Friday, December 4, 2009

Sien jy Hom?

‘n Jong seuntjie stap na sy bietjie ouer sussie met ’n vraag oor God. “Suzie, kan iemand ooit regtig vir God sien?”


Besig met ander dinge antwoord Suzie effe geïrriteerd: “Nee dommie, natuurlik nie. God is so hoog in die hemel dat niemand Hom kan sien nie.”


Die tyd gaan verby, maar die vraag bly steeds vassteek in sy agterkop. Hy stap na sy ma toe en vra: “Mamma, kan iemand ooit regtig vir God sien?”


“Nee, nie regtig nie,” antwoord sy saggies, “God is ’n Gees en Hy woon in ons harte. Ons weet van Hom, maar sien kan ons Hom nie regtig nie.”


Ietwat getroos deur die antwoord, maar nou ook darem nie honderd persent tevrede nie, het hy koers gekies na buite en gaan speel.


Nie lank daarna nie, is seuntjie saam met oupa op ’n hengeluitstappie.


Hulle het ’n wonderlike dag beleef. Die son was besig om te sak en dit was ’n onbeskryflike mooi sonsondergang. Die oupa het só gesit en die pragtige skouspel van die gloeiende oranje hemelruim betrag.

Toe die seuntjie sy oupa se gesig sien, vol verwondering en vredigheid, dink hy vir ’n oomblikkie voordat hy huiwerig praat.


“Oupa, ek.... ek.....het nie gedink om nog iemand verder te vra nie, maar ek wonder of Oupa my kan antwoord oor iets wat ek nou al lank wil weet. Kan enige iemand regtig ooit vir God sien, Oupa?”


Die ou man het nie eens sy kop gedraai nie en ná ‘n kort oomblik van stilte antwoord hy.


“Ou seun,” sê hy saggies. “Hou net aan met kyk. Dit word so, dat mens op die ou end niks anders kan sien nie.”

5 comments:

Anonymous said...

Mater, dis mos die blessing along your way van om met Hom saam te stap.

Ek luv daai prentjie!

C

Sonja said...

Dit is pragtig!En so waar!Ons moet net nie te besig wees nie,dan kom ons agter HY was nooit weg nie, ons was!

mariki said...

Jip, C'tjie, kan nie glo dar is soveel miljoene wat die "blessing" nie soek nie!

Sonja -- net so. En ons raak keer op keer weer weg. En Hy is so in AL Sy handewerke sigbaar!

Nimsi se Blog said...

dankie vir hierdie stukkie maat,

mariki said...

Graag, Nims. Jy weet mos van, né!