Tuesday, August 31, 2010

Behoorlik poegaai

Kan ook nie anders nie: het Donderdagoggend voordag hier afgesit Kentucky toe, so al padlangs deur Kansas, Missouri, Illinois en Indiana – ‘n hele 1 862 km heen, en toe weer 1 862 km terug, gister.


Wat mens ook nie alles vir jou kroos sal doen nie. Julle weet mos die spreekwoord sê, ouers sal hulself uittrek vir hul kinders – nou darem nie vóór hulle se kinders nie -- tog hopelik nie.


En uittrek was ook nie deel van die doel van die reis nie, nee, moeder het ‘n mooi rokkie uit die tas gehaal vir die funksie waar Jongste-maar-grootste-Seun, sy “balkies” op sy skouers gekry het as ‘n nuwe luitenant in die National Guard van ‘Kintuck’. (Ses-en-sestig kandidate het begin, maar net 16 manne het klaargemaak.)


Elke staat het sy eie groep Guards.


Hoe staan “National Guard” te vertale? Nasionale Garde? Ek dink nie so nie. Maar

“by any other name” genoem ofte nie, hulle word opgelei deur, en maak deel uit van die Amerikaanse weermag. Is oorspronklik in 1636 in die lewe geroep om Amerika hier binnelands te verdedig.


Ook om te help in geval van natuurrampe, soos met Orkaan Katrina en die groot bosbrande in Kalifornië verlede jaar, waar hulle onmisbare hulp gelewer het.


Maar toe hierdie land se regering na hartelus begin oorlog maak, wettig of onwettig, toe word die NG sommer oorsee ook ingespan. Die mag in Irak het uit meer as 40% NG-lede bestaan, en dié in Afghanistan tans uit 55%.


Soldaatwees is nooit speletjies nie. Selfs nie tydens opleiding nie. Seunskind se hakskene het eenkeer met ‘n veldmars so stukkend geskuur en gebloei dat die “medics” hom aangesê het om uit te val en hospitaaltent toe te kom – wat die einde van sy offisiers-opleiding sou beteken. Hy het geweier en drie ure later met terugkoms by die basis, was sy stewels so bloedbevlek, dat hulle moes asdrom toe -- en hy in die hospitaal gedraai het.


Hy kan dus regtig sê dat hy sy balkies met sweet en bloed verwerf het.


(En ek is seker met trane ook – maar daaroor sal ‘n man mos nie praat nie.)



Thursday, August 19, 2010

Hoor jy my lag (en ween)?

Skoonheidswedstryde en ander mode-mededingende gebeure is beslis nie my forté nie. En ek weet ook nou nog nie hoe ek afgekom het op die foto’s van vanjaar se nasionale komstuumvertoning, by die Mej. Heelal-wedstryd nie. Maar waar vind ek dit toe skatersnaaks! (Veral die kommentaar van die Britse Telegraph daarby -- waarby ek so bietjie aangevul het!)

Daar is ‘n prys vir die beste kostuum te wen, maar dit tel nie vir die verkiesing van die semi-finaliste nie. Die kleurvolle okkasie bied ‘n kykie op die verskillende lande se kulture. Soooo leersaam!! (ha-ha).


Mej. Panama. Koooeee….hier is ek…….


Stekels, blinkers. blomme, vere, en Tsar Alexander se staf. Kom ek nog-iets kort? Mej. Nicaragua


Mej Brittanje kon nie belsuit na watter partytjie toe sy wil gaan nie, toe trek sy maar vir altwee aan (en wen die prys van die aand.)

Sykouse rond enige uitrusting af. Mej. Creole.


Nooit geweet tennis is België se nasionale sport nie?

(En as sy nie die bal kan raakslaan nie, sal sy hom wel kan raakSKOP.)

Kalahari-lappie op ‘n blink skaal, vertoon deur Mej Colombië.


Mej. Candy Queen – komende van Curacao.

Mej. Amerika. (Bly al 'n paar jaar in hierdie land, maar het nog nooit voor vandag hierdie soort voël gesien nie).

Mej. Australië se kostuum is in haar tuisland as ‘n “dingo-ontbyt” beskryf.

