Ek sal darem nie eerlik wees nie, as ek net vertel van Amerikaanse oordaad en dan nie ook praat van die Amerikaners se ruimhartigheid nie.
Dis lank reeds bekend dat Amerikaners voor loop as dit kom by naastediens en vrywilligerwerk.
Dié tradisie kry mens van die rykes met ‘n lang geskiedenis van filantropie tot by die armes. Diegene wat jaarliks $20 000 of minder verdien (ongeveer $150 000 of minder), gee interessant genoeg ‘n groter deel van hul inkomste aan verdienstelike sake as die rykeres.
Dog, Amerikaners gee nie net geld nie. Hulle dink ook nie twee keer daaroor om vrywilligerwerk te doen nie. Gemiddeld word $150 BILJOEN se vrywilliger-ure per jaar geskenk. (Dis nou bereken teen $18 per uur wat dit andersinds vir betaalde werkers sou gekos het.)
Hierdie bewusmaking van naastediens word reeds op skool geskep. Dis ‘n vaste instelling dat primêre skoolleerlinge een maal per semester bv. seniorsentrums besoek om by die bejaardes te kuier; en op hoërskool kan leerlinge krediet-ure (gelykwaardig aan vak-ure)
opbou, deur gemeenskapswerk te verrig.
En ook op die gebied van sending het die Amerikaners ‘n verstommende oop hand: 70% van sending oor die wêreld heen word met dollars betaal.
So is dit dan nie net die wandaad van oordaad wat hier ervaar word nie, maar ook die weldaad van goed doen in grootmaat.
En dit, sou ek reken, is voortreflik!
6 comments:
Ek is bly om te hoor dat hulle tot meer as kleinlikheid in staat is!
So het elke ou seker maar sy goeie en slegte kant!
Inderdaad mariki!
Wonderlik om te hoor!
Presies so, Sonja.
Ja, die Here se goedheid sal in mense bly deurwerk tot die laaste dag, né Nims.
Ditto, vriendin D.
Inderdaad voortreflik! Ons hier aan die voetenend van Afrika het so 'n ingesteldheid broodnodig.
Marietjie -- ai, die hele wêreld het dit so broodnodig.
Post a Comment