Monday, July 13, 2009

'n Mirakel van 'n museum (1)

Nou wel, as ‘n stad jou 90 teaters en meer as driehonderd museums bied, en jy oor net ‘n driekwartdag beskik – WAT doen jy? Dit was die besluit wat ons so ‘n week of drie gelede in Los Angeles moes neem.

Ooee, dankie toggie, ons het besluit om die Getty Museum te gaan bekyk. Feeste!

Ek is geen befaamde kunskenner nie, maar wanneer mens die voorreg het om soveel estetiese perfeksie en grootse kuns te geniet, dan is daar net een woord: verheffend!!

Die Getty-storie is ‘n lang en fassinerende ene (mense en hul dinge, die hoekom hulle is soos hulle is en doen wat hulle doen, lok my soos ‘n mot wat al na die lig toe dwing). Maar ek gaan nie die storie hier uitryg nie.

Genoeg om te sê John Paul Getty (1892 - 1976), was ‘n oliemagnaat en een van die rykste mense van sy tyd en baie min mense weet presies watter bedrag geld hy nagelaat het – iets tussen 2 en 4 biljoen dollertjies….

Was ‘n kunsversamelaar (meer bereid om geld dáárop, as op sy kinders uit te gee. Ses seuns by vyf vrouens gehad – dis nou binne die huwelik -- 2 van hulle reeds voor hom oorlede.) Uiters ongelukkige familiegeskiedenis – geld is mos nou ook nie enigeen se maat nie en, soos ons weet, het dit al tallose vingers verbrand en derduisende lewens verwoes.

Met Getty se sterwe laat hy ‘n trustfonds na vir die bewaring van sy kunsskatte en in 1984 word die argitek Richard Meier gekies om ‘n museum te bou…..met ‘n onbegrensde begroting….is dit nou nie die wonderlikste ding vir so ‘n ou om te hoor nie?!

Beplan en bou 13 jaar lank (hy kon maar, as mens sien wat die man reggekry het), totdat die Getty Kunstesentrum in 1997 in die Santa Monica-heuwels naby Beverley Hills, sy deure oopmaak.

Mens betaal net $10 vir ‘n plekkie in die parkeergarage (sewe ondergrondse vloere met 1 200 parkeerplekke), verder het jy vrye toegang tot die fantastiese gronde en tot die fenominale kunsversameling van skilderye, beeldhouwerke, foto’s, tekeninge, Middeleeuse manuskripte, meubels en noem maar op.

Die kompleks uit die lug uit:

Al op die ruglyn van die Santa Monica-heuwels.

Die loop-, sit en eetareas is alles buitekant en elke keer dat mens na die volgende uitstalling in die langsaanste gebou gaan, moet jy eers na buite met trappe of 'n op wandelterras langs, en kry dan grootse uitsigte oor die heuwels en die stad.



Daar was nog min kere in my lewe dat ek gevoel het dat die argitektuur van ‘n gebou(e) ‘n durende herinnering help skep het, maar hierdie sentrum is ‘n kunsskat op sigself! Die gekapte klip (uit Italië), die vloeiende lyn van die geboue op die rug van die heuwels, die spel van lig en skadu, die gebruik van verskillende vlakke, van water….ag noem maar op, dit was ‘n onuitwisbare vreugdeavontuur.




Nee, nie 'n skildery nie; 'n kunswerk in die tuin. Bied die bome nie perfekte simmetrie nie? (Kan simmetrie onperfek wees?!)



Die sentrale tuin:



7 comments:

Thea said...

Sjoe, dit moes omtrent 'n kopkrappery gewees het om uit so 'n groot keuse van teaters en museums te besluit watter een om te besoek Mariki!!

Indrukwekkende gebou en uitsigte!! Synde ek nou so graag biografieë lees gaan ek bietjie uitkyk vir 'n boek oor Getty se lewe.

Oom Petrus said...

Hallo Mariki,
Dit is magnefiek.

Desia said...

Fantasties, dankie vir die foto-toer!

Dané said...

Dit lyk wonderlik, mariki. Het al gehoor van dié plek en hoop ek kan dit miskien self eendag besoek.

mariki said...

Aah, Thea, Getty se outobiografie is "As I see it." Weet nie of daar biografie(ë) is nie, hy was so 'n moeilike oom dat ek nie dink iemand kon naby genoeg kom om iets by hom self uit te vind nie.

mariki said...

Bly jy dink ook so, OomP!

Ag, dis lekker as jy die toertjie geniet het, Desia.

Dané, probeer jou bes om daar uit te kom.

Jan and Miekie said...

Wat 'n interessante plek! Dankie vir die fotos.