As ek die aandag van ‘n minder goedgevormde deel van my anatomie wou aftrek, het ek dalk ook spinnekopvlerke aangehaak soos Mej. Albenië, ekskuustog, Albanië.

Dié mejuffrou kom uit Angola. Ek swyg.

Mej. Dominikaanse Republiek. Is dit nie bietjie vroeg vir Kersfees nie?

Ek vermoed Mej. Guam moes ver deur oorgroeide tropiese woude hardloop om die vertoning te haal.

Mej. Pampoen, ag ekskuus, ek bedoel Mej. Zambië


[Waarom steek die woord ‘afgodspriesteresse’ dan nou al in my gedagtes vas?]

Wednesday, August 18, 2010

Kersie-present

Eergister kry ek onverwags ‘n Kersie-toekenning by Sonja se Sagte Landingsplek. (En waarlik, dit is verstommend hoedat die Vader ons twee se lewens so luglangs aan mekaar vasgeknoop het – net Hy kon dit doen!)


Toe sê sy allerhande mooi woorde ook nog daarby, wat my herinner aan die grappie van die man wat begrawe word aan die einde van ‘n vreeslike woeste en verwilderde lewe.


Maar o, by die graf lewer een van sy vrinne so‘n ophemelende afskeidsrede dat die oorledene se een seun vir die ander ene sê: “Kom ons loop, dis nie ons pa wat hier begrawe word nie!”


So laat Sonja se Kersie my toe dink aan vroeërjare, toe ek nog minder ernstig was met my wandel voor die Vader, en ek dikwels jaloerse en haatdraende gedagtes gekoester en (waarlik met opset!) nie mooi met mense gewerk nie. Maar dank God - Hy vergewe en Hy vergeet en stel mens in staat om al meer en meer soos Jesus te wil word, en dan gee Hy mens op onverwage maniere ‘n kans om te oefen -- so op die internet!
Oeps, daar vergeet ek toe dat ek saam met die kersie, werk gekry het.


Hmmm, drie dinge waarvan ek hou:


** Tuisgebakte brood met DIK botter waarin mens se tandmerke so sit as jy weglê



** Op die uitkyk wees om iemand (arme Vennoot!) te terg, sieluittrek, en dan volg die heerlike lekkerte van saamlag!





** Oëtoemaak om te luister na die geheimsinnige, koesterende geluid van die wind wat in die bome ritsel (lang jare terug by my oorlede Oumoeder geleer. Hoor haar nou nog sê: “Luister, luister dan nou net daar.”)

En o ja, vir wie om te bekroon met ‘n Kersie:

Thea – vir die lekkerkyk aan haar mooi foto’s so saam met die teedrink.


Miekie – vir die onopgesmuktheid en ons deelmaak van haar kosbare gesinsdinge.


Dané en C’tjie – maar hulle het nie kraaltjies nie, dus kry hulle dit, vir die gereelde inloer!


(Maar weet net, almal van julle wat hier kom kuier is goed vir my hart!!)

Monday, August 16, 2010

Skuilplek -- altyd

"Die ewige God is 'n skuilplek, sy arms is altyd onder jou," (Deut. 33:27, NAV).


Dit was ‘n koue Maart-wintersnag in Dallas, Texas toe die dokter Diana Blessing se hospitaalkamer binnestap. Haar man, David, het haar hand styf vasgehou terwyl hulle dapper op die jongste nuus gewag het.


Daardie middag, 10 Maart 1991, het Diana -- 24 weke swanger -- met ‘n noodkeiser hul dogtertjie Dana Lu Blessing in die wêreld gebring.



Net 30 cm lank en met ‘n gewig van 709 g, het die ouers geweet haar lewe hang aan ‘n draadjie, maar nogtans het die dokter se woorde hulle lamgeslaan.


