Thursday, June 10, 2010

Tot anderdag dan!

Gehaal het ek dit ampertjies nie, maar toe darem tog!


Die “gehaal” verwys na die vertrektyd vir ons vakansie.


Dis nou ampertjies twaalfuur en twintig oor drie gaan die wekker lui vir opstaantyd om lughawe toe te gaan.

Hmmm…..miskien moet ek sommer verder deurnag hou. Maar dan, jiggietjie nee, ek is poegaai. Sal maar gou gaan oë toemaak en dan verder slaap op die vliegtuig Frankfurt toe.


Dus sê ek vereers aan al my gewaardeerde kraaltjie-vriende: jammer ek het julle so afgeskeep die laaste tyd! Maar toemaar, Juliemaand is ek terug en dan kuier ons weer dik stukke.


Mooi loop, en ek vertrou die Here sal in Sy goeie guns ons almal weer veilig bymekaarbring.


Met waardering,

mariki

Sunday, June 6, 2010

Dronk donkie

Is amper oorstuur om alles gedoen te kry vir ons vakansiereis in Europa (weereens met totaal nederige dankbaarheid oor wat die Here vir ons moontlik gemaak het: om saam met ‘n familielid te kan gaan wat ons ondersteuning op die oomblik baie nodig het).

Maar voor Donderdagoggend vyfuur-se-vertrek, moet hondderduisend dingetjies in plek kom.

(Verskoning aan almal van julle by wie ek die afgelope 2 weke net nie my draai kon kom gooi nie, hoewel ek so graag wou.)

Deshalwe voel ek deesdae soos ‘n dronk donkie:

ek verstaan my take; ek skrik nie vir alles wat op my wag nie; ek is gesond en sterk genoeg om dit te doen – sover, die donkie-gedeelte.

Maar die dronk kom daarby in, omdat ek so vinnig in kringetjies rondhardloop om alles gedoen te kry wat op die oomblik op my bord geskep is, en so begin die wêreld rondom my tol…..

Monday, May 24, 2010

En die Here het verlos

“Ons kan nie genoeg dankiesê vir die gebede van God se kinders vir ons nie. Hy het gehoor, en ons uit gevangenskap verlos.”


Dit was die woorde van Maryam Rostampour and Marzieh Amirizadeh toe hulle hierdie naweek op ‘n buitelandse lughawe (naam geheim gehou) in die arms van geloofsgenote ingehardloop het, ná 14 maande van aanhouding in Iran.


Hulle is op 5 Maart 2009 in hegtenis geneem omrede van hul Christelike geloof en weens swak behandeling, eensame opsluiting en geen mediese versorging nie, het hulle erge gesondheidsprobleme ontwikkel. Hulle het egter nie geswik onder die aanhoudende druk en intimidasie om terug te keer tot Islam nie. Hulle getuig dat hulle herhaaldelik in die tronk wonderwerke gesien en die versterking van God ervaar het.


Soveel so, dat beide jong vroue in die hof waagmoedig aan die Islamietiese regter gesê het dat hulle nooit van hul geloof in Christus sal afsien nie.


Vandeesmaand is hulle teen alle verwagting in, op alle aanklagte vrygespreek, maar gewaarsku dat geen Christelike bedrywighede in die toekoms geduld sal word nie.


Toe hulle op die lughawe vertel is hoedat hul voorbeeld skares gelowiges regoor die wêreld heen versterk het, het hulle dadelik geantwoord: “Ons is bloot swakke mensekinders met baie tekortkominge. Die eer en die heerlikheid behoort aan God wat ons staande gehou en gebruik het. Waarom Hy ons gekies het, weet ons nie, maar die glorie is Syne.”


Hoewel hul toekoms onseker is, is hulle vasbeslote om ná ‘n tyd van herstel en die soek van God se wil, die vervolgde Iranese kerk te bedien.

~~~~~

Bid tog asseblief vir Maryam en Marzieh se spoedige en algehele herstel, asook vir die vervolgde christene in Iran.


Wednesday, May 19, 2010

Goed en kwaad


Om Alexander Solzhenitsin te parafraseer:

Die streep tussen goed en kwaad is nie getrek tussen Oos en Wes, tussen kommuniste en kapitaliste, tussen swart en wit, tussen infidels en Moslem, of tussen Christene en afgodsdienaars nie; nee, dit loop deur elke mensehart....

Monday, May 17, 2010

Briefie uit Bloem

Vrydagmiddag ry ek by die hek uit op pad winkel toe. ‘n Lang, skraal swartvrou stap stadig voor in die pad met ‘n volgelaaide plastieksak in die hand.

Op die ingewing van die oomblik hou ek stil en vra of sy wil saamry tot by die taxi-staanplek. Dankbaar klim sy in en slaak ‘n sug…haar mooi besnede gesig is strak. Kwellinge oor ‘n harde lewe?

Ná ‘n minuut of wat se stilte, vra ek haar of sy in Jesus Christus glo?

“Ja!” kom die antwoord.

Ons ry verder en toe haal sy ‘n verskrompelde plastieksakkie uit haar handsak, en uit die sakkie haal sy haar verrinneweerde Xhosa Bybel, absoluut opgelees!

Daar skiet ‘n pyn deur my binneste by die aanskoue van hierdie onbekende vrou se geloof waarvan sy toe getuig en vertel hoe sy altyd met die Here praat en hoe Hy haar help… sy het nie meer ‘n man nie, net haar kinders….

Toe kom dit asof van nêrens in my op: “Dan is ons mos susters in die geloof in Jesus Christus!”

‘n Ligte glimlag trek oor haar gelaat, sy praat in haar taal en beduie boontoe…wat sou sy kwytgeraak het?

Dit flits deur my om haar ‘n nuwe Bybel te gee, maar die vertroudheid waarmee sy hare vashou, spreek boekdele…

Diep getref!

Liefde,

Ousus