Friday, January 30, 2009

Ysstorm!

Donderdag op Vrydagnag het ‘n erge winterstorm dele van Kentucky en Ohio in sy greep gekry. Dit het erg gereën, maar iets was anders: sodra die druppels geval het, het hulle gevries.

Teen sonop was alles met verskeie sentimeters helder ys bedek.

Vriesreën kan enige tyd gedurende ‘n winterstorm in oostelike Noord-Amerika voorkom. Maar wanneer die vriesreën voortduur en ys versamel, word dit as ‘n ysstorm geklassifiseer.

Dis dan wanneer paaie in ysskaatsbane verander, ernstige kragonderbrekings kom voor en ontwortelde bome en afgeskeurde takke veroorsaak padversperrings.

Ses jaar gelede het ons so ‘n storm beleef. Dit was kosmaak op die kampstofies, ja, pannekoek bak ook; saans met kerslig bed toe gaan en heeldag (met ‘n kombers agter die rug!), voor die kaggel sit. Vennoot kon vir twee dae nie by die werk, of die kinders by die universiteit uitkom nie -- raai wie het gedink dis vet pret...

Groot dele was vir agt dae sonder krag; bejaardes en hulpbehoewendes het regtig gely; in afgeleë dele is mense in ongelukke dood en noodvoertuie kon nie deurkom nie, so dit was maar redelike chaos (soos tans weer).

Maar soos met ‘n sneeustorm, is daar oomblikke wat mens se asem eenvoudig wegslaan omrede van die prag van wat jy sien!








Wednesday, January 28, 2009

Saamslaap en warm kry

Vennoot en ek is in die diep waters: ons sukkel met ‘n skei-ding. En dit is regtig nie ‘n lekker ding nie, in kringe redeneer bring jou net mooi nêrens nie en buitendien maak dit jou tong lam en jou kop suf.

Hierdie ding kom al van ver af; partymaal gaan die wind lê, maar soos die seisoene kom en gaan, steek dit sommer weer stormsterk op.

Sien, die kwessie van wegslaap van mekaar af, is nou maar eenmaal nie vir hom nie. “Trou is trou, en dit bring bymekaarslaap.” Dis die man se amper onwrikbare standpunt deur die jare heen. Hy slaap dan glo danig onrustig as ek nie my kant van die dubbelbed opeis nie, kry koud in die winter en voel sommer in die somer ook so in sy slaap aan daar is iewers groot fout.

Nou is dit nie my gewoonte om Vennoot te wil ontstig nie – daarvoor is hy ‘n alte wonderlike mens en ná baie jare se getroudwees nog steeds my-alles-hier-op-aarde, behalwe as dit by altyd-saamslaap kom, veral nou met dié dat die Australiese Ope Tennis aan die gang is. Ek bedoel, dis mos nie my skuld dat die wêreld rond is en die son op ander tye oor die kangaroos op- of ondergaan as hier by ons, en dat die tenniswedstryde soms in die middel van ons donkere nagte plaasvind nie –- almal behalwe die Amerikaners weet tog dat Amerika nie alles na húlle se wil kan skik en rig nie?

So kom dit dan dat ek nou tot Vennoot se groot ongelukkigheid al ‘n paar nagte op die rusbank in die gesinskamer nesskop met die wekker onder die kussing, sodat dié my op die onmoontlikste uur kan wakkerskel om die kookwatertennis in Melbourne te kan volg.

Kookwater tennis en kookwatertemperature, want dis asof die son dooierus gevat het op suidoos Australië; die hittegolf wat die kwik die afgelope paar dae hier by die 40ºC laat draal en selfs tot by 45ºC opjaag, kan moontlik die ergste sedert 1908 word. Daar word gevrees dat bosbrande kan ontstaan as gevolg van die uitmergelende droogtes wat die land die afgelope paar jaar geteister het.

Kartering van Australië se hittegolf van 2004

Nooddienste het inwoners van die staat Victoria gewaarsku om noodplanne gereed te hê indien hulle sou moes vlug vir bosbrande en ‘n vrywilligermag van 100 000 brandslaners is op die been gebring.

In Melbourne het treinspore begin buig as gevolg van die hitte en minstens 2 mense is Woensdag van hitte-uitputting dood; die een ‘n 75-jarige man wat 500m ver na sy motor toe geloop het en die ander ‘n 24-jarige persoon wat by ‘n tremhalte getaan en wag het.

Laat my dink aan lang jare terug op Prieska (oppad êrens heen) toe ek by die kruidenierswinkel uitkom en my tromp-op loop teen ‘n wildvreemde vrou wat voor my vassteek met die woorde: “My héénetjie tog, Mevrou, assit nou al hie-onne oppie aar’e soe warm is, hoe kommit lat mê-se hille nie wil bekee' yt banggeit virrie hel nie?!”

