Thursday, November 13, 2008

Die Bluegrass Staat

KENTUCKY
Vir Kyle se begrafnis is ek Kentucky toe, of, soos die slawe dit genoem het, Kin-tuck, wat mens, onnodig om te sê, nie meer vandag hoor nie.

Om eerlik te wees, toe ons sowat agt jaar gelede Amerika toe gekom het, het ek nie mooi geweet watter staat waar geleë is nie! Waarom sou mens ook, Amerika is mos nie die wêreld nie (uhhm, hierin lê natuurlik ‘n hele gesprek opgesluit…)

Kin-tuck is een van die sogenaamde “grensstate” (dis nou een met heelwat staatsbure): Wes-Virginia en Virginia (Oos); Tennessee (S); langs die Mississippi Rivier waar aan die oorkant Missouri is (SW) en dan Illinois, Indiana, Ohio oor die Ohiorivier (W & N).

In die Burgeroorlog was Kentucky waarlik in die middel van die tameletjie vasgevang: dit was ‘n slawehandelstaat, maar ‘n besonder groot groep inwoners was heftig gekant daarteen. En so kom dit toe dat KY beide die Union en die Confederates van letterlik duisende troepe voorsien het. (Ironies genoeg is albei die 2 presidente van die noorde en die suide – Abraham Lincoln en Jefferson Davis -- 8 maande uitmekaar uit, in KY gebore).

KY lê in een van die land se sogenaamde “Bible Belts”, met perdetelery (en dus weddenskapsdobbel), tabak en whiskey die groot bedrywe!!)

Hoogaangeskrewe onder die ander state is Kentucky – en dis nou om dit sagkens te stel – gewis nie. Die rede? Hoofsaaklik langdurige armoede in ‘n groot deel van die staat (onherbergsaam en onbewerkbaar), en daarmee saam die veragterliking van die bewoners van daardie streek. Appalachia -- by die Appelagiese gebergtes soos ons dit in standerd 5 geleer het -- wat ‘n eie subkultuur van “Hillbillies” tot gevolg gehad het. Die Appalachian voetheuwels krink die heeltyd in en uit, (vorm glooiings) en in hierdie feitlik onbegaanbaar beboste klofies het die mense gaan bly.

Die klowe, “hollows” het in die taal van daardie streek as “hollers” bekend geword, en is verwant aan die woord “hollowin” (hollowing) = om te skree.

Hoog op die lys van kultuurgebeure in folkloristiese styl en met goeie smaak, word “hootin’ ‘n hollerin’ ''- musiekgeleenthede jaarliks in verskeie suidelike state gevier – vet pret, glo my!

Die staatsregering en welsynsorganisasies werk grootskaals vir die opheffing van die armes van KY, maar die Appalachians tel nog steeds as een van die drie armste gebiede in Amerika – skaars drie ure se ry van die rykste perdeplaasstreek ter wêreld, rondom Lexington, “Horse Capital of the World”.

Maar daaroor later meer. Hier is eers net ‘n paar herfsprentjies van in en rondom Lexington soos ek vinnig laasnaweek daar op die ou paaie rondgery het.







Fantasties, né!

9 comments:

Sandra said...

Dis baie mooi foto's Mariki. Die verskillende state en hulle ligging is vir my natuurlik grieks, maar lekker om so deur iemand se oe te sien en meer van te leer.

Anonymous said...

Dit is so mooi!

Anonymous said...

Dit was nou baie interessant. Mens hoor baie van 'hillbillies', maar ek het nie geweet wat die storie daaragter is nie.
Pragtig foto's ook.

mariki said...

Dit IS mooi, en ek is bly julle geniet!

Jan and Miekie said...

Baie interessant en watter pragtige fotos!

mariki said...

Ek geniet al julle se kuierye hier, en is bly ek kan jule dag bietjie inkleur, hoor!

Muriel said...

Dankie dit was nou interessant!
Jou foto's is pragtig!
x x

Kim_snwbrdr said...

Hello Mariki,

Waar is jy presies in KY?

Ons is buurvrouens...ek is ietwat Suid van Hazard in VA, naby NC en TN. Tussen die Appalachian en Smoky reekse letterlik in 'n baie mooi historiese dorpie. Ek is mal oor sneeu en die area is wonderlik vir "Snowboarding"

Ek bly nou al 9 jaar hier is 'n sosiale werker in hierdie pragtige bergagtige wereld.

Ek kan omtrent 'n paar hoofstukke bylas oor my ondervindings met die mense en die kultuur hier.

As sosiale werker werk ek met baie verskillende tipe mense, jonk en oud...en ek moet byvoeg dat "hillbillies" 'n stereotipe is waaroor baie mense hier oor die algemeen baie sensitief is hier.

Baie mense wat ek ken leer die tipiese dialek af juis vir daardie rede. Hier is ouer mense wat nog "Elizabethan English" praat. =moeilik om te volg. Daar is ook 'n groot kulturele verkil tussen "northener" en "southerners".

mariki said...

Hallo -- en ek wens ek kon sê "Buurvrou", maar dit sal nie werk nie, want ons bly nou reeds sowat drie jaar in Colorado -- jammer, hoor!

En ek het baie simpatie met die "hillbillies." Mense vra nie altyd om te wees wat hulle is nie!

Sjoe -- begin jou blog en vertel vir ons van al jou ervaringe. Mense wat nog Elizabethan Engels praat!! Toe, vertel!