Dat ouers kinders mishandel, gebeur (hoe aaklig ook al) daagliks in ons samelewing, maar Rosemary se verhaal ruk mens tot stilstand.
Sy was mooi -- party mense sê mooier as al haar susters -- sy het graag gedans en in haar dagboek geskryf, maar sy was nie naasteby op die vlak van haar hoogsbegaafde broers en susters nie. Bowendien het sy in haar tienerjare baie weerbarstig en ongehoorsaam geraak en onbeheerbare woede-uitbarstings begin kry – en DIT sou nie deug in ‘n gesin waar die broers (en die pa) hul oog op die Amerikaanse presidentskap gehad het nie.
Sy was Rosemary Kennedy, en sou lewenslank ‘n verskriklike prys vir hierdie omstandighede betaal. Rosemary en haar ma in 1938
Rosemary is ‘n jaar ná pres. J.F. Kennedy gebore en het van kleins af blykbaar ‘n probleem gehad, wat in daardie jare nie vasgepen kon word nie – ook omdat die familie nie daaroor gepraat het of hulp gesoek het nie nie. Waarom ook – die gesin was mos “perfek”: skatryk, hoogsbegaafd, baie bekend.
Die patriarg, Joe, het sy fortuin hoofsaaklik met onwettige drankhandel gemaak en het sy pos as diplomaat aan die Britse hof “verdien” deur geldelike ondersteuning aan Amerikaanse politici van sy tyd. En hy was grensloos ambisieus vir sy kinders (en homself); afgesien van die feit dat hy openlik sy vrou verkul en sy seuns geleer het dat ‘n vrou bloot daar is om ‘n man te plesier.
Toe “Rosie”, soos haar gesin en vriende haar genoem het, dus probleemgedrag begin openbaar, moes iemand iets doen. Joe kon “verloorders” nie hanteer nie en het ‘n doktersvriend geraadpleeg wat ‘n frontale lobotomie aanbeveel het om die emosionele probleme hok te slaan. Sonder sy vrou se toestemming of medewete (sy was met vakansie) en in die geheim het Joe die niksvermoedende Rosemary, toe 23, vir die operasie geneem.
Rosemary, sowat anderhalfjaar voor die operasie wat haar lewe sou verwoes
Dr. Watts, wat die operasie onder toesig van dr. Walter Freeman gedoen het, het slegs een maal oor daardie gebeure in die herfs van 1941 gepraat, toe hy die vogende vertel het: “Nadat Rosemary onder ligte verdowing geplaas is, het ons deur die skedel gegaan en aan beide kante van die brein ‘n klein snit gemaak. Walter het aan Rosemary vrae gevra, soos om die Onse Vader op te sê, agteruit te tel of “God Bless America” te sing. Op grond van haar reaksies het hy my aangesê hoe om verder te sny. Toe sy begin deurmekaar raak, het ons opgehou.”
Dit was egter hopeloos te laat: Rosemary het sekere liggaamsfunksies verloor, kon vir die res van haar lewe net brabbelgeluide maak en het ure lank onbegrypend voor haar uitgestaar.
En om dinge toe te smeer, is aan die wêreld vertel dat Rosemary Kennedy by ‘n afgeleë skool onderrig gee aan gestremde kinders. Vir Rose het Joe verbied om ooit haar kind te mag besoek. Laterjare is die leuen verkondig dat Rosemary ligtelike verstandelike gestremdheid vertoon het.
Janet Des Rosiers Fontaine, Joe se sekretaresse en jarelange houvrou, het getuig dat Rosemary doodgeswyg is in die gesin. “Haar naam is net nooit genoem nie. Ek het bloot van haar bestaan geweet omdat ek haar op gesinsfoto’s op die solder gesien het.”
Maar nog was dit het einde niet van hierdie bedrogspul. Vandag staan Eunice Schriver, jonger suster van Rosemary, bekend as die wonderlike persoon wat die Olimpiese Spele vir Gestremdes tot stand laat kom het ter ere van Rosemary. (Die Kennedy’s het natuurlik groot finansiële bydraes hiervoor gemaak…)
Die waarheid oor hierdie een? Die oorspronklike idee was die breinkind van ‘n sportonderwyser in Chicago wat met fisiek gestremde leerlinge gewerk het. Nadat hy reeds verskeie vergaderings met belangstellendes oor die onderwerp gehou het, is sy idee deur die Kennedy-familie gekaap.
Maar wat was Rosie Kennedy se probleem -- die rede vir die verwerping deur haar pa, en later die res van haar beroemde en veelbewonderde gesin? Kundiges reken dit was waarskynlik disleksie wat in haar puberteit tot depressie gelei en later vererger het.
Wat ‘n prys moes sy daarvoor betaal. Sy, wat op 16 kinderlik openhartig aan haar pa geskryf het: “Ek sal enigiets doen om Pa gelukkig te maak. Ek haat dit om Pa op enige manier teleur te stel."
Sy is op 7 Januarie 2005 op 86-jarige ouderdom oorlede – die vyfde van die Kennedy-kinders om te sterf, maar -- ironies genoeg -- die eerste een wat op ‘n natuurlike wyse die tydelike met die ewige verwissel het.
8 comments:
Hallo Mariki,
Tragiese verhaal eintlik. Hierdie sal nie ongestraf gelaat word nie....eendag
Aaklige storie.
Ek is nie baie hot met Amerika se royalty nie, maar laat ek net my bearings regkry. Eunice se dogter is met Arnold Sterkarms getroud? Toevallig het ek haar eenkeer op Oprah gesien, en toe is haar ma besing vir die werk wat sy doen vir gestremdes.
Al die stories. Geld stryk die plooie mooi glad uit. :-)
O Mariki, is dit nie allerverskrikliks nie! Wat het hulle besiel? Hoe kon hulle met hulle gewete saamleef en so 'n front aan die mensdom voorhou? Hulle moes baie, baie ongelukkige mense gewees het! Jou opskrif is baie vanpas.
Wat 'n aangrypende verhaal, en ek het dit nie eers geweet nie! Die Kennedy's het ook maar baie geheime in die kas gehad!
Dankie vir hierdie inskrywing Mariki, nou het ek iets geleer!
Ja, OomP, ja,
Heeltemal reg, Boendoes. "Sterkarms" - ha-ha-ha!!
Miekie, as mens na daardie familie (en baaaie van die sogenaamde "top" families in hierdie land) se geskiedenis kyk, kan jy nie GLO wat jy hoor en lees nie.
Ons almal het kasspoke, Muriel, maar om hulle bewustelik meer te maak...nee dankie.
wat n tagiese vehaal...
Nimsi
Mense kan vreeslike goed wees! Dis ongelooflik!
Tragies is dit voorwaar, Nimsie. En dat 'n mens so-iets aan JOU EIE KIND kan doen, Tersia!
Post a Comment