Thursday, July 16, 2009

'n Mirakel van 'n museum (2)

J Paul Getty het Franse meubels bymekaar gemaak – en ook nou nie sommer so nie.

Want wie sou kon dink dat Lodewyk XIV (regeer 1643 – 1715), se tapisserieë hier in Los Angeles sou beland? Wel, die ou Sonkoning moes uithang vir de vale (of is dit dalk uithang vir de pure purper), want Frankryk was in daardie jare die magtigste Europese land. Die ge-uithangery was dus ook politieke speletjies om ander lande te beïndruk.

Aan die Franse hof het dit geskitter en geblink van goud en silwer en marmer en alles baie formeel. (Wanneer ek geskiedkundige flieks van daardie tyd sien, gril ek my lam vir die oordadige tierlantyntjies, pruike en sieklik-oppervlakkige lewensstyl.)

‘n Koffer (jou waarlik “coffer” genoem) op ‘n staander, bedoel vir juwele of klein, kosbare besittings. (Ek sal tevrede wees met ‘n leë koffertjie ook, dankie!) Dis gemaak van eike-, sipres- en okkerneuthout, versier met koper, horing, pewter en skilpaddop. Waarskynlik die eiendom van een van Lodewyk XIV se seuns.

Die klein houtstukkies wat die blomme op hierdie tafelblad vorm, is vooraf met warm sand geskroei om die merkwaardige kleurnuanses te kry. Kreatief!

‘n Unieke skryftafel wat aan beide kante kan oopklap. Was die eiendom van ‘n ryk edelman wat tydens die Franse Revolusie op die guillotine gesterf het.

Hierdie indrukwekkende horlosie (1747) wys mens net oor watter verstommende kennis die Franse sterrekundiges al hier in die middel-sewentienhonderds beskik het. Daar is ‘n hoofwyserplaat, bestaande uit drie klein wyserplaatjies: die eerste ene dui die tyd van die dag aan; die tweede wys watter maand van die jaar dit is en gee sy sterreteken, en wys boonop die tydsverloop van die maanmaande aan, terwyl die derde wyserplaatjie mens op die hoogte bring van plaaslike tyd in verskillende stede dwarsoor die wêreld.

In die boonste glasvenstertjie is daar vier wyserplaatjies. Op die een kry mens die fases van die maan; op die tweede ene die hoogwatertye aan die noordkus van Frankryk; nommer drie vertel jou watter dag dit vandag is en die laaste een lig jou in aangaande die
verduistering van Io, ‘n maan van Jupiter!

As die kersstaander so groot is, hoe groot was die kers?!

Hierdie fyn tafeltjie het gestaan in die huis in die tuin van Versailles, wat Lodewyk XIV vir sy houvrou Madame De Montespan, laat bou het. Sy was een van sowat 5 of 6 byvrouens wat die koning oor die jare heen aangehou het, en hy het sewe kinders by haar gehad (dis meer as by sy wettige vrou. En dan dink ons vandag se politici gaan erg te kere....)

‘n Potpourri-houer. Welriekende blomknoppe, speserye en parfuum is gedurende die 1700’s op rojale wyse as lugverfrissers in Europa gebruik. Destyds het persoonlike higiëne, selfs onder die hoëlui, nie ingesluit dat mens gereeld gebad het nie.

Dit mag alles nou regtig baie kosbaar wees, maar niemand sal my oortuig dat 'n paleis 'n gesellige woonplek is nie.


Hier systoele was onder die 64 wat Marie Antoinette in 1786 vir haar ontspannings- en kaartspeelvertrekke bestel het, en dit, terwyl die derduidende armes in Frankryk aan’t sterwe was van ellende. Kan mens glo dat sy eendag verbluf gevra het: “Waarom haat die volk my so? Watter skade het ek hulle dan ooit aangedoen?”

Watter verstommende houtkerfwerk op hierdie muurpaneel uit die Franse paleis! En om te dink ou wêreldgrotes het dit ook bekyk (of miskien glad nie eens raakgesien nie,)

10 comments:

Desia said...

"Grand" verby!

Dané said...

Baie interessant, Mariki. Ek hou van die geskiedkundige stukkies inligting so tussendeur.

Baie dankie.

Jan and Miekie said...

Absoluut verstommend! Soveel weelde! Het die goed in die V.S.A. beland toe Frankryk die Amerikaanse revolusie ondersteun het? Of later? Wonder maar. Het jy die fliek "Marie Antoinette" gesien? Ook maar 'n goor lewe gehad. Sopas na "Nicholas en Alexandra" gekyk - kan nie glo hoe uit voeling die koninklikes met die volk kon wees nie! 'n Mens wonder hoe anders die wereld daar uit sou sien as gekke soos Louis XIV en Nicholas 1 nooit aan bewind was nie! (Hulle was die regte varke in die feeverhaal en hulle dom nageslagte moes toe maar met hulle lewens boet.)

mariki said...

Reg Desia, "grand." Maar hoe seg die ou spreekwoord nou weer oor die manier waarop hierdie mense geleef het: bo blink, en onder stink.

Ag, ek geniet dit om op te lees en te deel, Dané. Dankie vir die saamlees.

mariki said...

Miekie, so met verloop van tyd is van die goed deur die nageslagte verkoop, of tydens die rewolusie gewelddadig gestroop
en later het dit in die hande van gretige handelaars beland. Getty het dus hierdie meubels by antieke handelaars gekoop. (Kan jy dink wat het hy betaal?!)

mariki said...

O ja, Miekie, ek stem so saam oor genoemde twee otters, maar moenie glo meeste van vandag se "leiers" se harte is skoner en meer liefderyk nie...die kokon van voorgee word slegs meer suksesvol geweef...

Moet nog die flieks sien. Vennoot is juis Saterdag nie hier nie!

Charmaine said...

Hallo Mariki, Ek het nou die dag met dieselfde gedagtes na Marie Antoinette gekyk. Die verveligste lewe van nie weet waarop om al die geld te spandeer terwyl die volk van elende vergaan .... en hulle leef heerlik in lala land. Maar sy was bitter jonk toe sy saam met haar ewe jong Louis moes regeer... sonder enige opleiding. Ons aardse konings met hulle klei voete..

mariki said...

Jy is absoluut reg, Charmaine. WAT het daardie koningskinders geweet van die ware lewe en norme en waardes. MAAR...nou oordeel ons Here niemand onregverdiglik nie en daar was Bybels beskikbaar; sodat niemand kan sê "ek het nie geweet nie", né. Maar dat dit vir hulle soveel moeiliker was/is om die Waarheid te vind, daarmee stem ek
100% saam.

Thea said...

Lyk omtrent soos die Paleis van Versailles!! Nee ek stem, Mariki, oordadig is dit beslis en definitief kon dit nie huislik wees nie. Maar as jy na die detail van die meubelstukke kyk is dit ongelooflik! Alles is vandag mos maar massaproduksie.

mariki said...

Thea, hier praat jy nou 'n waar woord. En DIS wat my so opgewonde gehad het by die Getty -- die skeppingsvermoë wat God aan die mens skenk om soveel mooi te kan tevoorskyn bring. (Nes wat ek gister daar by jou kraaltjie gesê het!)