Wednesday, August 18, 2010

Kersie-present

Eergister kry ek onverwags ‘n Kersie-toekenning by Sonja se Sagte Landingsplek. (En waarlik, dit is verstommend hoedat die Vader ons twee se lewens so luglangs aan mekaar vasgeknoop het – net Hy kon dit doen!)


Toe sê sy allerhande mooi woorde ook nog daarby, wat my herinner aan die grappie van die man wat begrawe word aan die einde van ‘n vreeslike woeste en verwilderde lewe.


Maar o, by die graf lewer een van sy vrinne so‘n ophemelende afskeidsrede dat die oorledene se een seun vir die ander ene sê: “Kom ons loop, dis nie ons pa wat hier begrawe word nie!”


So laat Sonja se Kersie my toe dink aan vroeërjare, toe ek nog minder ernstig was met my wandel voor die Vader, en ek dikwels jaloerse en haatdraende gedagtes gekoester en (waarlik met opset!) nie mooi met mense gewerk nie. Maar dank God - Hy vergewe en Hy vergeet en stel mens in staat om al meer en meer soos Jesus te wil word, en dan gee Hy mens op onverwage maniere ‘n kans om te oefen -- so op die internet!
Oeps, daar vergeet ek toe dat ek saam met die kersie, werk gekry het.


Hmmm, drie dinge waarvan ek hou:


** Tuisgebakte brood met DIK botter waarin mens se tandmerke so sit as jy weglê



** Op die uitkyk wees om iemand (arme Vennoot!) te terg, sieluittrek, en dan volg die heerlike lekkerte van saamlag!





** Oëtoemaak om te luister na die geheimsinnige, koesterende geluid van die wind wat in die bome ritsel (lang jare terug by my oorlede Oumoeder geleer. Hoor haar nou nog sê: “Luister, luister dan nou net daar.”)

En o ja, vir wie om te bekroon met ‘n Kersie:

Thea – vir die lekkerkyk aan haar mooi foto’s so saam met die teedrink.


Miekie – vir die onopgesmuktheid en ons deelmaak van haar kosbare gesinsdinge.


Dané en C’tjie – maar hulle het nie kraaltjies nie, dus kry hulle dit, vir die gereelde inloer!


(Maar weet net, almal van julle wat hier kom kuier is goed vir my hart!!)

5 comments:

Dané said...

Ag, Mariki, ek is nie ene vir skryf nie, maar lees en loer lekker hier by jou, vriendin!
Dankie.

Thea said...

Dankie vir my kersie Mariki!

Mmmm... al drie die dinge waarvan jy hou is goed waarvan ek ook baie hou. Jy sal maak dat ek my luiheid laat staan en sommer nog hierdie einste naweek 'n brood bak. Saam met so 'n dik bottertjie hou ek natuurlik ook van so 'n lekker taai perskekonfyt! Hehehe... dis hoekom ek lyk soos ek lyk!!

Die liefie weet ook al as my dimpeltjie so diep induik en my ogies begin blink is hy in vir 'n ding!

En natuurlik die wind... salig!! Die Augustuswinde waai hoeka hier so lekker vandag!

Sonja said...

Hahahha!! Ek hou van die grappie en die Mona Lisa!

Anonymous said...

Txs, maaterkie. I luv visiting. Ek smile vir die great Mona Lisa pic.

O en hoe kan ek nou van my ouma se brood en botter op die plaas onthou ook.

mariki said...

Dankie, D.

Thea -- perskekonfyt,,,,wat praat jy tog.
"Die liefie weet ook al as my dimpeltjie so diep induik en my ogies begin blink is hy in vir 'n ding!" Ha-ha-ha!

Ja Sonnerkie, daai Lisatjie glimlag alte oulik, né!

C'tjie, ek geniet jou inloer altyd.