Friday, October 24, 2008

Woerts deur die Wilde Weste (2)

Met my terugkoms vanaf die weskus voorverlede week toe wonder ek mos nou, maar waar IS die Wilde weste, of liewers, waar was dit gewees?

Dekades ná die vestiging van die eerste blanke immigrante aan die ooskus in die sestienhonderds, begin die grenslyne wes verskuif. Die “Weste” was altyd net anderkant die bekende grense. Meestal beskryf die “American Old West” of “the Great West”, die gebied wes van die Mississippi gedurende die 19e eeu.

My eerste oornagting was in Las Vegas.


Poskantoor (roerie!)


Jaaa, julle het geweet ek trek julle been – dit IS Las Vegas se poskantoor, maar dié een is in Nieu Mexico en was op die grootpad wat eers suidgeloop het voordat ek wes kon draai om oor die gebergtes te kom; geleë waar die groot vlak hom teen die imposante Rockies vasloop.




Die dorpie spog met 900 geboue op die nasionale lys van gedenkwaardighede, maar die kroonjuweel is sekerlik die Plaza Hotel wat liefderyk gerestoureer is 100 jaar nadat dit in 1882 gebou is en spoedig bekend geword het as “The Belle of the Southwest”.




In hierdie einste kroeg sou jy jou jarre gelede kon vasloop (of liewer dalkies nie) teen berugte wetsoortreders soos Billy the Kid, Doc Holliday en sy vriendin Grootneus Kate Elder.

Doc se Kate in haar later jare


Die rolprente Wyatt Earp (1994) en All the Pretty Horses (2000) – ek lief hierdie een – is hier verfilm, so ook Astronaut Farmer (2006) en No Country for Old Men (2007). (Sal nog ‘n studie oor dese bloederige fliek moet maak om uit te vind wat die punt nou eintlik was)…

Las Vegas se hoofstraat


Die “Calumet says Howdy” (How do you do) – muurpaneel (onder) is oorspronklik vir die filmstel van Red Dawn geverf (‘n verbeeldingsverhaal wat kammakastig in Calumet, Colorado afgespeel het), maar toe lyk dit so van pas dat die dorpsvaders besluit het dit moet bly. Ek skat dit ‘n goeie 15 voet hoog!

(Vroeër was daar petrolpompe net onder hierdie prent, maar die hele spulletjie het ontplof en afgebrand toe ‘n vergeetagtige bestuurder weggery het met die brandstofpyp nog in sy motor se petroltenk – ek kon nie uitvind of hy oorleef het of nie. Maar een ding is parramaneldra: as hy het, sou hy nooit weer dieselfde fout gemaak het nie).

Die volgende oggend strek die pad verder wes (natuurlik)...

7 comments:

mariki said...

Die Calumet-muurpaneel is omtrent 25 voet hoog. Ek kan dit nie geredigeer kry nie en voeg dit nou sommer hier by!

Anonymous said...

Dit lyk na regte interessante plekkies. Dankie dat jy dit met ons deel Mariki

mariki said...

Sandra, dis vir my regtig so lekker om met julle te gesels, en dankie dat jy omgee!

Desia said...

Dit lyk interessant, laat weet as jy weer die pad vat; dalk "join" ek jou om van die toenemende koue weer weg te kom!
Sien uit na die volgende been van die toer.

mariki said...

Jy noem dit -- die benoudheid in die keel wat die naderende koue bring. (Seker boonop omdat Kersfees regtig nie veronderstel is om in die winter te val nie!)

Desia said...

Kersfees is mos in die somer se ek ook! Ons was gelukkig om die afgelope twee jaar "regte" SA Kersfeeste te he; maar my jongste (die tradisionalis in ons gesin) het haar planne vir 'n wit kersfees reg, volgens haar is 'n wit Kersfees 'n "regte" kersfees!

mariki said...

En miskien is SY reg en ons verkeerd?!