Sunday, February 14, 2010

Dag en dae van liefde

“Want so agape het God die wêreld gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie sal sterwe nie, maar die ewige lewe sal beërwe.” - Joh 3:16


Of jy dit Valentyn wil noem, of Agape-dag, weet maar net: ons is in staat om lief te hê, alléén omdat God ons eerste liefgehad het.


En sommer net ‘n gedagte van toegeneëntheid vir julle vandag:


As jy alleen die pad stap, onthou God het jou liewer as wat enige aardse vriend of geliefde ooit kan.


Is jy gelukkig getroud: Vier die Here se seën en genade in hierdie wonderlike geskenk aan jou.


Gaan jy deur die pyn van ‘n gebroke verhouding: God kan wonderwerkend herstel, vernuwe en heelmaak!


En vir die manne wat verstand het: ek vertrou jy het gesorg vir 'n lieflike, romantiese aandjie gisteraand vir jou maat; of haar vanoggend wakkergemaak met ‘n liefdesverklaring oor die telefoon, of koffie en beskuit in die bed.


Laat ons saam God se goedheid vier. Hy is die Gewer van vriendskap, liefde, die huwelik en familie – alles deel van Sy goeie plan!


En moenie wag vir Valentyn of ‘n herdenking nie: versprei die agape elke dag en dwarsdeur jou lewe.


Soos die Nike-ouens sal wil sê: Doen dit net!


*** Agape: 'n selflose liefde wat ingestel is op die vervuld-wees van die ander persoon.


4 comments:

Sonja said...

Kyk nou hoe vertel jy hierdie manne hulle moet verstand kry! Ek het vergeet dit is Valentynsdag,heeltemal vergeet en blykbaar manlief ook. Maar ons heg nie baie waarde aan dae wat mense uitgedink het nie,ek stem saam met jou dat dit elke dag gedoen moet word, dit moet n lewenswyse wees.

mariki said...

Sonnie, die manne moet darem hulle kant bring, né.
En ons almal -- elke dag.

Dané said...

Dankie, Mariki, dis so raakgevat.

mariki said...

As ons dit maar net kan bybring, Dané.