“Dana het net ‘n 10% kans om môreoggend te haal “ het hy die slegte nuus met ‘n simpatieke stem oorgedra. “Selfs al sou sy bly leef, lyk haar toekoms nie goed nie.”


~~~~~~~

Sy sou nooit kon loop of praat nie; sy sou waarskynlik blind wees en die kans op serebrale skade of totale geestelike geremdheid was baie hoog.


Diana, David en die vyfjaar-oue Dustin het so lank gedroom oor ‘n nuwe klein mensie, en nou het die droom binne enkele ure in ‘n aaklige nagmerrie ontaard.


Maar, met die verbygang van die dae, het ‘n nuwe hartseer ontvou: Dana was so swak en teer dat hulle haar net ligweg kon aanraak en slegs kon pleit op God se genade vir die kleine mensie wat so broos en alleen in die broeikas gelê het tussen ‘n magdom verstrengelde buisies en pypies.




~~~~~

Deur lange weke heen het Dana nou ‘n gram gewig opgetel, en dan weer ‘n halfgram lewenskrag bygekry, totdat haar ouers toe sy twee maande oud was, haar vir die eerste keer in hul arms kon hou. Op vier maande, met die dokters se steeds duistere vooruitskouings vir haar toekoms, is sy huis toe – net soos mamma Diana met vaste vertroue op die Here, voorspel het.


Vyf jaar later was klein Dana ‘n petite, opgeruimde en lewenslustige dogtertjie – so normaal en gesond soos haar ouer boetie.


Maar die gesin, familie en vriende koester vandag nog steeds ‘n kosbare gebeurtenis in hul herinnering:


Gedurende die somer het Dana een snikhete middag tydens Dustin se bofbaloefening op Diana se skoot gesit.


Soos altyd was sy onophoudelik met haar ma en ander toeskouers aan die babbal – totdat sy ewe skielik stil geraak het.


Terwyl sy haar armpies om haarself slaan, vra sy: “Ruik Mamma dit?”


“Ja,” antwoord Diana, “dis die reën wat aan die kom is.”


Met ogies styf toe, herhaal Dana die vraag, maar toe haar mamma weer antwoord dat sy reën ruik, skud sy haar koppie beslis en sê met groot oortuiging:


“Nee, dit ruik soos Hy. Dit ruik soos God wanneer mens met jou kop teen sy skouer lê.”


