Thursday, March 4, 2010

Ag, Kaspaas, Kaspaas, waarom tog is jy Kaspaas?

O Romeo, Romeo, wherefore art thou Romeo?

Deny thy father and refuse thy name.


Kyk, sê die Hollanders: Oor smaak val nie te twiste.


Overgesetsynde: Smaak verskil, en wie sê my smaak is sodanig beter as joue? (Behalwe natuurlik dat ek wéét dit is!)


Ek het ‘n rukkie gelede opgehou met die maak van ‘n laaaang lys van hedendaagse Afrikaanse name waaroor ek ‘n possie wou skryf. Gedorie, as dit kom by die uitdink en opmaak van name, dan dink ek die Afrikaners wen loshande – of is dit dalk verloor loshande? Want mense, volgens my kry jy van die lagwekkendste samevoegsels, opmaaksels en verdraaisels denkbaar, wanneer dit kom by Afrikaanse naamgewing.


Maar nou ja, ek wil tog nie op enigeen se tone trap nie want dit vat immers baie breinkrag, oorspronklikheid en tyd om met ‘n nuwe naam vorendag te kom. Dis omrede van dié vleiende en naaste-liefhbbende gedagte dat daardie possie nooit die lig sal sien nie.


Maar vanmiddag lees ek van ‘n dame hier te lande wat ‘n groot aanhanger is van tee, teedrink en alles wat met dié geliefde drankie te doene het. Skoon ‘n prys uitgeloof met die geboorte van haar kleindogter –- natuurlik ‘n pragtige teekoppie, verskillende soorte tee en ‘n mooi boekie oor teedrink-gebruike.


En die naam van Ouma se nuweling?


Teagan.


Maar wie is ek om my daaroor uit te laat?


Want oor smaak val nie te twiste, sê die Hollanders.


1 comment:

Dané said...

Romeo = Kaspaas. Wáár lag ek my toe slap, Mariki.

Maar ja, voorwaar kry mens darem eienaardige Afrikaanse name.