Saturday, January 16, 2010

Haiti en gebed sonder ophou

Port-au-Prince, Haiti, voor Dinsdagaand

Leann Chong van Florida, Amerika, is besig om in ‘n hospitaal in die Dominikaanse Republiek te herstel van skok, trauma en minder ernstige beserings.

Sy was Dinsdagaand op die 2e vloer van die Hotel Montana in Port-au-Prince tydens die aarskudding in Haiti.

Die tradisieryke en 98 jaar-oue Hotel Montana was onder die welvarendste hotelle in Haiti, maar lê nou totaal verwoes. (Die hoteleienaar, Reinhard Riedl, se vrou kon nie betyds uit die verwoeste hotel gered word nie.)

(Bo) Gewese uitsig vanaf die voorste balkon oor Port-au-Prince en (onder), die hotel (vroeër) van agter.

"Binne drie sekondes, nie ses of sewe nie, maar drie,” beskryf een van die ander oorlewendes dit, het die vloer onder Leann padgegee, het sy in die donker ingetuimel en het die drie boonste vloere op haar en andere neergestort.

Vasgeval in ‘n opgekrulde posisie en met haar gesig teen die grond vasgedruk, het sy vir die volgende 17 uur met God bly praat, gebid en halleluja’s gesing. “Ek kon soms stemme hoor, maar dan het alles stil geword en moes ek teen die oorweldigende vrees en benoudheid baklei.”

Sy is uiteindelik deur reddingswerkers onder drie voet beton, glas en ander rommel uitgetrek nadat hulle haar hare met ‘n mes moes afsny om haar los te kry.

Sy vertel: “Dwarsdeur al die donker, angsvolle oomblikke, het Tess 5:16-18 deur my kop bly draai: Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.”

~~~~

Ek het nie woorde nie.


6 comments:

Jan and Miekie said...

Ek is ook stomgeslaan! Wat 'n getuienis! Wonder wat ek sou doen in so 'n situasie? Wys net, die Woord moet ingeplant wees in 'n mens se hart. Ek bid dat ons die Woord werklik sal verstaan en KEN, nie net weet van!

Sonja said...

Dit is n fantastiese getuienis!Ons kan net die Here prys wat ons so beskerm en toemaak met Sy roemryke genade!

Nimsi se Blog said...

Stom... Stil... Sonder woorde! As ek sulke dinge aanhoor voel ek tog so onwaardig...

mariki said...

Dis soos jy sê, Mieks, ons moet die Woord KEN!

Is né, Sonnie!

Nims, ek voel nes jy, maar ons moet onthou, God sien ons aan as waardig in Sy Seun, dus hoef ons nie oor ons onwaardigheid te kommer nie!

Charmaine said...

Dis amazing en ek is seker daar is sovele sulke stories. Ek luister na BBC en na die mense se stryd na die afgryslike ramp en ek bid Vader sal Sy teenwoordigheid laat bly voel...en Hy sal. Ons weet mos. Ons ken Hom

mariki said...

...Ons ken Hom..."Charmaine, ons ken Hom -- halleluja!