Sunday, November 16, 2008

Die blou mense van die Bluegrass


Die Appalachian–gebied strek met ‘n boog oor 12 state, vanaf onder in Mississippi tot bo in New Yorkstaat, is rofweg so groot soos Groot Brittanje en het 20 miljoen bewoners. Dis ‘n streek van kontraste. Aan die eenkant die wondermooie natuurskoon – hier vind mens die Great Smoky Mountains sowel as bv. die gewilde 3 299 kilometer-lange Appalachian wandelroete -- en aan die anderkant (en hier kan ek net praat van die KY Appalachians) die tragiek van grootskaalse (natuurlik onwettige) daggakwekery, patetiese armoede, kindermisbruik, depressiwiteit, drank en dwelms.

Hierdie mineraalryke gebied is oor die jare heen tot agterlikheid verarm deur brutale grondspekulasie en mynboubedrywighede, sowel as gewetenlose arbeidsuitbuiting.


Een van ons seuns was deel van die kerkjeug se jaarlikse sendinguitreiking na Appalachia (honderde sulke uitreikings vanoor Amerika vind jaarliks soontoe plaas), en het onder andere ‘n huis help herstel vir ‘n gesin van sewe wat niks anders kon doen, as om hul hoenderhok in te trek toe die huis te bouvallig geraak het nie.


In hierdie afgesonderde deel van Kentucky was ondertrouery aan die orde van die dag, (Ook maar net soos in die Hel in die Seweweekspoortkaroo, net op veel groter skaal.) Tot vandag toe is dit waar eindelose Kentucky-grappies -- deur die Appalachianmense self ook vertel -- vandaan kom:

Pete aan die prokureur: “As ek en my vrou nou klaar geskei is, sal sy nog my niggie wees?”

Daar is egter een groep vir wie die gevolge van ondertrouery geen grap was nie – die Blou Fugates van Moeilikheidspruit. Hierdie mense was letterlik blou van kleur weens die rare verskynsel van methemoglobinemia.

Daar is twee toestande wat ‘n blou velkleur kan veroorsaak: methemoglobinemia, waar die suurstofdraende werking van die bloed te kort skiet en Argyria, wanneer iemand te veel silwer ingekry het (meestal in medisyne).

Beide die twee Franse voorouers van die Fugates wat hulle in 1800 hier gevestig het, was draers van hierdie toestand. Dis genadiglik bloot ‘n pigmentversteuring sonder enige gesondheidsprobleme, maar vir der jare het die Blou Fugates so aangekarring. Daar is hewiglik deur almal in die “hollers”gespekuleer oor wat die probleem kon wees: hart- of longprobleme, of “dat hulle bloed maar net nader aan die vel is as ander mense s’n.”

Gelukkig vir die Blou Fugates het ‘n hematoloog in die sestigerjare in hul probleem geïnteresseerd geraak. Madison Cawein het gereeld myle afgery om by hulle te probeer uitkom en dan vergeefse ure bestee om hulle in die bosse en klowe te agtervolg, omdat hulle te sku en bang was om met vreemdes te praat. (Ek sou ook gewees het – party van hulle was indigoblou as hulle ‘n rukkie buite in die koue was – en wie wil nou soos ‘n sirkusdier bestaar word.)

Die goeie dokter het in sy doel geslaag, die blou mensies op ‘n heel eenvoudige manier suksesvol behandel, en was saam met hulle verheug toe hulle gewoon pienk geraak het. Hy was ook baie verontwaardig toe ‘n rolprentspan hierdie mense voor die kameras wou laat paradeer in die “That’s Incredible”- TV program. Met groot genoeë het hy verneem hoedat die Fugate-familie hul honde op die Hollywood-indringers losgelaat, en dié blougeskrik en benoud, teen die berg af moes laat spaander !

8 comments:

Jan and Miekie said...

Wil jy nou glo! Dis baie interessant. Ek is so bly iets kon vir die blou mense gedoen word.

Anonymous said...

Dankie vir jo inskrywing! Jo fotos is pragtig!

mariki said...

Ja julle, enigiets vir enigiemand wat ly, net om tog te help! (o nee wag, wat van genadedood...laat ek dus liewers sê, enigiets veroorloofd, om lydendes te help.)

Muriel said...

Baie interessante inskrywing! Hier gaan ek nog baie leer!

mariki said...

Ja, wippie, ekke ok. Want as ek nie my opleeswerk doen en my kop bymekaar hou nie, dan span ek die feite verkeerdom in, soos met vry en uitmaak...

Sandra said...

Dis baie interessant. Die lekker van blog, mens leer deur ander blogs te lees en deur jou eie navorsing. Dankie vir die deel Mariki

mariki said...

Plesier, Sandra -- ek geniet net soveel om daar ver by jou te kuier.

Anonymous said...

Dis 'n interessante inskrywing...