Friday, October 31, 2008

Happy Halloween se voet

Miriam Webster's Dictionary Definition:

Main Entry: Hal low een
Variant(s): also Hal low e'en /"ha-l&-'wEn, "hä-/
Function: noun
Etymology: short for All Hallow Even (All Saints' Eve)
Date: circa 1700
: October 31 observed especially with dressing up in disguise, trick-or-treating, and displaying jack-o'-lanterns during the evening



En waar kom Halloween (Allerheiligeaand) so ewe vandaan?

Die heidense Keltiese Samhain-fees is waarskynlik die oorsprong van die hedendaagse Halloween.

Die Kelte het hulself meer as 2 000 jaar gelede tuisgemaak in wat vandag die Verenigde Koninkryk, Ierland en Noord Frankryk is.

Hul nuwe jaar het op 1 November geval, maar die feesviering ter ere van die Keltiese doodsgod, (brrr) Samhain (dis nou bietjie anders as die hollandse Piet Hein!), het reeds die vorige aand begin. Hiermee is die seisoen van koue, duisternis en verval ingelui en het dit geassosieer geraak met die dood.

Volgens die Kelte het Samhain (uitgespreek Sah-ween) die siele van die afgestorwenes toegelaat om net vir daardie aand na die aarde terug te keer.
Dan is die mense deur die Druïede (die priesters en wyses), aangesê om die vuur in hul vuurherde te blus en is ‘n groot vuur (bonfire) -- sogenaamd heilig -- met eikehouttakke gemaak. Diere, oesprodukte en moontlik selfs mense, is geoffer voordat elke familie sy eie vuur met ‘n stomp uit die heilige vuur, kon aansteek.

Vir hierdie geleentheid het die feesgangers soms kostuums van dierkoppe en velle gedra, en die toekoms is voorspel deur die oorskot van die offerdier te begluur.

In 43 voor Christus begin die Romeine die Kelte verinneweer en speel vir 400 jaar lank baas oor vandag se Verenigde Koninkryk.

Blykbaar moes hulle gemeen het te veel feesvierdery is nie goed vir die volk nie, en kombineer toe die Romeinse vereringsfees van die afgestorwenes en Pomona, godin van vrugte en bome, se vrugtefees met Samhain se doodsfees – voorwaar ‘n konkoksie!

Wat is Allerheiligedag?

Baie van die Keltiese gebruike het behoue gebly, selfs nadat die Christendom gevestig geraak het.
Gedurende die 800’s het die kerk 1 November as Allerheiligedag verklaar en maak toe sommer die die ou heidense gebruike deel van dié Christelike vakansiedag. Lekker! En nog later word 2 November die dag waarop die Rooms Katolieke Kerk die onbybelse verering van die dooies vier.Onder die Kelte het elke streek sy eie Halloweengebruike gehad. In Ierland is ‘n parade gehou ter ere van die god Muck Ollen en het die leier ‘n wit gewaad en ‘n dierkopmasker gedra. In Skotland weer, het die optoggangers met fakkels geparadeer en groot vure op die heuwels aangesteek om hekse en bose geeste te verwilder.
In Wallis het elkeen sy naam op ‘n klip geskryf en in die vuur gegooi. Die arme siel wie se klip die volgende oggend soek was, sou beslis binne die volgende jaar sterwe.

In Engeland is Halloween soms Neutkraker of “Snap Apple Night” genoem en het families om die vuur sit en neute en appels eet terwyl stories vertel is (allerwaarskynlik oor geeste en hekse). Die volgende dag het die armes rondgegaan om te bedel – “a-souling”. Hulle is ‘soulcakes” (sielkoekies?!) in die hand gestop en moes beloof om vir die afgestorwenes te bid. (En waarvandaan kry ons dit!)

Hmm…klink (of lyk) vir my allermins Bybels of edel, lieflik of loflik…hoe kan ek my dus hiermee ophou, of my kinders toelaat om saggemaak te word vir iets wat beslis nie die Here se Naam tot eer strek nie?

5 comments:

Jan and Miekie said...

Die hele ding laat 'n mens kriewelrig voel ne? Ek's bly dis nie hier 'n groot ding nie, maar ek onthou nog die hoeha toe ek in die V.S.A. was.

mariki said...

Gelukkig is daar onder behoudende christene 'n sigbare teenstand hieroor -- dankietog.

Ek hoop om 'n paar foto's te plak van hoe dit hier gevier word.

Sandra said...

Selfs hier maak die winkels 'n groot ding van Halloween. Ek dink as ouers moet ons die geleentheid gebruik om vir ons kinders te vertel waaroor dit gaan en nie net nee te se hoekom nie.

Desia said...

Net die grillerige Halloween "versierings" wat te koop is en wat mense by hul huise opsit maak my sommer naar.
Maar ek onthou ook hoe moeilik dit was toe my kinders die eerste paar jaar van hul skoolloopbane in "public schools" was en ALMAL dress-up vir Halloween en kry hope en hope soetgoed.
Dis nou lelik van ons, maar ons is altyd bly as dit so 'n aaklige, koue, waaiende-sneeu tipe van dag is, sodat daar nie so baie van hulle kan kom aanklop nie.
En ek moet bely dat ek wel 'n bak met lekkergoed aanhou vir die wat wel kom...ons het net twee groepies kinders gehad die jaar, hoewel die weer nog steeds fantasties is vir Manitoba. Ander jare het ons net alle ligte afgesit en saam't ander gesinne 'n DVD gekyk in iemand se "basement." (En ons katte binne gehou!)
Wat maak julle?
Gee julle wel lekkergoed uit? Mens wonder of jy dan eintlik ook deelneem...

mariki said...

Het ook al weggekruip! Was hierdie naweek nie tuis nie...gelukkig. Maar soos Sandra sê, mens kan dit benut, teenoor jou eie kinders, sowel as teenoor die aankloppers. Het onlangs oor christenradio gehoor van 'n wonderlike klein strokiesverhaal oor die Waarheid wat mens saam met die lekkergoed kan uitdeel -- sal dit beslis volgende jaar solanklewe ondersoek.