Wednesday, April 22, 2009

Stemdag vir vreemdelinge en bywoners

In die wêreld, maar nie van die wêreld nie.

Hier, maar nie van hier nie.

Of dit met troudag, doopdag, verjaarsdag, of stemdag is. Dit gebeur hier, maar dit mag my nie bloot teen die hier en die nou laat vaskyk nie.

Nie die vreugde van troudag en doopdag en verjaarsdag mag dit my laat doen nie, en ook nie die on-vreugde en ontnugtering van ‘n stemdag nie.

Immers, skryf Petrus in sy eerste boek, hfs 2:9-11, “….in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners.” En, of ons dit wil weet of nie, voeg hy by, hier sal ons verdrukking hê.

Maklik om dit te vergeet in die lekkerte van familiegeleenthede soos troues, doopvierings en verjaarsdae.

Maar goed om dit tog te onthou wanneer ons met minder opwinding (!) moet toekyk hoedat wêreld- en landsleiers met voete van klei, met groot fanfare verkies en toegejuig word.

My vriendin Lucia skilder. Sy noem dit ewe beskeie “sommer net rondspeel met verf en kwas.” Haar huisgenote is nie altyd beïndruk met haar aanvanklike pogings nie en spot soms selfs bietjie daarmee. Maar sy laat haar nie afsit nie; rustig gaan sy voort, want sy weet waarheen sy oppad is en hoe sy daar gaan uitkom. Sy weet ook, soos soveel kere tevore, dat hulle die voltooide produk gaan geniet. Ek het haar al sulke tye so stilweg ‘n “glo my, ek weet wat ek doen”- glimlag sien gee.

Net so is dit met ons God. Wat ons sien van Sy handelinge in ons lewens en in die lewens van andere, lyk dikwels na onbeholpe kwashale in ‘n mislukte skildery. Maar Hy het die voltooide kunswerk in gedagte en Hy weet waarheen Hy oppad is en hoe Hy daar gaan uitkom. Ons kan Hom glo en vertrou, want Hy weet wat Hy doen.

Immers, sê Petrus ook, “….maar nou is julle die volk van God.”

(Soos 'n graad 1-tjie daar in Bloemfontein vir die Volksbladjoernalis sal wil sê: “Jesus is die baas van die baas van die land, en die baas-baas is die koning.”)

HOERA!!

3 comments:

Charmaine said...

Ek stem soooo saam met die inskrywing Mariki. Jesus is die baas se Baas!! En ons is ok, want hierdie is nie ons huis nie.

mariki said...

Reg Charmaine -- is dit nie die heerlikste waarheid om aan vas te hou deur lekker en minder lekker nie!

Jan and Miekie said...

Dit is lekker om te weet "He's got the whole world in His hand" - as ons nie daaraan kon vashou dat Hy die baas-baas koning is nie, het ons seker al lankal in sak en as gesit! (Die word verification vandag is "pines"...! Waarna "pine" ons?