Monday, May 17, 2010

Briefie uit Bloem

Vrydagmiddag ry ek by die hek uit op pad winkel toe. ‘n Lang, skraal swartvrou stap stadig voor in die pad met ‘n volgelaaide plastieksak in die hand.

Op die ingewing van die oomblik hou ek stil en vra of sy wil saamry tot by die taxi-staanplek. Dankbaar klim sy in en slaak ‘n sug…haar mooi besnede gesig is strak. Kwellinge oor ‘n harde lewe?

Ná ‘n minuut of wat se stilte, vra ek haar of sy in Jesus Christus glo?

“Ja!” kom die antwoord.

Ons ry verder en toe haal sy ‘n verskrompelde plastieksakkie uit haar handsak, en uit die sakkie haal sy haar verrinneweerde Xhosa Bybel, absoluut opgelees!

Daar skiet ‘n pyn deur my binneste by die aanskoue van hierdie onbekende vrou se geloof waarvan sy toe getuig en vertel hoe sy altyd met die Here praat en hoe Hy haar help… sy het nie meer ‘n man nie, net haar kinders….

Toe kom dit asof van nêrens in my op: “Dan is ons mos susters in die geloof in Jesus Christus!”

‘n Ligte glimlag trek oor haar gelaat, sy praat in haar taal en beduie boontoe…wat sou sy kwytgeraak het?

Dit flits deur my om haar ‘n nuwe Bybel te gee, maar die vertroudheid waarmee sy hare vashou, spreek boekdele…

Diep getref!

Liefde,

Ousus

7 comments:

Sonja said...

Dit is vreeslik mooi! Is dit nie wonderlik dat taal of kleur of niks ons skei as ons eendragtig in die Gees van God is nie!

Dané said...

Ek is so bly jy het dit met ons gedeel -- dis pragtig, en maak mens sommer bly in die Here.

mariki said...

Sooo reg, Sonnie.

Dané, dit onroer, né.

Nimsi se Blog said...

AMEN!

mariki said...

Dankie, Nims.

Cecile said...

Ai dis wonderlik. Wys mens net dat God nie kies wie hom moet dien nie...

mariki said...

Dit IS wonderlik, Cecile!