Saturday, April 11, 2009

Nee dankie, John

“Hey, it’s good to be back home again,
“I said, hey it’s good to be back home again,” sing John Denver in een van sy gewildste liedjies.

Maar nou sing ek nie vanmore uit volle bors saam met oorl’e John nie. Nee, want veel liewer was ek steeds aan’t “Groovin’ in Arizona”, om die sanger Dolan Ellis se woorde te gebruik.







(“Groovin’”, verklaar Dictionary.Com, “is a noun, denoting a very pleasurable experience.”)

En voorwaar tog: was ons “ge-groovin’” in Arizona, sesde grootse Amerikaanse staat, nou ‘n allerlekkerste en plesierige ervaring!

G’n wonder dit was toenterjare die wildste deel van die Wilde Weste nie – wegkomplek van almal en alles wat jou gal gesoek het en jou wou onderkry.

Genadiglik was die CIA, FBI of die mafia nie op ons spoor hier in Colorado nie en wou ons maar bloot die son daar in die suidweste gaan soek.

Die son toe wel gekry, en sóveel meer -- die ongerepte ruimtes, die manjefieke rotsgebergtes, die grootvlak se hoorbare stilte en ‘n blouste-blou hemelkoepel bedags, met snags die naghemel se eindelose sterregetintel bo ons oopgesprei. Grotendeels buite radio- en selfoonbereik, met net die Here se geskapenheid van veld, bosse en berge rondom.

Gister, en vandag se dag en verderaan, sal ons altyd weet: Arizona bied ‘n wegkomkans, ‘n skuilplek teen die aandrang van die wêreld, ‘n heelwordplek soos geen ander wat ons in ons agt jaar hier in Amerika, ervaar het nie.

En die spreekwoordelike laaste, maar nie die minste nie: omrede van plek-plek ‘n onmiskenbare ooreenkoms met die ooptes van die geliefde Ouland se Karoo en die Noordwes en die Sandveld -- en wat dáárom toe vir ons onverwags ‘n kosbare verkwikking van herinnering bied.




So jammer dus, Johnnie, maar my Ouland-gelaafde hart willie vandag saam met jou sing nie.

9 comments:

Sandra said...

Dit lyk na 'n plek waar mens sommer die stilte rondom jou kan hoor en ek is seker dat dit soos die wonderlike Karoo ook sy eie bekoring het.

Thea said...

Dit is pragtig daar Mariki! En kan jy nou glo dat my vriendin in Kanada gisteraand bel en my vertel hulle was ook onlangs in Phoenix, Arizona en dit herinner haar ook baie aan die Karoo! Ek het vir haar die skakel na jou blog gestuur.

mariki said...

Ooee --- daai wonderlike stilte, Sandra! (Ek glo dis stil in die woestyn ook (!), maar net so bietjie anders.

Wil jy glo, Thea! Ouland sit maar in ons almal se DNA, né.

Jan and Miekie said...

Hi Mariki
Dis dalk nie lekker vir jou om terug te wees nie, maar dis lekker om jou terug op jou blog te he, so welkom terug! Die vakansie fotos is mooi, mooi, MOOI. Ek is skoon jaloers! Sal wat gee om ook daar tussen die ongewone stil droee berge te wees. God moes baie pret gehad het, toe Hy die wereld so wonderskoon geskep het.

mariki said...

Ag, Miekie, dankie vir die welkomsgroet!

Beslis ~~ "EN Hy het gesien dat dit goed was."

Oom Petrus said...

Hallo Mariki,
Welkom terug

mariki said...

Dankie, OomP.

Anonymous said...

"Ouland" Jy maak my sommer hartseer, Mariki.

Arizona is pragtig.

mariki said...

"Ouland" se dink maak my ook maar hartseer, Boendoe. En ja, Arizona is PRAGTIG.