Friday, January 23, 2009

Orycteropus afer, jou snaakse dier

En toe bring die ooievaar ‘n…klein aardvarkie.

Amani (Swahili vir 'vrede') is teen hierdie tyd al anderhalf maand oud en vorder glo goed in sy kamp in die Detroitse Dieretuin.

Mensig! Skoon mooi van lelikgeit is hierdie klein aard-/erdvark, wie se voorvaders oorspronklik so genoem is deur die Hollandse setlaars aan die Kaap omdat hulle gedink het die ou langsnoete lyk nogal na ‘n plaasvark.

Maar moenie daardie fout maak nie, daar is geen familiebande nie, ook nie met die Suid-Amerikaanse miervreter nie, maar wel met… oom olifant!

As die enigste oorlewende lid van die soogdierorde Tubulidentata (buistandiges) is die aardvark geneties gesproke ‘n lewende fossiel (hmm…MOET dus familie wees van ‘n paar van my onderwysers destyds van jare…hoewel ek natuurlik geen idee van hul tandformasie gehad het nie…)

Hy is enkellid van hierdie orde omrede van sy spesiale tande, wat instede van ‘n tandholte met bloedvaatjies, senuwees en ‘n wortelkanaal te hê, ‘n menigte klein dentienkanaaltjies vertoon. En as klein erdvarkies in die geselskap van die ou grotes sou kon tande tel, sal hulle by 20 uitkom – geen voorstes nie. Die tande het nie emalje nie en word gebruik om die rysmiere en termiete wat gevreet is, te vergruis voordat hulle afgesluk word. En BAIE daarvan: glo tot soveel as 50 000 insekte word snags deur hierdie ou kleurblinde met sy lang, taai tong opgeslurp. (Ag, asseblief, vertel my tog hoe doen wetenskaplikes sulke gedetailleerde eksperimente?!)

Sy enigste ander kos? Soms muise, maar veral ‘n wilde komkommer, die sogenaamde "erdvark-komkommer", blykbaar as 'n bron van water.

En met daai kragtige kloue grou hierdie menere gate van 2 tot 3 meter of selfs dieper -- in sagte grond glo selfs vinniger as 'n aantal mense met grawe dit sou doen. (Dit verwonder my nie, ek het in my lewe darem al baie padmakers op grawe sien leun…) Bygesê, daai ouens se oorskulpe het nie nodig om terug te vou ter beskerming, soos die Orycteropus afer (inheems aan Afrika) s’n, om in die tonnels die sand uit die oorkanaal te hou nie.

Die familie aardvark is in Engelsprekende lande heel bekend, al is dit ook net omdat hulle in ‘n Engelse woordeboek gewoonlik onder die eerste vyf inskrywings tel.

Nou wel nie beeldskoon hierdie ene nie, maar besonders. Wys jou net, moet nooit op die baadjie of die vel – harig of te nie – takseer nie.

6 comments:

Sandra said...

Hy's mooi van lelikgeit

Nimsi se Blog said...

Hello mariki,
Ag wat n liederlike dierasietjie tog!
Tog snaaks dat alles altyd op "looks" beoordeel word ne!
Lekker week vir jou.
Nimsi

mariki said...

Nimsi -- jy sê dit.

Oom Petrus said...

Hallo Mariki,
Wonder of hy met voorkoms darem 'n Meneer..... prys sou gewen het

Muriel said...

En hier sien ek nog iets interessant, wat 'n pragtige lelike ou diertjie!!

Ek was nou bederf met lekker leesgoed op jou blog!

mariki said...

Hang af hoeveel van julle op die jurie was, OomP!

Ek geniet al hierdie wetenswaardighede netso, Wipneus.