Sunday, January 31, 2010

Hou dit vir jouself

Wat is dit tog wat die mensdom so interesseer omtrent naaktheid?

Of hulle laat dink, andere is geïnteresseerd in hulle sonder-klere-wees.


Ek is waarlik al verby satwordens toe moeg om, wanneer ek aartappels of pampoen op koerant skil, in die gesig gestaar te word deur boesems en boudetjies. Mens kan nie daarvan ontsnap nie, nie eens in jou eie kombuis nie – want televisie met al sy kômmingeit, gevloek en kaalbasgeit, dié kyk Vennoot en ek tog lankal nie meer nie.


Maak geen fout nie – die menslike liggaam is vir my mooi, baie mooi; veral as dit ‘n pragtige jong perskeblom-meisiekind of goedversorgde ouer vrou is, wat net straal omrede van wie sy is – nie omrede van iets (of alles) wat sy aan jou (en almal wat tog asseblief net wil kyk), wil wys nie!


(Het dit al ontelbare kere gesien, dankie. Jy is maar net nóg een wat wil uithang.)


Genadiglik (en dit is NET genade), is die meerderheidsgevoel in meeste lande darem nog teen (totale!) kaalgeit.


Nie in Spanje nie.


Ná Franco se diktatuur het die Spanjaarde totale vryheid gesoek, en hulle grondwet veroorloof naaktheid oral: of jy nou op die strand sonbruin, of inkopies doen in Barcelona. Onbeskaamd het talle nudiste dus al by verskeie geleenthede in die Spaanse strate geparadeer en seker “o, so vry”, gevoel.


In Noorweë is ‘n beeldhouer besig om ‘n naakte Christusbeeld in opdrag van ‘n kerk daar, te skep.


‘n Ander naaktheids-“kunstenaar” (weet nou nie so mooi van die kuns nie, maar die naar…?) is die fotograaf Spencer Tunick. As hy nie 600 naaktes by onder 10ºC in die Alpe afneem nie, dan is dit 2 754 in die lavinntel-velde in Ohio, of 18 000 ou kales op Mexicostad se hoofplein – in die stralende sonskyn.


En dit alles dan nou glo omrede van vryheid, kuns en persoonlike uiting.


Dog, een van die vroulike deelnemers aan dusdanige fotosessie in Amsterdam, sê toe sy ná die tyd (aangetrek) op haar fiets terugry huis toe, tref dit haar dat sy haarself veel beter kan aktualiseer deur haar eie unieke en persoonlike klerestyl!


Maar aardsnudiste weet glo te vertel, kaalloop gee jou ‘n onvergelyklike gevoel van gelykheid en vryheid en vreugde.


Om openbare kaalgeit te beoefen, is dus glo wonderlik.


Ek mis dus iets wonderliks? Ek is dus aan die verloorkant?


Hierdie keer gee ek nie ‘n kale duit om nie – you can have it all (dis buitendien alles joue).


Gaan “have” dit asseblief net waar ek en (baie) ander wat nie wil weet hoe jou naakte waarheid lyk nie, dit nie hoef te sien of te bekyk nie.


(Ter inligting: Dis 'n naakfoto links bo, maar ek het dit gesensor tot ons almal se stigting. Uhm...)


4 comments:

Sonja said...

Hahaha,jy klink op jou perdjie,kwaai! Maar dit is presies hoe ek mos ook al lankal voel! Dit is omdat daar nie meer waardes is nie,en omdat sulke persone n verkeerde gees in hulle ronddra.Dit is n skande,klaar!!

Dané said...

Mariki, ek stem so hartlik met jou saam. Dis so vervelig, boonop.

mariki said...

Jy het dit Sonjatjie, ek word sommer weer van vooraf kwaad! En skande, niks anders as skande nie, ja.

Net so, Dané.

Anonymous said...

Ek luv daai "naakfoto."

C