Friday, October 30, 2009

Ek verpes my (wyfie)neukenaar, en ander verhewe gedagtes

Grrr…..


En ja, ek weet “verpes” is ‘n sterk woord, en normaalweg probeer ek daardie soort aksie vermy, maar “normaalweg” is nie altyd van toepassing op die verhouding wat daar tussen my en hierdie masjien bestaan nie.


Inderwaarheid is dit hy wat my dryf tot REaksie = abnormaliteit = verpes (in hierdie geval).



Nou dat ek daaraan dink…. Ek kry mos nou al ‘n vermoede, gesien al die streke en geite van ou glasgesig, dat ek hier met ‘n wyfie-neukenaar te doene het (maar DIT, sal Vennoot oor MY lippe nooit hoor nie.)



Maar die ding wil hom….haar, net nie laat beheer nie. Nog altyd netjies saamgespeel, en toe, van so twee-drie possies gelede af, sukkel ek myself simpel met prentjies oplaai, en ook gooi sy ewe omgeêllie my paragrawe rond of sluk spasies in soos dit haar hoogheid behaag.



(Verskoon dus groot asseblief die nuwe, swak blogversorging wat ek -- magteloos -- in my skryfsels openbaar.)



Soms verpes ek my neukenaar….of verpes sy my dalk?


Wednesday, October 28, 2009

Mosaïektyd

So kom ek mos die laaste week agter iemande (sal nou nie name noem nie), het ons somer weggesleep...en ons sit met herfs hier buite.


O wel, elke hond kry seker sy dag. (Moet dus maar nie te skuldig voel nie.)


Toe dit laatmiddag bewolk en boonop koud raak, is ek met 'n spoed hier uit in die buurt in om herfskleure vas te vang. Latenstyd het dit selfs begin motreën, maar natword of te nôt, ek het my swaar weggedraai van die ryk én rype kleurespel.

"Winter is an etching, spring a watercolor, summer an oil painting and autumn a mosaic of them all."

~ Stanley Horowitz ~












Tuesday, October 27, 2009

Dit kan mos nie beter nie

Ek was die afgelope paar dae bietjie platgetrek deur ‘n rasegte boereverkoue.


Staan vanoggend in die kombuis toe Vennoot uit sy studeerkamer kom en sy arms om my kom sit en wil hoor hoe dit gaan.


“Baie beter, dankie.”


En so, in die bekende kring van sy arms en met my kop teen sy bors geleun, sê hy: “Dan is ek baie bly, my alte beste vrou.”


Ja, dit gaan goed met my; voorwaar, dit kan nie beter nie, my Hartsgenoot.

Sunday, October 25, 2009

Seënvra



Ek weet nie waar of wanneer ek die eerste keer hierdie skildery gesien het nie, ook nie eens of dit hier in Annerland of nog in Ouland was nie, maar ek onthou wel dat ek so getref was daardeur dat ek in my spore vasgesteek het.

En nou vertel ‘n vriendin dat ‘n vriendin van háár ‘n paar somers gelede ‘n afdruk van “Grace”, gekoop het by die einste klein fotografiese ateljee’tjie waar die foto destyds van jare in Bovey, Minnesota, geneem is!

In 1918 was die dorpsfotograaf Eric Enstrom.

Een goeie oggend het ‘n skoenskraper-smous by hom opgedaag en Enstrom was so getref deur die waardige ou verkoopsman se saghartige gesig, dat hy besluit het om ‘n foto van hom te neem vir ‘n portefeulje wat hy aan die saamstel was.

Enstrom wou naamlik ‘n foto neem om aan mense te wys dat selfs al leef hulle swaar weens die pas afgelope oorlog, hulle nog baie het om voor dankbaar te wees.

Hy het Charles Wilden gevra om by die tafeltjie met die enkele voorwerpe op, te gaan sit en ‘n gebedshouding in te neem.

“Meneer Wilden het dit so spontaan gedoen, dat mens kon sien dit is by hom ‘n gewoonte,” het die fotograaf later vertel.

Eric Enstrom het hierdie foto as sy heel beste ene beskou, uit al die duisendes wat hy in die 50 jaar van sy loopbaan geneem het, en wel omdat hy gevoel het dat hy die

opregte dankbaarheid wat van die ou heer uitgestraal het, in die foto kon vasvang.

Die foto is later deur ‘n olieverfskilder op doek vasgelê.

~~ Een oggend in 1918 was ‘n doodgewone man besig om sy doodgewone werk te doen en van deur tot deur te smous, toe hy ‘n ander doodgewone man ontmoet het, besig om sy doodgewone werk te doen – en die resultaat was uitsonderlik.

[In 2002 is hierdie foto as die amptelike staatsfoto van Minnesota verklaar. Natuurlik het dit skerp kritiek uitgelok (hoe dan nou nie!), maar een van Minnesota se senatore het op die wêreldbekendheid van die foto gewys, en genoem dat hy selfs ‘n brief van ‘n Amerikaanse soldaat ontvang het wat sodanige foto in ‘n woonplek in Afghanistan gesien het!)

Wednesday, October 21, 2009

Klein kleuter-feminis!

Omtrent drie maande gelede tydens ons weeklikse gesels, verbly van die ver kinders ons met die nuus oor ‘n nuwe aankomeling wat oppad is. Altyd welkom in hierdie familie!!

Vandeesweek kon hulle nie help nie, om op die sonar te sien dis ‘n klein blouvoetjie aan't kome, en besluit om dit met sussie (5) te deel.

Sy luister, bly so ‘n oomblik stil en laat hoor (beskuldigend?): “But he is not going to be as useful as a little girl.”

Daar het jy dit.