Monday, October 20, 2008

Hoe ry die Boere


Roekeloos en onverskillig is ek nie.

Wel vinnig om my eie ding te doen, en gou om agter die stuur in te glip na waar die ver horisonne roep. En so met dié dat Vennoot op ‘n sakereis weg is, spring ek voorlaasweek in my klein rooi karretjie en durf die verste van die ou Amerikaanse Wilde Weste aan. Deur Arizona, Kalifornië, teen die weskus opgery en deur Nevada en Utah tot weer tuis, altesaam 3 492 myl (4 828 km).


En was ek uitbundig gelukkig oor elke myl wat agter my weggeglip en voor my uitgestrek het – we-el… behalwe vir ‘n paar van dié wanneer donker al begin toesak en ek nog nie slaapplek gehad het nie.

Want sien, ek doen toe mos die ding so kamp-kamp. Vir wat elke nag ‘n in stereotiepe hotelkamer te lande kom – só kan ek tog nie hierdie trippie aan die verbeeldingloosheid oorgee nie!

Maar nou is ek te bang om op my eentjie in ‘n tent te slaap – aikôna vir net ‘n stuk seil tussen my en ‘n reeksmoordenaar wat snags kampgronde deursluip op soek na ‘n nuwe slagoffer. (Het nog nie juis van so een gehoor nie en hier is ook nie dingo’s in Amerika nie, maar mens weet nooit.)

Vooraf deeglik uitgepluis hoe om met afgeslaande sitplekke en oorlengs-opgeboude bed my eie tent-op-wiele te benut. Die voorvenster effens afgerol vir vars lug en binne heel knus met die leesliggie se gloed skaars van buite sigbaar, deur die selfontwerpte en goedpassende silwer vensterskerms (en vleismes byderhand vir daardie net-in-geval…)





Werk dit toe uitstekend, en voel ek nie min opgetrek met myself nie! Fantastiese maanlignagte in rustige kampplekke ingedrink. Twee nagte bietjie gebibber, en een nag in Mesquite (80 myl anderkant Las Vegas) onwettig op ‘n casino se parkeerterrein oornag. (Die padkaart het verkeerdelik twee kamppeerplekke aangedui. Maar dit was baie veilig – die sekuriteitsvoertuig het uurliks sy rondte gedoen.)




Die mees spanningsvolle deel van die avontuur was toe nou om Vennoot agterna in te lig oor my heerlik opwindende ervaring. Ek kan nie onthou wanneer laas die man met so ‘n totale verstomming geslaan was nie. Gelukkig verstaan hy my goed na 37 jaar se saamleef en –beleef, en om die waarheid te sê, ek vermoed hy is nogal geamuseerd so in die stilligheid.

Het my net laat beloof ek sal nie vir die kinders van die kampery vertel nie. In elk geval nie gou nie…nou deel ek dit maar met julle.

Bygesê, ek is diep dankbaar vir die Vader se bewaring en vir so ‘n genotvolle geskenk wat ek oudag-toe sal onthou.



8 comments:

Sandra said...

Jinne dit klink na pret en jy doen dit sowaar alleen.

Muriel said...

Mariki, wat het jy aangevang! whahaha Verseker gaan jy dit tot jou oudag toe onthou!!!

Ek sou dink jou ander helfte was stomgeslaan!

Dit was seker groot pret!!!

mariki said...

Ja dankie Sandra, die lekkerste lekker wat ek vir hoelank gehad het. Dink jy nie ons sal maar altyd iets van 'n vryheidsgees in ons omdra nie! Maar dit was regtig nie lewensgevaarlik nie, hoor.

mariki said...

Jip, Muriel, vet pret! (Hmm...waarheen gaan ek ry as die man weer weggaan...?)

Desia said...

Sjoe Mariki! Jy se jy's nie roekeloos en onverskillig nie, maar verseker het jy "guts!" Avontuurlustig!
Dit was lekker om saam't jou so vinnig te toer.

mariki said...

Desia -- van die "guts" weet ek nie, eerlik, hoor. Ek is net geseënd genoeg om so dan-en-wan 'n gier of wat te mag uitleef.

Muriel said...

Mariki, dis wonderlik om so te kan rondry en ten minste is jy veilig!

Het jy al jou nuwe roete beplan as jou liefie weer moet weggaan?

Ons geniet jou manewales want ons sien saam met jou die wêreld deur jou foto's!

x x

mariki said...

Ek is bly as jy die toertjie saam met my geniet het, Wipneusie! (Om die waarheid te sê, ek is tans baie ongedurig na die lekker vryheid van ry waar ek wou...)

Ek sal binnekort bietjie meer deel van wat ek ervaar het.