Monday, April 20, 2009

Die dag toe ek aan Boendoe gedink het

(omdat sy so lief is vir Cactaceae, oftewel die kaktusplant)


Daar word vertel dat ‘n groep Israeli’s uit ‘n toeristebus uitgeklim het in die Sonoran Woestyn in Arizona, rondgekyk, en toe gevra het: “En waar is die kamtige woestyn?”

Ek moet sê, ons was ook verras oor die Arizona-"woestyn"!


Want beslis voldoen hierdie woestyn nie aan die tradisionele idee van eindelose sandvlaktes sonder enige teken van plante of diere nie. (Ongeveer ‘n vyfde van die aardoppervlak word deur woestyne beslaan, wat ‘n gebied is met ‘n reënval van minder as 50 cm per jaar.)

Die Sonoran Woestyn is ‘n groot stuk aarde in die suidwestelike deel van Arizona en strek tot in Kalifornië en ook Meksiko. En wat ‘n wonderlike plantelewe is hier te vinde! Jy hoor van die Feetjiestoffer, die Spookblom, die Duiwelsklou en die Ystervarkkaktus.

En moenie die Meksikaanse springboontjie vergeet nie. Dié boontjie is die vrug van ‘n struik waarin motlarwes ontwikkel en hul bewegings laat dan die boontjies “spring.”

VaatjiekaktusHierdie ou vaatjie was ‘n goeie benuttingsbron vir die inheemse bevolking. Gestowe het dit soort koolbredie gevorm; van die pulp is “kaktustoffie” gemaak; verpulp het dit water verskaf en die dorings is as vishoeke gebruik.

SpringchollaVan ‘n afstand af lyk die Springcholla oftewel die Teddiebeercholla, soos ‘n donsige plant met teddiebeerarms. Maar moenie glo nie! Die plant is oortrek met silwer dorings en raak jy daaraan, dan “spring” ‘n deel van die doring in jou vinger in. Doringsegmente sal ook “afspring” en pynlik aan jou bene vassit as jy op ‘n afgebreekte teddibeerarm sou trap.


Orrelpypkaktus

Hierdie ene groei net in die Sonoran Woestyn, ook seker maar tot groot vreugde van die inheemse groepe wat hiervan ‘n lekker gisdrankie vir hulself berei het. Die Organ Pipe Nasional Park in Arizona is geskep om hierdie plantspesie te beskerm.

Soos by die Saguaro, het die Orrelpypkaktus se saadjies ‘n gasheerplant nodig in wie se skadu hulle kan opskiet en sterk word. Maar ewe ondankbaar sal die groterwordende plant dan al die water in die omgewing opslurp en die gasheer se dood veroorsaak.

Die wit of ligpers blomme gaan hoofsaaklik snags oop en word deur nektardrinkende vlermuise bestuif.

Vertikale, veselagige ribbes verskaf sterkte aan die stam wat as waterstoorplek dien en wanneer die plant dooi, bly die gebleikte ribbes oor wat deur die Indiane as fakkels of boumateriaal gebruik is.

Ocotillo
Baie goed aangepas is hierdie ene: gedurende droogtes gooi hy sy blaartjies af, maar kry hy weer water, nou ja, dan spruit die nuwetjies binne 3 tot 5 dae weer uit!

En is die blommetjies, wat fyntjies bo-aan die dun stamme groei, nie pragtig nie!


Die Ocotillo word bestuif deur hummingbirds vanaf Mexico oppad noord, na die berge van wes-Amerika. En soek jy hom vir jou tuin – hy is volop by kwekerye te kry omdat hy maklik van beide saad en steggies gekweek kan word en tevrede is om sommer enige tyd van die jaar geplant te word. (Ai, as meer mense maar so gedienstig was…)

Saguarokaktus (“Sah-wharo”)
Vra vir ‘n kind om vir jou ‘n woestynkaktus te teken, en jy kan verseker wees dat hierdie ou grote die een is waarmee hy vorendag sal kom, want die Saguaro was al in meer Wilde Weste-flieks te siene as John Wayne -- al groei hy slegs naby die Meksikaanse grens in Arizona en al het die filmverhaal wáár ook al afgespeel!


Maar hierdie kaktus verdien om bewonder te word, want hy is sommer ‘n meneer van ‘n plant. As die grootse Amerikaanse kaktus (is ‘n bedreigde plantspesie) word hy maklik 40 vt (12 m) hoog en die rekordhouer het 78 vt (23.8 m) gehaal. En gewig? Mááklik sewe ton!

Die plant se deklaag is glad en wasagtig en bedek met 2 duim-lange dorings. Verstommend genoeg is die dorings op jong plante dikker as op oueres, omrede daarvan dat hulle net soveel meer skaduwee aan die jong plante kan verskaf – vir tot 70% van die plant se oppervlak!