Nee, ek weet okkie.

Monday, January 26, 2009

Joey se Olimpiese Spele

Interessant genoeg lees ek toe net vanoggend hierdie kosbare vertelling oor die Spesiale Olimpiese Spele:

Een naweek was ek ‘n vrywilliger by ons kerkgroep wat sou help om ‘n sagtebalspan vir die Spesiale Olimpiese Spele af te rig. Ons het die spelers aangemoedig, “high-fives’ en drukkies uitgedeel. My span was besig om sleg te verloor en ek het begin planne maak om hulle agterna met allerhande flou verskonings te troos, soos onder andere “toemaar, môre is nog ‘n dag.”

Algou kom een van my spelers uitasem aangehardloop: “Twish (vir Trish), raai wat? Raai net wat?! Toe, raai!”

“Wat, Joey?” vra ek en sit my arm om hom sodat hy sal ophou bokspring en ek kan verstaan wat hy sê.

“Ons het TWEEDE gekom!” skree hy, terwyl hy ‘n uitbundige oorwinningsdans uitvoer. Sy hele lyf was die ene opwinding, en sy arms het lomp en los heen-en-weer geswaai soos hy hom verlustig in ‘n goed-afgehandelde taak.

“Dit beteken ons het die silwer medalje gewen!”

Dit het nooit tot hom deurgedring dat die tweede plek, met net twee spanne wat deelneem, laaste is nie.

Nee, daar was geen verloorders in Joey se Olimpiese Spele nie.

Die ryk man, die kameel en die naald se oog

Dat ouers kinders mishandel, gebeur (hoe aaklig ook al) daagliks in ons samelewing, maar Rosemary se verhaal ruk mens tot stilstand.

Sy was mooi -- party mense sê mooier as al haar susters -- sy het graag gedans en in haar dagboek geskryf, maar sy was nie naasteby op die vlak van haar hoogsbegaafde broers en susters nie. Bowendien het sy in haar tienerjare baie weerbarstig en ongehoorsaam geraak en onbeheerbare woede-uitbarstings begin kry – en DIT sou nie deug in ‘n gesin waar die broers (en die pa) hul oog op die Amerikaanse presidentskap gehad het nie.

Sy was Rosemary Kennedy, en sou lewenslank ‘n verskriklike prys vir hierdie omstandighede betaal. Rosemary en haar ma in 1938

Rosemary is ‘n jaar ná pres. J.F. Kennedy gebore en het van kleins af blykbaar ‘n probleem gehad, wat in daardie jare nie vasgepen kon word nie – ook omdat die familie nie daaroor gepraat het of hulp gesoek het nie nie. Waarom ook – die gesin was mos “perfek”: skatryk, hoogsbegaafd, baie bekend.

Die patriarg, Joe, het sy fortuin hoofsaaklik met onwettige drankhandel gemaak en het sy pos as diplomaat aan die Britse hof “verdien” deur geldelike ondersteuning aan Amerikaanse politici van sy tyd. En hy was grensloos ambisieus vir sy kinders (en homself); afgesien van die feit dat hy openlik sy vrou verkul en sy seuns geleer het dat ‘n vrou bloot daar is om ‘n man te plesier.

Toe “Rosie”, soos haar gesin en vriende haar genoem het, dus probleemgedrag begin openbaar, moes iemand iets doen. Joe kon “verloorders” nie hanteer nie en het ‘n doktersvriend geraadpleeg wat ‘n frontale lobotomie aanbeveel het om die emosionele probleme hok te slaan. Sonder sy vrou se toestemming of medewete (sy was met vakansie) en in die geheim het Joe die niksvermoedende Rosemary, toe 23, vir die operasie geneem.

Rosemary, sowat anderhalfjaar voor die operasie wat haar lewe sou verwoes

Dr. Watts, wat die operasie onder toesig van dr. Walter Freeman gedoen het, het slegs een maal oor daardie gebeure in die herfs van 1941 gepraat, toe hy die vogende vertel het: “Nadat Rosemary onder ligte verdowing geplaas is, het ons deur die skedel gegaan en aan beide kante van die brein ‘n klein snit gemaak. Walter het aan Rosemary vrae gevra, soos om die Onse Vader op te sê, agteruit te tel of “God Bless America” te sing. Op grond van haar reaksies het hy my aangesê hoe om verder te sny. Toe sy begin deurmekaar raak, het ons opgehou.”

Dit was egter hopeloos te laat: Rosemary het sekere liggaamsfunksies verloor, kon vir die res van haar lewe net brabbelgeluide maak en het ure lank onbegrypend voor haar uitgestaar.

En om dinge toe te smeer, is aan die wêreld vertel dat Rosemary Kennedy by ‘n afgeleë skool onderrig gee aan gestremde kinders. Vir Rose het Joe verbied om ooit haar kind te mag besoek. Laterjare is die leuen verkondig dat Rosemary ligtelike verstandelike gestremdheid vertoon het.

