Onthou julle nog die biologie-periodes (tussen hakies, ek moet erken, “lesuur” is vir my ‘n mooie Afrikaanse vervanging van dié Ingels-oorgeneemde woord van ‘periode’). Maar wag, ek is nie besig met ‘n taalles nie, ek wil biologie praat. Laat ek dus weer begin:
Onhou julle nog die biologie-periodes wanneer Meneer/Juffou So-en-so aangekondig het dat daar vandag paddas gedissekteer sou word?
Die seuns wat onmiddelik agterbaks begin grinnik; die meisies wat aansitterig voorgee om te gril en/of naarderig te voel.
(Ai, hoe het die wyses om jou vroulikheid te beklemtoon, tog deur die tye heen verander!)
En boonop ontneem hierdie nuwe soort padda se kind die hedendaagse meisiestudente die geleentheid tot "vroulik speel."
Maar terug na ou paddapoot.
Dié besondere deursigtige padda verlang geen disseksie om sy organe, eiers of are te moet kan bekyk nie.
(Hmmm, nog nooit só daaraan gedink nie – maar hierin kan ons ons almal heeltemal met ou padda vereenselwig, dan nie? Nie gedink ek sal my ooit aan 'n padda se kant skaar nie...)
Masayuki Sumida, ‘n professor van die Instituut vir Amfibiese Biologie aan die Hiroshima Universiteit in Japan het hierdie dier as ‘n menslike onderrigmiddel geteel. (Bygesê, saam met die paddaboudjies-en-ander-organe, dis ek hier ‘n bietjie ounuus op, want die verheugde professor het reeds twee jaar gelede hierdie deursigtige gediertetjie bekendgestel, maar ek het eers gister daarvan gelees.)
Mens kan die organe van dieselfde padda oor sy hele lewe heen bekyk, sonder dat enige disseksie nodig is. Dit kom, nadat die disseksie van diere al ‘n geruime tyd lank, wêreldwyd hewige teenstand uitlok.
(Soort van: gun elke diertjie sy plesiertjie…joue mag net nie wees om my koelbloedig in stukkies te sny nie!)
Daar is ook al verskeie rekenaar-simulasieprogramme ontwikkel vir biologie-opleiding, as alternatief vir “opkerfklasse.”
Maar nogeens terug na die eintlike onderwerp van bespreking: die deurskynende Animalia Chordata Amphibia Anura Merrem (hierdie deftige benaming vir ons doodgewone padda, is reeds in 1820 uitgedink), is geteel met twee ressessiewe gene.
Glo nog nie gepatenteer nie. Dis die eerste keer dat wetenskaplikes ‘n deursigtige vierpotige dier kon teel. (Sommige visspesies is sommer vanself deurskynend.)
Slegs een uit elke 16 teelpaddas verraai sy of haar binne-toestand op hierdie manier.
(Nou is my vraag – word die ander 15 dalk verkoop vir disseksies??)
8 comments:
Wonderlik interessant.
En ja, ek was een van daai wat so lekker my "vroulikheid kon beoefen" by die aanskoue van 'n opgekerfde padda...!
Mathys het jou padda-les geniet en ek vir die woord opkerfklasse skreeu snaaks!! Hy wil weet of hy dan nou maar met hierdie tannie inligting kan uitruil oor paddas- wat een van sy passies is,ons het onlangs vir hom die mees volledigste gids vir paddas nog in SA gekoop waarop hy baie trots is, die boek het tot n cd by van die roepgeluide!
Ek dink Sonja se seun sal dalk baie belangstel om so n ou paddatjie te bekyk, moet sê vir my lyk die deurskynende goggatjie maar grillerig...
"Lesuur" val mooi op die oor ja!
Gooi my maar nie weg nie, Dané!
Ag moeder, Sonja, hierdie tannie is nie mal oor paddas nie -- arme ou Mathyskind. En ooeee -- daai mooie boek hou hom seker ure besig.
Hy IS grillerig vir ons, Nimsie -- maar beslis nie vir Mathys nie!
I quite like this little chap! Hy spaar padda-lewes!
Gewis, C'tjie. Selfs 'n padda het sy goeie punte...(ja toemaar, ek weet hulle is baie nodig vir ons aarde.)
Ai, hoe bly is ek dat ek darem nog my innerlikste geheimenisse kan wegsteek onder 'n vel en 'n gesonde lagie vet! Moet sê, met die ouerword kon dit seker help as die siektes so van ver af ge-eien en gedokter kon word.....
Ha-ha, Marietjie -- nooit gedink dat "Me Padda" se ydelheidsin dalk in die slag kan bly nie...(Lekker om jou weer hier te sien, sal kom inloer!)
En ja, as die dokters maar sommer-so kon sien wat ons makeer, né.
Post a Comment