Jy sal nie sommer Saguaros hoër as 3,500 voet vind nie omdat hulle baie rypgevoelig is. En om as ‘n “volwassene” beskou te word, moet die plant 125 jaar oud wees. Hulle haal gemiddeld die ouderdom van 150 – 175 jaar, maar heel dikwels ook 200 jaar.

En daai eerste armpies-maak vind eers plaas teen die tyd dat die plant 65 tot 75 jaar oud is.

Met reëntyd suip die Saguaro tot 200 gelling (757 liter) water en stoor dit in sy rekbare "ribbes." En as hy doodgaan, is die eertydse ribbes net de ene houtspriete.

Houtkappervoëls pik diep gate in die Saguarostam omdat dit die enigste woestynplant is waarin hulle kan nesmaak -- en ewe uitsoekerig 2 of 3 gate voordat die houtkapper sy keuse maak. Maar ewe vinnig verseël die Saguaro die ekstra openinge deur “wondweefsel” te groei en só moontlike waterverlies te voorkom.

Dit alles gesê, dink ek hierdie kaktus kon ewe goed die Koningkaktus geheet het, of hoe?

Joshuaboom
Stadige groeiers hierdie: nuwe saailinge groei teen ongeveer 3” (7.6 cm) per jaar in hul eerste tien jaar en dan net 1½” (3.8cm) elke jaar daarna! Die stam bestaan uit uit duisende klein veseltjies en vertoon geen groeiringe nie, wat dit baie moeilik maak om die boom se ouderdom te bepaal. Die takke groei topswaar, en die wortels kan tot 36’ (11 m) van die stam af weggroei.

Dis geharde woestyngroeiers en word honderde jare -- selfs tot ‘n 1 000 jaar -- oud.

En hierdie mooies se name kan ek nie onthou nie:

10 comments:

Mariette. said...

Dit is ongelooflik mooi. Mens kan nie dink uit woestyn land le daar so 'n pragtige gesig nie.Julle kiekkies is vreeslik mooi. Dankie dat julle dit met ons deel.

Jan and Miekie said...

Sjoe! Dis baie interessant Mariki! En om te dink, daar word die kaktusse beskerm want hulle word bedreig en hier is hulle verklaarde vuilgoed en word hulle verwoed uitgeroei! My ma het in haar laaste jare "Queen of the nights" afgesaag en dan moes haar huishulp die afgesaagde "takke" met 'n hooivurk optel en in voersakke, wat my ma vasgehou het, laat val - reg voor haar neus af! Dapper vroue, maar dit het wel 'n verskil aan ons kaktuspopulasie gemaak.
Daar is ook spesiale goggas wat 'n mens op 'n kaktus kan plant om hom siek te maak en dan versprei die siekte, maar dis 'n stadige proses en ons het nie soveel sukses hier gesien nie.

mariki said...

Vlooitjie, ja, toe ek agterkom HOE interessant hierdie plante is, het dit my skoon opgewonde gehad.

So jammer van die uitroei, Miekie --- waarom?

Charmaine said...

Hi Mariki, Ek is ook 'n groot plante liefhebber, maar nie so kundig soos jy nie. Die kaktusse is onbeskryflik. My oupa hulle het 'n paar honderd soorte van regoor Suid Afrika versamel en in sy rotstuin geplant. Toe ek hier lees het ek gewonder wat van die rotstuin geword het.

mariki said...

Charmaine -- glad nie "kundig" nie. Maar wanneer ons reis, probeer ons soveel moontlik oplees en uitvind oor dit wat ons beleef --- ag toggie, net om dit gouer as gou weer te vergeet.

Thea said...

Baie interessant en pragtige foto's Mariki! Wat my ook opgeval het is die helder blou lug. Pragtig!

Nimsi se Blog said...

Sjoe mariki dis werklik mooi foto's. Geen wonder julle het so laaaank weggebly nie. Baie goeie inskrywing!
Nimsi

Anonymous said...

WOW, Mariki!!!

Dis wonderlik mooi! Dankie vir die brokkies inligting daarmee saam - dit maak dit soveel meer spesiaal. Om te weet wat elke plant se 'geheim' is. :-)

Die foto's is regtig PRAGTIG.

Dankie, dit was nou lekker lees gewees.

Jan and Miekie said...

Hulle vervuil hier Mariki en verdring die natuurlike plantegroei! Hulle hoort in Arizona en nie in die bosveld nie. Het jy geweet die Jakaranda en Lantana is ook verklaarde onkruid? Ou Jakarandas hoef nie uitgekap te word nie, maar 'n mens mag nie nuwe Jakarandas plant nie, al is hulle hoe mooi - hulle vervuil in die klowe.
Ons is baie lief vir ons inheemse plante soos die alwyne. Hulle hoort hier.

mariki said...

Thea, Nimsi, Boendoe -- mens is so dankbaar om nog "merendeels darem", onbesoedelde lug te sien. Arizona is bekend as die staat van die "big blue" en honderde klubs, organisasies en verenigings het dit as naam.

Dankie Miekie -- dit maak skielik sin!