Sunday, September 26, 2010

Joegaai!

Ousus vannie Kaap -- wat ek vier hele jare laas gesien het, kom gooi vandeesweek ‘n vinnige draaitjie hier.

Heerlik vooruitsig!

En nou is die huis ook sommer skoon vir Kersfees……!!

Friday, September 24, 2010

Oesmaan, Jupiter en die jaar wat draai

(Nie my foto's nie)

22 September 2010:


Vir die eerste keer in bykans 20 jaar, het die begin van die noordelike herfs eergister saam met volmaan geval.


Toe die son eergisteraand op die laaste dag van ons somer in die weste gesak het, het die Oesmaan in die ooste begin opkom. Die twee ligbronne het vermeng in ‘n soort van 360-grade, somer-herfs aandgloed, wat selde gesien word.


Die goue sirkel in die ooste het ongewoon “geswel” gelyk –- ‘n maan-illusie.


En die vol Oesmaan met die maan-illusie daarmee saam, was wondermooi.


Maar dit was nie al nie!


Die noordelike somer het gisteraand kort by middernag in herfs oorgegaan en op daardie presiese oomblik -- herfs-ewening -- het die Oesmaan hoog teen die naghemel gehang met die planeet Jupiter reg langsaan – sjoe!


(Bo) ‘n Maan-Jupiter konjunksie van verlede jaar.

Dis natuurlik weer die boere wat met die benaming Oesmaan vorendag (oftewel, voren-nag), gekom het.



In die dae voor elektriese lig, was die boere van die maanlig afhanklik om hul werk ná sonsondergang gedoen te kry. Dit was die enigste manier waarop hulle die oes betyds vir marktyd, kon in. Die volmaan naaste aan die herfs-ewening, het die “Oesmaan” geword, en was altyd ‘n welkome gesig.


Gewoonlik maak die Oesmaan sy opwagting ‘n paar dae of selfs weke, voor of ná die begin van die herfs. Maar die Oesmaan van 2010 het sy volgroote ‘n skrale ses ure ná die ewening bereik en sterrekundiges het gisteraand s’n, ‘n super-Oesmaan gedoop.


Daar was laas in September 1991 naasteby so ene (volgroote en ewening tien ure uitmekaar uit), en as die aarde dan nog bestaan, sal dié van ons wat die lewe behou, weer so-iets in die jaar 2029 beleef.


So is ons herfs dan ingelui met ‘n super-Oesmaan, ‘n rare aandgloed en ‘n middernagtelike konjunksie – baie besonders.


Hmm….dit alles beteken mos nou net één ding: die winter kom.


Dus dan maar:- lekker lente vir julle.......

Monday, September 20, 2010

Op wieke van die woord


Vennoot is in sy skik -- sommer baie. Want sy bester mater (*die uwe), is veilig tuis ná amper ‘n week se uithuisigheid.


Ek en my klein rooi karretjie het voorverlede Donderdag padgevat na Utah se jaarlikse storiefees. Die tweede grootse ene in die land.


Vennoot sou saamgegaan het, maar sy werksvrag pootjie hom toe. Hy het my die geleentheid egter van harte gegun -- "Ry, vrou, ry."


Syse vrou het haar ook nie onnodiglik laat aansê nie.

Luister partykeer baie graag as die man praat.


Hierdie storie-gedoente is waarlikwaar ‘n fees. Gewoonweg (maar alles behalwe “gewoon”), word die feesgangers deur storievertellers van formaat, en wat vanoor die hele land kom, op die wieke van die woord meegevoer.


En as dit nie stories uit die skatkis van die geskiedenis of oor hul eie families se doene en late en stommiteite is nie, is dit opgerakelde verhale oor wie en wat ook al. Huilstories en lagstories en liegstories. (Einste so op Jan Spies-patroon.)



Die Utahfees trek jaarliks 25 000 besoekers, en word gehou in 'n natuurpark, op in 'n kloof.

Sowat van uitmuntende organisasie het ek nog nie baie gesien nie. Parkeer op aangewese plekke in die dorp, klim op een van die string busse wat staan en wag, en ry sit-sit-so tot by die feesterrein. Twaalf kunstenaars wissel heeldag tussen die ses groot markiestente, vertel elke keer 'n nuwe storie -- hoe kies mens tog?!

Verhale word, o, so kunstig gespin soos 'n spinnerak se web......en mens word weer pure kind....



Moenie hierdie "tannie" onderskat nie -- sy het die afgelope 25 jaar voor ongeveer al 250 000 mense haar ding gedoen. Internasionaal ook. Sy is Elizabeth Ellis, en word gereken as een van die voorste Amerikaanse storiekunstenaars.

Dis einste sy wat my een aand wat-en-trane laat huil het met haar storie oor die graftes van onbekende soldate uit die Burgeroorlog uit, en 'n ma of vrou of kind wat nooit sal weet van waar of hoe nie....

Die verrigtinge word afgesluit by 'n opelugpark -- en 'n uur voor die tyd al sal jy hard soek om 'n plekkie te kry waar jy jou kombersie kan oopgooi.


