Wednesday, January 28, 2009

Saamslaap en warm kry

Vennoot en ek is in die diep waters: ons sukkel met ‘n skei-ding. En dit is regtig nie ‘n lekker ding nie, in kringe redeneer bring jou net mooi nêrens nie en buitendien maak dit jou tong lam en jou kop suf.

Hierdie ding kom al van ver af; partymaal gaan die wind lê, maar soos die seisoene kom en gaan, steek dit sommer weer stormsterk op.

Sien, die kwessie van wegslaap van mekaar af, is nou maar eenmaal nie vir hom nie. “Trou is trou, en dit bring bymekaarslaap.” Dis die man se amper onwrikbare standpunt deur die jare heen. Hy slaap dan glo danig onrustig as ek nie my kant van die dubbelbed opeis nie, kry koud in die winter en voel sommer in die somer ook so in sy slaap aan daar is iewers groot fout.

Nou is dit nie my gewoonte om Vennoot te wil ontstig nie – daarvoor is hy ‘n alte wonderlike mens en ná baie jare se getroudwees nog steeds my-alles-hier-op-aarde, behalwe as dit by altyd-saamslaap kom, veral nou met dié dat die Australiese Ope Tennis aan die gang is. Ek bedoel, dis mos nie my skuld dat die wêreld rond is en die son op ander tye oor die kangaroos op- of ondergaan as hier by ons, en dat die tenniswedstryde soms in die middel van ons donkere nagte plaasvind nie –- almal behalwe die Amerikaners weet tog dat Amerika nie alles na húlle se wil kan skik en rig nie?

So kom dit dan dat ek nou tot Vennoot se groot ongelukkigheid al ‘n paar nagte op die rusbank in die gesinskamer nesskop met die wekker onder die kussing, sodat dié my op die onmoontlikste uur kan wakkerskel om die kookwatertennis in Melbourne te kan volg.

Kookwater tennis en kookwatertemperature, want dis asof die son dooierus gevat het op suidoos Australië; die hittegolf wat die kwik die afgelope paar dae hier by die 40ºC laat draal en selfs tot by 45ºC opjaag, kan moontlik die ergste sedert 1908 word. Daar word gevrees dat bosbrande kan ontstaan as gevolg van die uitmergelende droogtes wat die land die afgelope paar jaar geteister het.

Kartering van Australië se hittegolf van 2004

Nooddienste het inwoners van die staat Victoria gewaarsku om noodplanne gereed te hê indien hulle sou moes vlug vir bosbrande en ‘n vrywilligermag van 100 000 brandslaners is op die been gebring.

In Melbourne het treinspore begin buig as gevolg van die hitte en minstens 2 mense is Woensdag van hitte-uitputting dood; die een ‘n 75-jarige man wat 500m ver na sy motor toe geloop het en die ander ‘n 24-jarige persoon wat by ‘n tremhalte getaan en wag het.

Laat my dink aan lang jare terug op Prieska (oppad êrens heen) toe ek by die kruidenierswinkel uitkom en my tromp-op loop teen ‘n wildvreemde vrou wat voor my vassteek met die woorde: “My héénetjie tog, Mevrou, assit nou al hie-onne oppie aar’e soe warm is, hoe kommit lat mê-se hille nie wil bekee' yt banggeit virrie hel nie?!”

Nee, ek weet okkie.

6 comments:

Anonymous said...

Mariki, sal jy verstaan as Australie se ellende my nou nie juis pla nie? :-)

Ek het lekker gelag vir jou penarie met jou wederhelfte. Ek kan tot wie weet watter tyd wakker bly, my man gaan slaap met die voels. Natuurlik kan ek nie op in die oggende nie, terwyl hy weer douvoordag op is. Dis vir hom ook 'n groot bron van irritasie. Soms sal ek, net om hom gelukkig te hou, vroeg in die bed klim, maar ai, dis 'n marteling! Dit rol rond en dink dinge - en op die ou einde staan ek maar weer op.

Dus, jy het al my simpatie, maar ek het nie raad nie!

(Mans! Vreemde goed!)

Jan and Miekie said...

Dat die sport in Australie nou soveel "ongelukkigheid" veroorsaak in huwelike! Ek voel nogal soos jou vennoot - Jan moet maar hier agter my blad wees anders voel dinge nie reg nie! Maar soms word ek wakker en wonder waar op aarde...dan sit hy en kyk rugby in die vroee oggend-ure (middel van die nag voel dit vir my.) Gelukkig was die eendag krieketwedstryde darem in Australie in die aand gespeel en kon ons dit in die oggend in ons gewone wakkerwees kyk. (Ek het Tammy gou-gou van krieket geleer en so dan en wan kyk ons dit as deel van "skool"! Een van die voordele van "homeschooling"!)

Oom Petrus said...

Hallo Mariki, Ek stem saam met Vennoot, hierdie alleen slapery is nie lekker nie.As vroulief vir een of ander rede in die nag lank uit die bed is, dan skuif ek in my slaap al na haar kant toe. Ek is natuurlik in my slaap opsoek na haar.Teen die tyd dat sy terugkom, dan het ek nou al haar kant van die bed betrek.Dan moet sy my stoei vir haar kant.
Groete

mariki said...

Hmm, uit julle drie se antwoorde blyk dit duidelik hierdie is geen eenvoudige saak nie!

Mooi Juffrou Miekie, mens moet jou voordele met tuisskool benut.

Muriel said...

Mmmmm ek ken dit Mariki, my ou Teddiebeer soek ook sy vrou agter die blad *grin* En ek word eers in die aand wakker! whahaha

Oor die hitte kan ek sê dat Pretoria vir my die jaar warmer is as gewoonlik! Dink jy dis menopause ;)

Mooi bly

mariki said...

Wel, Wipneus, lyk my julle verskil met dag en nag...

Nee toemaar, ander jonges kla ook oor die hitte.