Thursday, December 11, 2008

Kersgeskenk

Ek het hierdie treffende stukkie van my vriendin Effie aangestuur gekry en deel dit graag met julle:


Matt.9:13 “Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar die sondaars.”


Sy het bekend gestaan as die Skip van Drome. Sy was 890 voet lank. Veertienduisend mense het aan haar gebou. Die anker alleen het 15½ ton geweeg en is deur 20 perde van die fabriek af tot by die skip getrek. Die binnekant van hierdie skip het tien maande geneem om te voltooi, altesaam ‘n paar mijoen ure se werk aan Louis Quinze, Klassieke Versailles en Victoriaanse versierings, Crown Berger skilderye, Franse kafees en Turkse baddens -- om maar net ‘n paar op te noem.

Sy is ook genoem Die Onsinkbare Skip en in ‘n koerantberig van 1912 het ‘n joernalis beweer dat selfs God haar nie sou kon sink nie.

Maar op Sondagaand 12 April 1912 sink die Titanic binne twee ure en neem 1500 lewens saam na haar watergraf.

Tydens hierdie twee ure het aangrypende gebeure afgespeel. Daar was te min reddingsbote. Die rykes en vernames het gesorg dat hulle eerste plek kry. Later het die kaptein oor sy megafoon afgekondig dat net vrouens met babatjies die reddingsbote mag gebruik. ‘n Man met ‘n babatjie in sy arms het verby ‘n vrou gehardloop wat alleen eenkant gestaan het. Vir haar was die afkondiging ‘n doodsvonnis. Skielik het haar situasie verander toe die man sy kind in haar arms sit en sê: “ Hy is joune…hardloop vir ‘n plek op die reddingsboot!”

Met die geboorte van Christus het God Sy Kind aan jou kom gee en gesê: “Hier is My Seun…neem Hom aan…hardloop na My reddingsboot.”

Moenie wag tot dit te laat is nie. Wanneer ‘n skip sink, word lug uitgeblaas en water ingesuig. Wag jy te lank, word jy saam ingesuig al spring jy hoe ver in die water in. Die meeste mense wat hul lewe in die Titanic-ramp verloor het, het nie verdrink nie, maar verkluim. Wie wil reddeloos in koue water ronddobber as Jesus reeds vir jou ‘n plek op Sy onsinkbare reddingsboot voorberei het?

Ons is almal bewus daarvan dat ons lewensvaart iewers, soos die Titanic s’n, tot ‘n einde gaan kom. Ons is ook bewus daarvan dat nie almal al die uitnodiging vir die reddingsboot van Jesus aanvaar het nie.

Aanvaar hierdie grootste Kersgeskenk ooit. En indien jy het, maak deur jou lewenswyse en jou woorde seker dat dié wat eenkant staan, ook die uitnodiging kry.

3 comments:

Muriel said...

Baie mooi inskrywing Mariki...

mariki said...

Ek moes dit net eenvoudig deel.

Jan and Miekie said...

Dankie vir hierdie beeld Mariki, dis kosbaar. (Ek is 'n bietjie baie agter met bloggery en probeer nou eers gou opvang.)