Sunday, March 14, 2010

Kou en kuier

Ek het ‘n hekel aan koue kos. Of liewers, aan koud-geworde kos.

Mens doen dan tog soveel moeite met die voorbereiding van ‘n gesonde en aptytwekkende bord kos (om nou nie eens te praat oor hoe lank jy voor die tyd beplan aan “wat kook ek vandag?” nie).


Daarom is dit nou al jarre dat ek loop en wonder (soms sit ek ook om dieselfde ding te doen), hoe om kos aan tafel warm te hou.


Want ek bedien ‘n gekookte maaltyd op ‘n warmgemaakte bord, net om so ‘n entjie weg deur die ete agter te kom dat die volgende vurk vol kos, nou nie veel meer as lou is nie.


En daar sien ek toe netnou op die internet die oplossing (wel, nie heeltemal nie, maar dis ‘n goeie begin):




Sover as wat mens op sig kan uitmaak, is dit ‘n gewone tipe bord. Maaaar...maak hom vir ‘n minuut lank in die mikrogolf warm, en siedaar – jy kan maar stadig eet en rustig kou, want jou kos word vir ‘n volle halfuur lank vir jou warm gehou terwyl jy al gesels-gesels sit en kuier-eet.


Wat meer is, dis net die middelkol van die bord wat verhit word, sodat jy dit maar met kaal hande uit die mikrogolfoond kan uithaal en tafel toe dra, soos mens hieronder uit die hitteverspreiding in die bord kan sien.

En vergeet maar nie die ou koffietjie aan die einde van die feesmaal nie – skink dit in die beker van dieselfde stel, en tot jou laaste ou slukkie is net so strelend hittig soos die eerste ene.


Maar, soos ek gesê het, sien ek dit nie heeltemal as die gepaste oplossing vir my nie – hoe erg ek nou ook al oor warm kos is. Want hoe kan ek met 'n hele paar gekoopte en geërfde (maar darem nie gesteelde) borde in my kas, nóg ‘n stel aanskaf teen R235 per bord?

A nee-a, tot ek met ‘n meer praktiese plan vorendag kan kom, moet ek maar net minder praat en vinniger eet, dis al.

2 comments:

Huisvrou said...

Dalkies Mariki, moet jy maar koue vleis en slaaie oorweeg!!! :lol: - Groete uit 'n warm Bosveld

mariki said...

NOU het jy 'n goeie oplossing vir my!