak ‘n plan….dus lees mens die brosjures en voel bietjie getroos.

Met meer as 4 000 vertoonstukke, tel die museum se neutkrakerversameling onder een van die gootstes ter wêreld. Nogal mooitjies begin deur ‘n voormalige balletonderwyseres.


Arlene Wagner, wat baie jare lank die Neutkraker Ballet op die planke gebring het. Sy vertel dat sy, net soos Clara in die ballet, gefassineer geraak het met die houtfiguur met die groot tande en dit het daartoe gelei dat sy en haar man die wêreld deurkruis het om hul versameling aan te vul.

Ontmoet Clara, die neutkrakermeisietjie. Sy is 'n musikale poppie ook nog -- moet haar net nie te styf opwen nie.

Clara se prins. (Hy maak my nie opgewonde nie.....)

Omdat die mens sedert die vroegste tye neute geëet het, moes hy tog ‘n manier vind om die dop te kraak!

Die oudste neutekraker in die wêreld is in die museum in Tarent, Italië, te siene (4e/5e eeu). Die een hieronder is in die Leavenworth museum en dateer uit ongeveer die tyd van Christus se geboorte. Dit is in 1960 gevind nadat dit vir meer as 1 800 jaar begrawe glelê het.


En wie sou kon dink dat ‘n mens met ‘n neutkraker kan weerwraak neem?!

In die myngebied in Oos-Duitsland in die 17/18-honderds wanneer die mynwerkers tydens die winter moes tuis bly, het hulle nuttige gebruiksartikels uit hout vir hul families gekerf. Daar was 'n bygeloof dat ‘n neutkraker in die vensterbank die bose geeste, sowel as gevaar, van die familie sou weghou. En só word die krakers in konings- en soldatefigure uitgekerf: vir ééns in die lewe darem werk die adel en die militêre vir die plebs – en dit deur hul neute vir hulle te kraak!

Hierdie is twee ware oues van dae --- 140 jaar oud.

Voordat ‘n kraker op die rak staan gemaak kan word, verg dit sowat 130 stappe, beginnende met die uitsoek van die hout (waarvan die jaarringe 'n bepaalde afstand van mekaar af moet wees) en dan lê die hout vir ‘n paar jaar om droog te word.

Vir die rykes is daar krakers uit ivoor, been en porselein gekerf.

Aan humor het dit die kerwers ook nie ontbreek nie.



So jammer dat ek nou nie al die gegewe in ‘n neutedop kon saamvat nie, maar ai, dis dan so interessant tog!


Lig bietjie Wagter se stert en hy kraak jou neut in sy bek.

4 comments:

Jan and Miekie said...

Nou toe nou! Wie sou kon dink daar is soveel soorte! Dis baie fassinerend - ek het 'n spul neute in my vrieskas - sou kon doen met 'n neutekraker!

Oom Petrus said...

Hallo Mariki,
Bly julle is terug by die huis..
Hierdie neutkrakers is vir my baie interssant.
Groet

mariki said...

Oom Petrus, dankie. En ja, dit was vir my SO interessant!

Hmmm, Miekie, ek dink die HEEL eerste soort was...twee klippe, of hoe?!

Nimsi se Blog said...

Dit is waarlik interessant! Die mense het geensins n tekort aan verbeelding gehad nie ne... die een wat 1800 jaar begrawe was lyk vir my vreeslik baie na Willie se ou "bobejaan-spanner"