Ek het nou nie besonderlik ag geslaan op die Winter Olimpiese Spele nie. Niks daarteen nie (behalwe die oordaad van geldbesteding met die opening- en afsluitingseremonies, terwyl die ganse wêreld onder droewe ekonomiese omstandighede gebuk gaan).
Maar dis maar net dat ons so besig was met allerlei, dat ons nie by Spele-kyk uitgekom het nie.
Ek hoor egter van een agtergrondstorie wat ‘n onuitwisbare indruk op baie kykers gemaak het.
Met die begin van die Spele het Kanada nog nooit ‘n goue medalje op eie bodem gewen gehad nie, al het hulle al twee maal vantevore ‘n Olimpiese Spele aangebied (’76, ’88).
En toe, reg aan die begin van hierdie Spele wen die Kanadees Alexandre Bilodeau die goue medalje in sy ski-afdeling –- en die Kanadese se vreugde ken geen perke nie.
Maar daar is meer aan sy storie. Alexandre het ‘n jonger boer, Frédéric, wat serebraal geremd is.
En toe Alexandre oor die wenstreep ski, toe wys die kameras vir Frédéric daar langs die baan: arms hoog in die lug en sy gesig die pure vreugde. Presies asof dit sy goue medalje was.
Alexandre erken ruiterlik dat Frédéric sy bron van inspirasie is.
Dat wanneer hy regtig nie lus is om te gaan oefen nie, die gedagte aan Frédéric wat sou wou, maar nie kan nie, hom aan die gang laat kom.
Dat wanneer hy nie soggens kans sien vir nóg ‘n hele dag se geoefen nie, hy dink aan sy broer in sy stootstoel, wat skaars kan praat, en dit word dan sy motivering vir die volgende skof.
“So al reën dit katte en honde, dan gaan oefen ek. My broer het so min in die lewe, maar elke oggend is hy die een wat jou met ‘n stralende glimlag groet.”
Ja, waarlik, dit was Frédéric se goue medalje ook.
6 comments:
The boys watched -- vasgeplak aan die TV. Ons ook, when we could. And we saw Alexandre's gold medal event. Dit was thrilling!
Touching story, maater.
C
Ja C'tjie, 'n mooi storie bly 'n lekker ding!
Pragtig!
Jip, Dané!
So mooi mariki
Stem, Nims!
Post a Comment