Thursday, December 18, 2008

Krip en Kruis

‘n Allerliefste naby-niggie van my gaan deur ‘n tragiese egskeiding waar die feite van die saak 'n goed geskrewe storie soos 'n kinderverhaal sal laat klink. Daarom so bitter om te verwerk (seer sekerlik is daar min egskeidings wat nie bitter swaar deerleef word nie…)

Kry gister ‘n klein ou briefie van haar af..."Weet self nie of ek al kan fluister of loop of kruip of lê of 'n rukkie regop kan staan nie"...en waar spat die bitterlike trane toe ek dit lees en loop ek die hele dag tussendeur en tjank. Sommer oor alles en almal in hierdie saak en die lewe en die seer en die vervallenheid en die gemors rondom ons.

En dit, terwyl ek besig is met blinkers en blakers en kerse en rooi kouse. En so tussen die weemoed deur is ek sooo oorstelp: Dankie Here Jesus, dat U gekom het om alles te kom heelmaak wat stukkend gebreek het van reeds die begin af; en nie net eendag nie, maar nou reeds kan ons na U toe vlug vir troos en genade en heelword in die storms van die lewe.

Ek loof U wonderbare Naam.

12 comments:

Carla said...

Sommer oor alles en almal in hierdie saak en die lewe en die seer en die vervallenheid en die gemors rondom ons.-
Bg. laat mens net verwonderd. verstom, dankbaar staan oor hoe Jesus dit in die oortreffendste trap beleef het, die hartseer en gebrokenheid van die begin tot die einde van die skepping.
Ek bid vir jou niggie en almal saam met haar die Here se sterkte en genade en liefde toe.
DESIA

Thea said...

Dis so 'n groot jammerte dat só baie mense die hartseer en pyn van 'n egskeiding moet deurmaak. Ek voel jammer vir jou niggie.

Wonderlike wete dan dat daar Iemand is wat die storms in ons lewe kan stilmaak! Soms is Sy tyd nie ons tyd nie, maar uiteindelik vaar die bootjie wel weer op gladde waters.

mariki said...

Ag dankie, Desia! Jy is SO reg oor wat Jesus se belewing moes gewees het.

mariki said...

Thea, ja, Jesus maak genadiglik die storms stil, né. Dankie vir jou besoekie.

ellievd said...

Ja, in sulke hartseer en ontwrigting is die wete dat HY altyd by jou is soms ook die enigste troos en reddingsboei waaraan mens kan vashou as niks sin maak nie.

Sterkte!

mariki said...

Sjoe -- Hy is ons Reddingsboei! Dankie vir die troos, Ellie.

Nimsi se Blog said...

Hello mariki, kom loer gou in hier by jou, was bietjie uit aksie gewees, my rekenaar was stukkend, Marius vanoggend vir my n splinternuwe een gebring en opgestel. Vir jou Niggie: God se: My kind, Ek is vir jou die kalmte van die see, Ek is lafenis vir jou siel, Ek is die ROTS,Ek is die bron van lewe. Wees gerus,Ek is in beheer xx Ek is self op 28 deur n verpletterde egskeiding, maar God het my 5 jaar na dit geseen met n wonderlike man, ons is nou 13jaar getroud en ek dank God elke dag vir Willie, is n engel deur God aan my gestuur.

Jan and Miekie said...

Is dit nie wonderlik dat ons 'n rots het om op te staan ten spyte van al die storms nie? En 'n lig wat vir ons die pad aandui? En Iemand wat ons lief het en alles vergewe? En daarby 'n belofte van 'n wonderlike erfenis wat wag? Maar ja, reg nou is dit veral verblydend om te weet dat daardie iemand ook vir ons voorspoed en nie teespoed beplan. Ek bid dat jou niggie Sy troos in al hierdie gemors sal ervaar. En al is dit hoe moeilik dat sy sal bly vertrou...Sterkte en GESEENDE KERSFEES!

mariki said...

Ag, die troosryke gedagtes is so verblydend -- dankie, Miekie!

mariki said...

Nims, ek sal jou en al die ander se lieflike trooswoorde en gedagtes deurgee aan my nig. Julle is ná slegs 'n korte tydjie vir my tot so 'n seën! Oee! en jou kersgeskenk! Sal loer op jou blok, hoor.

En ek is sommer soooo verblyd oor jou lewensverhaal wat deur Sy genade 'n beter-as-'n-storie-einde het!!

Anonymous said...

Dis nou maar een keer so: Seer is verdomp seer! Ek het meegevoel met haar. 'n Stukkende hart.... dit is regtig baie erg! Liefies vir haar!

mariki said...

Dankie, Tersie.