En in daardie oomblik het Diana geweet: tydens Dana se eerste twee maande toe geen mens haar kon vashou nie, was sy in die arms van God en veilig teen sy bors gesus.

~~~~~~~~~~~~~~~

‘n Ware verhaal – deur verskeie bronne bevestig.



Wednesday, August 11, 2010

O, net JULLE mag boelie??

Oor die algemeen is Grootbroer (Big Brother) se land een van regverdigheid. Oor die algemeen en miskien en bolangs en ook (en veral)…..solank jy nie van die “neurotiese” oortuiging is oor ‘n Drie-enige God in die hemel, ‘n Verlosser en sonde en bekering nie.


Verdraagsaamheid (dit hang af wie verdra moet word), is die motto.


En terwyl dit beslis so is dat Jesus ons oproep om ons naaste lief te hê soos onsself (hoe ver skiet ek tekort!!), is dit ook ‘n feit so groot soos ‘n moerasmonster dat dié woord deesdae hier gebruik word om vrye meningsuiting te onderdruk en die heidense agenda te bevoordeel.


Niemand stry dat afknouery op skool nie geduld kan word nie. Máár….onlangs in Illinois kom ‘n christen-mamma agter dat wanneer haar kinders se skool die woorde “veilig” en “welkom” gebruik, dan ervaar sy dit allermins.


Dit is woorde wat voorkom in ‘n opvoedingsprogram wat by skole ingestel word om die homoseksuele kwessie positief te inkorporeer in die leerplan, in buitemuurse bedrywighede, in onderwyser- en ouer”opvoeding” en in alle ander skoolbedrywighede – met ‘n nasionale begroting van $70 mil (R511 103 000 miljoen – ja, vyf honderdmiljoen rand!!) van die Obama-regering.


Die program sluit in graad een-leesboekies soos “Heather het Twee Mammies” en “Tango Makes Three”, ‘n storie van twee mannetjie-pikkewyne wat verlief raak en dan ‘n pikkewyneier laat uitbroei om die kleintjie liefdevol groot te maak.


Die graad drie’s moet ‘n video kyk en legkaarte voltooi oor ‘n “transgender” familie waar kinders van tien en elf, blom onder die hande van twee pa’s of twee ma’s.


Verder moet leerlinge wat “cross-dressing” beoefen (wat op dees aarde tog is dit op Afrikaans? Oormekruis-aantrek??), wel, hulle moet toegelaat word om by enige badkamer te mag ingaan.


Hierdie program word reeds by sommige skole in 16 state toegepas.


Toe ouers in Kalifornië gevra het dat hul kinders van die geslagsopvoedingsklas verskoon moet word, is die saak hof toe gesleep en verlede Desember het ‘n hooggeregshofregter in Alameda dit geweier en bepaal dat die “opt-out right” ondergeskik is aan die regte van lebiese, homoseksuele, biseksuele en transgender families.


Ook word voorstanders van hierdie program gewaarsku dat hulle teenstand gaan kry van mense wat sekere “waardes” huldig of “weens hul geloof” nie verdraagsaam gaan wees nie.


So ver het dit gekom.


En wie verdra miskien nie vir wie nie?


Daar is immers ‘n hemelsbreë verskil tussen om verdraagsaamheid te betoon (om iemand van wie jy verskil steeds met respek te behandel), en om te verkondig dat die homoseksuele lewensstyl moreel regverdigbaar en prysenswaardig is – en dit dan wetlik op ander af te dwing.


Dit is bitterlik LAAT in die dag.

Sunday, August 8, 2010

Soveel tale soos ek kan...

....soveel male is ek man, het Langenhoven gereken.

Wel, die volgende outjie is duidelik net een alleen.....


Monday, August 2, 2010

Lewer en lemoen…..sáám???

‘n Oú sêding, dié van vinkel en koljander, die een lyk nes die ander.


Maar almiskie.


Nie eens lyk nie, en nooit as te nimmer próé nie. Waarrempel nie lewer en lemoen nie. (Al wat dié twee in gemeen het, is die “l” en die “e”.)


Maar skoonma het dit der jare goed gedink om skoonsus (toe so twee jaar oud en gek na lemoen) te flous deur etenstyd elke keer as daar lewer-en-rys was, ‘n lepeltjie daarvan onder ‘n skyfie lemoen weg te steek en nes dié soet en sappige wiggie in arme skoonsussie se wagtende mondjie sou inglip, dan blitsvinnig die gehate vleisie eerste in te stoot.


En dan was dit sluk, sussie. Nee, nie eens te dinke aan uitspoeg nie. Selfs nie as skoonma jou eie bloedma was nie. Nee, selfs nie dan nie.


Vennoot het nou wel nie lemoen en lewer saam hoef in te gekry het nie, maar dit het hom ook nie liewer gemaak vir lewer nie. En so het dit gekom deur die tye saam, dat ons nie baie maal lewer geëet het nie. Ter wille van Vennoot, en soms ten koste van myse belustigheid daarvoor. Want ai, Oumoeder se lipafleklekker lewer met ‘n suursousie waarvan ek die resep oorgeneem het….ai, my mammie tog….


En toe vanaand maak ek ná verloop van seker vyf jaar se lewerloosheid, ‘n lekker skaaplewertjie van die plaas af gaar. Mooi gedokter met saggebraaide uie, soetrissie en sampioene. En room. Vir Vennoot se ontstehalwe.


Dog toe hy die reukie kry, toe stel hy so ewe ongeërg voor dat ons ‘n ou glasie rooiwyn daarmee saam geniet. (So asof hy die lewer gaan “geniet”. Gesien (of geproe) die omstandighede, miskien selfs nie eens die wyntjie geniet nie!)


Maar raai, toe so uit die bloute uit, is die ou sagte lewertjie jou waarlikstewaar vanaand vir my ook skielik nie meer so lekker nie. En dit het niks te doene gehad met die gebrek aan die veelgeliefde suursousie nie. Nee, dit was sommer net so.


Nou toe nou. Ek kan maar net dink dat ek die smaak daarvoor afgeleer het.


En vanaand vir die eerste keer, het ek geproe hoe lewer dalkies vir Vennoot moet smaak.


Darem sonder lemoen.


(Mooitjies nie my foto nie, maar dis sowaar lewer en lemoen bymekaar!!)