Feitlik elke staat het sy eie storiefees en die beste van die bestes (uit 'n groep van 9000 woordkunstenaars uit Amerika en die res van die wêreld), word uitgenooi na die nasionale fees.

Dié word elke jaar in Oktober in Tennessee gehou.

Oktober...oor drie weke...wonder mos nou of Vennoot my weer sal laat ry.

Miskien moet ek vir hom 'n allermooiste ou storietjie spin.

Tuesday, August 31, 2010

Behoorlik poegaai

Kan ook nie anders nie: het Donderdagoggend voordag hier afgesit Kentucky toe, so al padlangs deur Kansas, Missouri, Illinois en Indiana – ‘n hele 1 862 km heen, en toe weer 1 862 km terug, gister.


Wat mens ook nie alles vir jou kroos sal doen nie. Julle weet mos die spreekwoord sê, ouers sal hulself uittrek vir hul kinders – nou darem nie vóór hulle se kinders nie -- tog hopelik nie.


En uittrek was ook nie deel van die doel van die reis nie, nee, moeder het ‘n mooi rokkie uit die tas gehaal vir die funksie waar Jongste-maar-grootste-Seun, sy “balkies” op sy skouers gekry het as ‘n nuwe luitenant in die National Guard van ‘Kintuck’. (Ses-en-sestig kandidate het begin, maar net 16 manne het klaargemaak.)


Elke staat het sy eie groep Guards.


Hoe staan “National Guard” te vertale? Nasionale Garde? Ek dink nie so nie. Maar

“by any other name” genoem ofte nie, hulle word opgelei deur, en maak deel uit van die Amerikaanse weermag. Is oorspronklik in 1636 in die lewe geroep om Amerika hier binnelands te verdedig.


Ook om te help in geval van natuurrampe, soos met Orkaan Katrina en die groot bosbrande in Kalifornië verlede jaar, waar hulle onmisbare hulp gelewer het.


Maar toe hierdie land se regering na hartelus begin oorlog maak, wettig of onwettig, toe word die NG sommer oorsee ook ingespan. Die mag in Irak het uit meer as 40% NG-lede bestaan, en dié in Afghanistan tans uit 55%.


Soldaatwees is nooit speletjies nie. Selfs nie tydens opleiding nie. Seunskind se hakskene het eenkeer met ‘n veldmars so stukkend geskuur en gebloei dat die “medics” hom aangesê het om uit te val en hospitaaltent toe te kom – wat die einde van sy offisiers-opleiding sou beteken. Hy het geweier en drie ure later met terugkoms by die basis, was sy stewels so bloedbevlek, dat hulle moes asdrom toe -- en hy in die hospitaal gedraai het.


Hy kan dus regtig sê dat hy sy balkies met sweet en bloed verwerf het.


(En ek is seker met trane ook – maar daaroor sal ‘n man mos nie praat nie.)



Thursday, August 19, 2010

Hoor jy my lag (en ween)?

Skoonheidswedstryde en ander mode-mededingende gebeure is beslis nie my forté nie. En ek weet ook nou nog nie hoe ek afgekom het op die foto’s van vanjaar se nasionale komstuumvertoning, by die Mej. Heelal-wedstryd nie. Maar waar vind ek dit toe skatersnaaks! (Veral die kommentaar van die Britse Telegraph daarby -- waarby ek so bietjie aangevul het!)

Daar is ‘n prys vir die beste kostuum te wen, maar dit tel nie vir die verkiesing van die semi-finaliste nie. Die kleurvolle okkasie bied ‘n kykie op die verskillende lande se kulture. Soooo leersaam!! (ha-ha).


Mej. Panama. Koooeee….hier is ek…….


Stekels, blinkers. blomme, vere, en Tsar Alexander se staf. Kom ek nog-iets kort? Mej. Nicaragua


Mej Brittanje kon nie belsuit na watter partytjie toe sy wil gaan nie, toe trek sy maar vir altwee aan (en wen die prys van die aand.)

Sykouse rond enige uitrusting af. Mej. Creole.


Nooit geweet tennis is België se nasionale sport nie?

(En as sy nie die bal kan raakslaan nie, sal sy hom wel kan raakSKOP.)

Kalahari-lappie op ‘n blink skaal, vertoon deur Mej Colombië.


Mej. Candy Queen – komende van Curacao.

Mej. Amerika. (Bly al 'n paar jaar in hierdie land, maar het nog nooit voor vandag hierdie soort voël gesien nie).

Mej. Australië se kostuum is in haar tuisland as ‘n “dingo-ontbyt” beskryf.

As ek die aandag van ‘n minder goedgevormde deel van my anatomie wou aftrek, het ek dalk ook spinnekopvlerke aangehaak soos Mej. Albenië, ekskuustog, Albanië.

Dié mejuffrou kom uit Angola. Ek swyg.

Mej. Dominikaanse Republiek. Is dit nie bietjie vroeg vir Kersfees nie?

Ek vermoed Mej. Guam moes ver deur oorgroeide tropiese woude hardloop om die vertoning te haal.

Mej. Pampoen, ag ekskuus, ek bedoel Mej. Zambië


[Waarom steek die woord ‘afgodspriesteresse’ dan nou al in my gedagtes vas?]