Thursday, April 23, 2009

Daggadag

Daar is twee dae in April waarop die Amerikaners op ‘n streep deelneem aan blatante wetsverbreking. Maar, hou diegene vol, dis in orde -- omdat almal dit doen en dit niemand hinder nie en jouself nie benadeel nie; inteendeel, veral die een geleentheid maak jou o, so gelukkig.

Die eerste hiervan, die dag waarop belastings moes in wees -- en betalings van der miljoene nog agterstallig was -- was vroeg vandeesmaand.

Die ander een was die pas afgelope Maandag, 20 April, ook bekend as “4/20-Day”. Dis die dag waarop die daggamanne en –vroue hul ding vrylik en openlik mag doen. Word selfs Nasionale Rokersdag, genoem.

Die 4/20-konnotasie kom uit die sewentigerjare toe ‘n groep tienderjariges in Kalifornië elke middag om 4.20 bygmekaargekom het om dagga te rook, en dié benaming is later vryelik deur die raas-en-gil-musiekgroepe bevorder.

In kleinadvertensies lees mens ook uitnodigings na ‘n "420-sessie" raak, of van iemand wat ‘n “420-kamermaat” soek.

Die besit van selfs klein hoeveelhede marijuana is ‘n oortreding met ‘n boete van $100, dog tussen agt- en tienduisend studente van die Universiteit van Colorado het Maandag aan die rookfees op die kampus deelgeneem.

‘n Segsman van die universiteit sê dis bykans onmoontlik om teen die rokers op te tree, omrede van die klomp toeskouers wat dit soos ‘n konsert of vertoning, bywoon. “Ons is heeltemal hierteen gekant, maar ons hande is afgekap met hierdie gebeure wat ons geërf het.”

In die verlede is die kampuspolisie gebruik om die studente te verjaag en is hulle ook met watersproeiers bespuit. Dit het tot groot onmin en agressie gelei.

Die rokers dring daarop aan dat die gebruik van marijuana gewettig moet word.

Baie van die Universiteit van Colorado se studente is teen die geleentheid gekant en een ou het daar rondgeloop met ‘n plakaat: “Daggarook maak jou dom.” (Hoop net hy het nie te veel tweedehandse rook só ingeasem nie.)

Marijuanamuise:
Die afgelope paar jaar het twee mediese navorsingstudies glo getoon dat dagga met welslae in die stryd teen kanker ingespan kan word.

Tydens ‘n Britse navorsingsprojek is muise ingespuit met THC (tetrahydrocannabinol carboxylic – die chemies aktiewe stof in marijuana), nadat menslike longkankerselle vantevore in die einste arme muise ingeplant is.

Dit het glo die kankergewasse met 50% laat krimp.

Het ek dit reg? Dagga kan gebruik word teen kanker, maar daggarook is (bewese) sleg vir jou longe??

Klink vir my baie na die redenasies van ‘n ou wat nie helder is nie…..maar wag, ek sê nie die muisgeleerdes was gerook nie, hoor.

8 comments:

Mariette said...

Ek kan nogal dink dat so 'n dag baie marrakkas kan afgee....

Ek het nogal nou die dag op die TV gesien hulle reken nou hierdie storie van die dagga en die kanker ding, maar hulle het nou nie presies gese of mens dit moet rook of wat nie... maar toe dink ek so by myself hoe kan so 'n slegte ding wat jou breinselle opeet en dood maak goed wees vir 'n medisienale gebruik? - snaaks, :-)

groete.

mariki said...

Mariette, darem baie dinge in hierdie wêreld wat mens nie kan kleinkry nie, né!

Baie welkom!

Lize said...

Hi mariki, dis darem maar tragies dat mense dit aan hulself kan doen.

mariki said...

Is né, Lize.

Welkom hier!

Charmaine said...

Dit is aaklig Mariki. ' n Bekeerde dagga roker het eenkeer vir 'n groep jong tieners gesê dagga is vervloek. Dis onkruid wat groei na God Adam en Eva uit die paradys gejaag het. Daar is niks goed aan nie

mariki said...

Dit IS aaklig, Charmaine. En so lei die duiwel hierdie mense in die verderf in.

Oom Petrus said...

Hallo Mariki,
Ek het nie woorde vir sulke sotheid nie.
Groete

mariki said...

Waarlik, OomP, waarlik...