Friday, March 19, 2010

'n Appel 'n dag help nie meer nie

Soms dink ek aftrede is wanneer mens jou loopbaan afsluit sodat jy voltyds dokter toe kan gaan.

Dis die werklikheid van die nuwe lewenswyse waarna jy sooo lank uitgesien het.


Jy sit jou sit te sitte in wagkamers. In die Goue Jare Kliniek sit en wag jy om die ondersoek te ondergaan wat geen mens behoort te ondergaan nie – en hierna is daar sekerlik niks méér wat enigiemand omtrent jou lyf te wete kan kom nie.


Baie vinnig is mens se eie uitrustinkie vervang met ‘n skamele net-agter-die-nek-

vasknoop-jassie -- en nou is daar van weghardloop en ontsnap geen sprake meer nie. (Gewis die rede vir die dra van hierdie kledingstukkie.)


Die hoogtepunt van die wagtery is die gesprek met die vissies in die akwarium, terwyl jy wag, en wag, en wag om by die volgende “toetsstasie” uit te kom.


Soos gewoonlik gee niemand enige terugvoer oor die vorige uitslag nie, hoewel dit jóú lyf was wat betas, bevoel en bekyk is, en die uitslae van die ondersoek onbetwis jóú geregtelike eiendom is. Maar nee…eers is daar meer dokters en nog toetse.


Elke nuwe toets is erger as die vorige een. En wanneer mens heel laaste by die stresstoets uitkom, is jy net een bondel senuspanning, sodat die lesing hemelhoog is (met voorbedagte rade? Want só moet jy nou ‘n duur dosis anti-stress medisyne voorgeskryf kry.)


Hopelik waai die lugreëlaar nie die horde voorskrifte uit jou hand uit nie, want teen die tyd wat mens klaar rondgeskarrel het om alles weer bymekaar te kry, sit jy waarrempel met ‘n nuwe rugbesering.


En net as jy dink nou is sake afgehandel en jy kan maar vertrek, bring hulle die papier met die “solvensie” toets -- met die syfers en baie nulletjies, met die dollerteken vooraan.


En die heel laaste ene wat jy moet teken voordat jy vrygelaat word?


Dié ene wat verklaar dat jou boedel die onkoste sal dra as jy dalk van al die getoetsery te sterwe kom.


Goue jare inderdaad – waar die enigste goud dié in die dokters se sak is.....


En net indien iemand sou wonder....ten spyte van al die pille gaan dit besonder goed met my, dankie.


5 comments:

Jan and Miekie said...

Jan sê dat as 'n mens ouer as 60 is en 'n dag wakker word en geen skeet het nie, dan moet jy weet, jy is dood...!

Dané said...

Dankie Mariki, ek het nou lekker gelag!

mariki said...

Ha-ha, Miekie, dan drink ons maar liewers duur pille, né!

Dané, ja, laat ons maar lekker lag -- dis goeie medisyne!

Sonja said...

Hallo Maatjie
Ek is uiteindelik weer terug in die werklikheid! Is jy Okay??

mariki said...

Absoluut gaan dit goed -- jy lees mos van al die pille, Sonnie!!

Soooo goed jy is terug!