Sunday, May 2, 2010

Weswaarts (3) -- Gleanings

Laasmaand se ry Kalifornië toe, was eintlik om ‘n week se vrywilligerwerk by ‘n YWAM-basis (Youth With A Mission) te gaan doen.

Gleanings for the Hungry is ‘n merkwaardige plek.


Vyf-en-twintig jaar gelede het die Here vir Wally en Norma Wenge die droom gegee om ‘n Josef-bediening in Thailand te begin (dit wil sê, om kos aan die hongeres te verskaf.) Hulle het onthou van al die vrugte wat in die vrugbare San Joaquin Vallei in Kalifornië verlore gaan – en só is Gleanings gebore. (“Gleanings” = oorskot. In die Bybel het Rut koringare – die oorskiet – op Boas se land “geglean.”)


Uitskot vrugte (perskes en nartjies wat nie bemarkbaar is nie omdat dit te klein is, of die vel nie goed lyk nie), word deur vrugteboere aan Gleanings geskenk, waar dit in die somermaande gewas en gedroog word vir verspreiding.


Van oorskotgroente word in die afseisoen, soppoeier gemaak. In 2009 is 27 miljoen porsies sop versend!

En AL die werk word deur vrywilligers vanoor die hele land gedoen onder leiding van die YWAM-personeel, wat nie ‘n salaris verdien nie, maar deur hul gemeentes, familie en vriende onderhou word.


Die personeel se beskeie behuising (alles word deur die vrywilligers in stand gehou). In ons week het 'n span van drie óú omies byvoorbeeld die slotte en knippe van al die deure en vensters nagegaan.


Nie sommer net nog 'n tannie aan't vroetel in haar tuintjie nie -- hierdie is die produk van vrywilligerwerk waarvan sy maar een is, met die tye saam -- (ek het haar bekruip en sy weet nie eens die foto is geneem nie.)



Drie etenstye en twee "pouses" in die eetsaal, en aan die einde van die week is jy lekker opgepoffer en baie ronder as toe jy die eerste keer deur die hek gery het!


Saans ná ete is daar bordspeletjies gespeel. Wat gee jou die idee dat Arlene (oorkant die tafel met die blou bloes), 'n "juffrou" was?! Ginny met die gestreepte hemp, is 84, maar nog hups en aan die gang. Sy was een van die kwiltwerkers wat daardie week 13 kwilts help maak het om saam met die kosbesendings uit te stuur.


'n Klein deeltjie van die emmers waarin die gedroogde somervrugte versend sal word. Elke ene is 'n skenking van boere in die vallei en elke liewe ene en sy deksel moet gewas en alle etikette verwyder word voor gebruik. (Gelukkig is daar droërs vir die goed!)


Dennis aan die werk om die houtpalette wat gekraak en gebreek is, reg te kry vir die somerbesending van vrugte wat daarop gedroog sal word. Dis hier waar ek my vuurdoop gekry het in die hantering van "power tool"-gebruik. Aanvanklik bietjie skeef geboor en geskaaf (veral die kere wat ek my oë toegeknyp het met die gebruik van die "staple gun"!)


'n Badkamer is feitlik heeltemal klaar gerenoveer deur hierdie ou en sy flukse kollega.



Onder:

Dié oompie was my held. Drie-en-tagtig jaar oud, maar die gewilligheid en dierbaarheid vanself; en hier in die sopverpakkingskuur het hy ure op sy voete gestaan en werk. (Baie stowwerige vanweë die fyn soppoeier, vandaar die masker.)


'n Nuwe span werkers (skoolkinders van naby Los Angeles ) wat vir 'n dag lank kom help het, word touwysgemaak in die sopskuur.



Dis rugbreekwerk om die sopmengsel uit die "bin" te skep en beker-vir-beker (die tannie regs voor) in sakkies gegooi te kry. (Ek weet -- ek het ook gedoen.)



Woensdag:

Grróóót opwinding toe twee vragmotors inkom om te kom laai aan die vrag na Kambodja.


Die vragmotorbestuurders. Hulle het seker ook nie geweet wat hulle getref het nie, toe daar eers vir hulle gebid en gesing is! Die een het gesê hy weet nie veel van die Christelike geloof af nie; die ander ene het gesê sy vrou is 'n Christen en hy is "amper ene."



Die vol vrag aan die regterkant: 'n kwartmiljoen doller werd! Dit was wonderlik om hier te staan en saam met die hele groep vir die Here dankie te sê vir Sy voorsiening en genade, en te bid dat Hy sal beskik dat die kos veilig die regte bestemming sal bereik. In al die jare het daar nog net één vrag weggeraak! (Dis algemeen bekend dat skeepsvrag wêreldwyd "wegraak" en niemand weet glo wat daarvan geword het nie. Ook dat korrupte doeane/regeringsamptenare beslag lê op inkomende besendings -- nie net van sendingorganisasies nie -- en dan vir hul eie gewin verkoop.)


So lyk iemand wat uitbundig bly is oor die Here se goedheid! (Anne is 'n velkankerlyer, vandaar die handskoene. Hier staan sy nog met haar sopskuur-voorskoot aan.)


Die name van die 40 lande waarheen Gleanings kos stuur. Die versendingskoste word gedra deur die sendingorganisasies wat dit in ontvangs neem en dan versprei. Gleanings maak geen sent nie, en al vereiste is dat die evangelie verkondig sal word met elke kospakkie wat uitgedeel word.


Dit was ' n onoortreflike week so saam met ons "Here-familie"!!

7 comments:

Anonymous said...

Dit was 'n great ervaring, né vriendin.

C

mariki said...

Jy sê dit, C'tjie.

Thea said...

Nou kyk nou!! So baie keer dink ou mense dat hulle niks meer kan doen en niks beteken nie. Hier is nou net weer vir jou die bewys dat mens selfs in jou gryse jeug nog 'n positiewe bydrae kan lewer. Ek het sommer trane in my oë gekry toe ek hier lees. Wonderlike werk wat julle en die ander daar doen en gedoen het al Mariki!!

Sonja said...

Dit is wonderlik! Dit is die eerste keer dat ek van so n plek in my lewe hoor! Dit is net eenvoudig te wonderlik dat mense so kan omgee vir ander!

mariki said...

Die IS opwindend, né, Thea! O, hoe goed sou dit gewees het as alle christene hul oorvloed sou uitdeel....

God se kinders, Sonnie, God se kinders....(deur SY genade).

Desia said...

Wat 'n wonderlike ondervinding, Christenskap in aksie.

mariki said...

So 'n voorreg, Desia. En daardie ou mensies was 'n inspirasie!