Friday, December 11, 2009

Die Here se telwerk

(Vandag is my ou wyfie-neukenaar weer haar bekonkelde self. Gedog ek het nie meer oneerlike werkers/werksdinge in diens nie...maar sy het my hele foto-biblioteek gesteel en weier om te erken...Dus is dit net lettertjies voor die aangesig vandag. So jammer.)


Ons dogtertjiegoed (27) is so twee weke gelede van de een mediese man na de ander (snaaks tog dat ek nou nie hier van ‘n “kwak” wil praat nie, né – ons woordgebruik is darem maar so emosioneel begrond…).

In elk geval, so het sy gehoor dat sy ‘n Pseudoangiomatous stromal hyperplasia (PASH) vergroeisel in die bors het. Al so groot soos ‘n eier.

Maar in die oneindige genade van God is PASH ‘n nie-kwaadaardige soort tumor. Het eers in 1986 benoem geraak het. Baie onbekend.

Die affêre se patroon is glo om ‘n sakkie in ‘n vrou se bors te vorm, met ‘n sterk buite-vliesie wat die sponsagtige weefsel binnehou en geen uitsaaiings maak nie.

Die prognose is uiters goed en in bittermin gevalle van waar die sakkie verwyder is, steek die ding weer later kop uit.

So is die ongewenstheid vanoggend toe uitgesny.

Skoonseun het nou net gebel: sy het so pas uit die teater uitgekom, besig om by te kom, wil glo net slaap...Ag, moeder tog.

Snydokter sê alles was soos vermoed, het gegaan soos verwag, en alles kon verwyder word. Hy het nog nooit eens voor nou, van dié soort ding gehoor nie.

Ek lees gisteraand dat dit by net 1 uit elke 200 000 vrouens voorkom.

Maar wat maak syfers vir ‘n mens saak as jy nommer een uit tweehonderdduisend is? Of nog benouender: een uit die drie vroue (VSA) wat vanjaar gehoor het dat jy borskanker het, met die wete dat 40 000 per jaar daaraan sterf?

Sóveel, dat jy weet dat die Here se somme sin maak. Dat Hy op jou nommertjie druk met ‘n rede. Sy rede. Sy liefdevolle rede.

En jy weet en glo en twyfel nie daaraan nie, dat Hy goed is met somme.

Hy is die Een wat die Allerbeste is met tel. Ook met OPTEL en dra – deur die driwwe en doringvelde van hierdie lewe heen, tot in die eendag se hiernamaals waar somme nie meer gaan saak maak nie.

Behalwe daarvoor dat Een + Een + Een = aan Een, Ewige, Waaragtige en Getroue God, in Wie se allesomvattende, heerlike teenwoordigheid ons tot in alle ewigheid sal lewe.

9 comments:

Nimsi se Blog said...

Ons is saam met julle so dankbaar dat alles goed afgeloop het! Dra haar spesiaal in ons gebede op dat haar herstel ook volkome sal wees. Ons dien n Groot en Wonderlike God ne!!!!

Sonja said...

Ai,maatjie,ek is bly en dankbaar saam met jou dat dit nie kwaadaardig was nie,ons dien n fantastiese God wat ons in Sy hande hou!

Dané said...

Mariki, hoe wonderlik dat God dit goed laat afloop het. Saam met julle dankbaar.

mariki said...

Ja, Nims, ons prys die Here dat Hy ons 'n lydingspad gespaar het. Dankie, jong!

Sonja, God is fantasties. Ek bid net dat ek dit in die aangesig van ellende ook sal bly sê!

Dankie ook vir jou en Nims se gebede en saamkuier.

mariki said...

Dankie, Dané. Ons is oorlopens vol dankbaarheid!

Blog-Marietjie said...

Soos jy daar sê: God se somme is altyd korrek, presies reg vir ons. Ek is saam met jou bly dat dit nie-kwaadaardig is, al het ek ook nog nooit van daai vreeslike woord gehoor nie. Ek dink dis in elk geval 'n mooier klank op die ore as mamakarsinoom. Hoop jou dogtertjiegoed slaap baie lekker om die narkose af te skud.

mariki said...

Mamakarsinoom?! MOET 'n man wees wat dit benoem het.

Dankie vir die goeie wense, Marietjie.
Ketoentjie kom goed reg.

Anonymous said...

Ag, maaterkie, so very sorry. Maar dis so great dat die Heere dit nie 'n slegte ding gemaak het nie.

Tell Engelkie I love her very much.

C

mariki said...

Baie, baie dankie C'tjie. Sal haar sê, hoor.