Ek het net mooi reggeskuif om blogsgewys verder oor Kentucky te gesels, toe Vennoot met ‘n 2009 geskenkkalender by my aankom. ‘n Pragtige ene oor eende, en omdat ons sopas nogal baie oor blou gesels het, dog ek ek haak daarby aan en vertel iets oor die besonderse Geeloogeend.
Maar juis toe e-pos Grootsteseun ‘n gebedsversoek deur, en so is die gesels oor eende en als anders vereers van die baan. Ek deel die briefie uit Indië en vra, bid asseblief!!
Liewe Vriende in Christus,
So-iets het ons nog nooit gesien nie. Natuurlik het ons geweet dat Orissa die Indiese staat is waar Christene die meeste gehaat word, maar wat nou hier gebeur, was onvoorstelbaar. En die Westerse media gee skynbaar nie om nie…

Die rooi gebied is die Indiese staat Orissa
Verlede naweek is ‘n Hindoe-priester en vier van sy volgelinge wat besig was om Christene tot Hindoeisme te ‘herbekeer’, deur onbekendes vermoor. Dadelik is die Christene blameer…en die verskrikking het begin…
In die afgelope vier dae moes ons sien hoedat honderde kerke afgebrand en baie, baie dosyne Christene vermoor is…net omdat hulle Christus liefhet.
In Tihidi, net nadat die polisie daar opgedaag het, het 70 bloeddorstige militantes die YWAM-sentrum bestorm. Die aanval is afgeweer, maar hulle word enige tyd terug verwag. Die personeel en die Indiese kinders onder hul sorg, skuil reeds die afgelope drie dae agter toegesluite deure en vensters in die gebou. Dis ‘n tyd van desperate gebed tot die Here.
In Kalahandi het ons personeel en die kinders omtrent drie minute gehad om te vlug voor die moordenaars daar opgedaag het. God het ‘n bloedbad voorkom.
In sekere dorpe is ons mense deur hul Hindoe-bure beskerm, maar by ‘n Katolieke weeshuis is ‘n priester en rekenaaronderwyser in ‘n huis toegesluit en doodgebrand.
Gelowiges word aan stukke gekap en net daar op straat gelaat…selfs vroue en kinders.
Sestigduisend vreesbevange Christene skuil in die oerwoud, terwyl dit wil voorkom asof die regering nie juis gepla is oor wat aangaan nie.
Hierdie dinge sal nog vir die volgende 10 dae so aangaan, as deel van ‘n veertien dae lange “routyd” vir die vermoorde priester.
Ons is egter vasbeslote om hier te bly en ons doel te verwesenlik: Orissa moet gered word! Dit is die gebed van ons harte. As ons aan hierdie derduisende weggooikinders kan vertel hoe om dissipels van Jesus te word, sal hulle die ganse streek verander.
O, bid vir ons, en vra julle vriende om te bid! Ons is letterlik besig om ter wille van die Koninkryk, teen die duiwel te baklei. Die volgende tien dae is van die uitsterste belang.
Hy het gesê: “Gaan dan heen en maak dissipels van al die nasies.”
Seën in Christus,
C&S
(Name weerhou)



