Broer kon nog altyd ‘n ding sê nes hy is.
So ‘n paar jaar gelede kom vra een van sy rammetjies (die ene wat wat toe net besig was om rooihakskeentjies te begin kry), toestemming om die volgende naweek saam met ‘n paar maats te gaan kamp.
“Seuns of meisies?” kom die eerste wedervraag. (Rammetjie kon dit natuurlik verwag het.)
“Seuns én meisiekinders, Pa.”
“Gaan Nelia saam? (Nelia synde Rammetjie se -- baie oulike -- meisie te wees.)
“Ja Pa, sy gaan.”
“Dan sê ek ‘nee’.” Heeltemal rustig.
“Ekskuus, Pa?” Ongetwyfeld het Rammetjiekind reg gehoor, en hy het dadelik gewéét hy het. Maar die breingolwe moet nou eers tyd kry om van patroon te verander, sodat hy wat Rammetjie is, tot die aanval – nog altyd die beste manier van verdediging -- kan oorgaan.
Toe dus, op net die regte noot van gebelgde agressie: “Maar vertrou Pa my dan nie?”
“Nee.”
“Ekskuus, Pa?!” Hierdie keer is die jongeling eerlikwaar onkant gevang.
“Nee,” verklaar Broer ongestoord. “Ek vertrou jou nie, want jy is ‘n man en Nelia is ‘n meisie en mens loop soek nie moeilikheid nie. Dié kom sommer hêlleroordag vanself op jou afgestorm.”
Ramkat!
Dis nou Broer, nie Rammetjie nie.
7 comments:
Lekker gelag, Mariki! Duime hoog vir rammetjie se pa!
Dit is baie snaaks! Soms kan n mens seker net lag as jy met kinders en hulle streke te doen kry!
Wyse broer! Maar simpatie aan Rammetjie - dis maar moeilik om jonk te wees! Hoe moes hy dit nou aan sy maats verduidelik?
Ek het nou lekker geglimlag vir hierdie storie. Pa's weet mos van hierdie goed want hulle kan mos darem uit ondervinding praat! :-)
Ja Sonja en Dané -- as mens nie kon lag so tussen die kindersgrootmaak-deur nie....
Reg Thea...!
En raai, Miekie, dis nou vandag die eerste keer dat ek wonder WAT het rammetjie vir die maats te sê gehad?!
My simpatie lê beslis ook by rammetjie!
Nims -- jy is 'n wyse ene, so na 'n jongmens se hart, my vriendin!
Post a Comment