Janet Des Rosiers Fontaine, Joe se sekretaresse en jarelange houvrou, het getuig dat Rosemary doodgeswyg is in die gesin. “Haar naam is net nooit genoem nie. Ek het bloot van haar bestaan geweet omdat ek haar op gesinsfoto’s op die solder gesien het.”

Maar nog was dit het einde niet van hierdie bedrogspul. Vandag staan Eunice Schriver, jonger suster van Rosemary, bekend as die wonderlike persoon wat die Olimpiese Spele vir Gestremdes tot stand laat kom het ter ere van Rosemary. (Die Kennedy’s het natuurlik groot finansiële bydraes hiervoor gemaak…)

Die waarheid oor hierdie een? Die oorspronklike idee was die breinkind van ‘n sportonderwyser in Chicago wat met fisiek gestremde leerlinge gewerk het. Nadat hy reeds verskeie vergaderings met belangstellendes oor die onderwerp gehou het, is sy idee deur die Kennedy-familie gekaap.

Maar wat was Rosie Kennedy se probleem -- die rede vir die verwerping deur haar pa, en later die res van haar beroemde en veelbewonderde gesin? Kundiges reken dit was waarskynlik disleksie wat in haar puberteit tot depressie gelei en later vererger het.

Wat ‘n prys moes sy daarvoor betaal. Sy, wat op 16 kinderlik openhartig aan haar pa geskryf het: “Ek sal enigiets doen om Pa gelukkig te maak. Ek haat dit om Pa op enige manier teleur te stel."

Sy is op 7 Januarie 2005 op 86-jarige ouderdom oorlede – die vyfde van die Kennedy-kinders om te sterf, maar -- ironies genoeg -- die eerste een wat op ‘n natuurlike wyse die tydelike met die ewige verwissel het.

Friday, January 23, 2009

Orycteropus afer, jou snaakse dier

En toe bring die ooievaar ‘n…klein aardvarkie.

Amani (Swahili vir 'vrede') is teen hierdie tyd al anderhalf maand oud en vorder glo goed in sy kamp in die Detroitse Dieretuin.

Mensig! Skoon mooi van lelikgeit is hierdie klein aard-/erdvark, wie se voorvaders oorspronklik so genoem is deur die Hollandse setlaars aan die Kaap omdat hulle gedink het die ou langsnoete lyk nogal na ‘n plaasvark.

Maar moenie daardie fout maak nie, daar is geen familiebande nie, ook nie met die Suid-Amerikaanse miervreter nie, maar wel met… oom olifant!

As die enigste oorlewende lid van die soogdierorde Tubulidentata (buistandiges) is die aardvark geneties gesproke ‘n lewende fossiel (hmm…MOET dus familie wees van ‘n paar van my onderwysers destyds van jare…hoewel ek natuurlik geen idee van hul tandformasie gehad het nie…)

Hy is enkellid van hierdie orde omrede van sy spesiale tande, wat instede van ‘n tandholte met bloedvaatjies, senuwees en ‘n wortelkanaal te hê, ‘n menigte klein dentienkanaaltjies vertoon. En as klein erdvarkies in die geselskap van die ou grotes sou kon tande tel, sal hulle by 20 uitkom – geen voorstes nie. Die tande het nie emalje nie en word gebruik om die rysmiere en termiete wat gevreet is, te vergruis voordat hulle afgesluk word. En BAIE daarvan: glo tot soveel as 50 000 insekte word snags deur hierdie ou kleurblinde met sy lang, taai tong opgeslurp. (Ag, asseblief, vertel my tog hoe doen wetenskaplikes sulke gedetailleerde eksperimente?!)

Sy enigste ander kos? Soms muise, maar veral ‘n wilde komkommer, die sogenaamde "erdvark-komkommer", blykbaar as 'n bron van water.

En met daai kragtige kloue grou hierdie menere gate van 2 tot 3 meter of selfs dieper -- in sagte grond glo selfs vinniger as 'n aantal mense met grawe dit sou doen. (Dit verwonder my nie, ek het in my lewe darem al baie padmakers op grawe sien leun…) Bygesê, daai ouens se oorskulpe het nie nodig om terug te vou ter beskerming, soos die Orycteropus afer (inheems aan Afrika) s’n, om in die tonnels die sand uit die oorkanaal te hou nie.

Die familie aardvark is in Engelsprekende lande heel bekend, al is dit ook net omdat hulle in ‘n Engelse woordeboek gewoonlik onder die eerste vyf inskrywings tel.

Nou wel nie beeldskoon hierdie ene nie, maar besonders. Wys jou net, moet nooit op die baadjie of die vel – harig of te nie – takseer nie.