Saturday, November 22, 2008

Goudoogeend

Common Goldeneye Duck by John James Audobon

En hier is dan die Goudoogeend-storie:

Anders as die Boeretradisie waar oupa, ouma en oompie Hannes vernoem (moet) word, het hierdie goudogige geveerte sy naam aan sy iris te danke.

As pas-uitgebroeide bondeltjie donsies het hy grysbruin ogies. Dan word dit persblou, blou en dan groenblou. Vyf maande later is die ogies bleek groengeel.

En sou jy ‘n volgroeide eendkind stip in die oë kon kyk, sien jy die opvallende heldergeel kykers (met die dowwer skakering vir die wyfietjie).

Hierdie eenters vlieg in klein groepe saam, en mens hoor ‘n baie kenmerkende fluitgeluid met elke vlerkgeklap.

Soek hulle en jy sal hulle in Kanada (het julle hulle al gesien, Desia?) Minnesota, Michigan, Alaska en die noordelike VSA vind.

Hulle is see-eende van afkoms (hoewel die Goudooggroep in riviermondings bly) en baie van hul ander familielede het ter wille van oorlewing spesiale soutkliere in die ouer gevoëltes ontwikkel.

Eendjies op die waterplas










Mooimaaktyd
















En om af te sluit, ‘n eenterige grappie:

Die eend loop by die kroeg in en vra vir die kroegman: " Het jy brood?"
Kroegman: “Nee.”
Eend: “Niks brood nie?”
Kroegman: “Nee.”
Eend: “Man, enige brood.”
Kroegman: “Nee, ons het nie enige &*^%$ brood nie!!!”
Eend: “Nie eers ou brood nie?”
Kroegman: “Is jy doof of wat? Ons het nie &*^%$ brood nie!! As jy my weer vra, gaan ek jou
&*^%$ bek aan die kroegtoonbank vasspyker.”
Eend: “Het jy spykers?”
Kroegman: “Nee!”
Eend: “En brood?”

3 comments:

Muriel said...

Ag dis pragtige eendjies!! Dankie vir die grappie he he

Jan and Miekie said...

Jy het 'n baie interessante blog Mariki! Ek het jou grappie baie geniet - ek kan nogal daarmee identifiseer: ek was 'n kleuterskoolhoof vir 7 jaar en baie ouers was soos daardie eend - hulle WIL nie hoor nie!

mariki said...

Ha-ha-ha, Miekie! Oeps -- wonder nou net: het ek my nie ook dalk by my kinders se personeel soos daai eend gedra nie...?! Hoop darem van nie.