Friday, April 17, 2009
Sprokie
Net voor haar optrede op die Britse Televisie se Talentkompetisie vertel sy gou dat sy werkloos is, alleen bly met net haar kat Pebbles as geselskap in die huisie waar sy haar ma tot haar sterwe toe opgepas het, en dat sy nog nooit getroud was of deur ‘n man gesoen is nie.
So ‘n outydse, vyftigerjare kerktannie-voorkoms, dubbelken, ‘n amper onverstaanbare Skotse aksent, kom van ‘n klein ou dorpie af, sy kan haarself nie goed uitdruk nie, sy is eenvoudig en --- boonop is sy OUD!
Só het die gehoor en die beoordelaars haar afgeskryf -- totdat sy begin sing, en die soetsuiwer klanke van “I dreamed a dream” om hulle vou.
Toe het Susan Boyle hulle op hul voete!
En as ek na die video kyk en haar hoor sing (al meer as eenmaal!) dan wil-wil die trane loop. En dis die reaksie by meer as een vriendin, en ek lees dit raak in die pers en op die internet. Want oornag is sy ‘n wêreldsensasie met meer as 13 miloen YouTube-kykers.
Nou waaroor huil ons? Wat is dit omtrent hierdie vrou wat ons so diep raak? Waarom tog wil huil as die glasskoentjie so voor ons oë aan Aspoestertjie se voet glip?
Ek dink ons huil omdat haar talent nooit raakgesien of ontwikkel is nie; oor die verlore tyd; oor ‘n gawe wat vir 47 jaar lank amper doodgesmoor was van iemand wie se stem met dié van Julie Andrews s’n vergelyk word.
En ons huil oor die kinderlike egtheid van ‘n eenvoudige mens wat die moed van iewers af moes bymekaarskraap om ‘n blasé (sou sy ooit die woord ken?) en afknouerige wêreld -- op sy terme -- aan te durf.
En ons huil omdat daar wie-weet hoeveel Susan Boyles rondloop met gawes wat hulle van die Here af ontvang het, en wat elke dag geweeg, te lig bevind en opsygeskuif word.
En miskien huil ons nie net ter wille van hulle nie, maar ook omrede van ons eie, onvervulde ideale en drome.
~~~~~~~~
Ongelukkig is die video'tjie nie aflaaibaar nie, maar doen jouself asseblief 'n guns en gaan loer op YouTube by:
http://www.youtube.com/watch?v=RxPZh4AnWyk&feature=related
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
8 comments:
Het gaan loer... en man o man kan hierdie vrou sing!
baie dankie mariki vir hierdie sprokie.
Lekker naweek
Nimsi
Wys jou net 'n droom is nooit tevergeefs nie. En eintlik is dit nooit te laat nie. Alles in Vader se hande en tyd en miskien is sy nou eers reg om al die "fame" te kan hanteer. Amazing stem en 'n bewys dat oud nooit "te oud" is nie.
Sal definitief gaan luister! Dit is omtrent 'n sprokie. Hoeveel onontginde talent is daar nie in die wereld nie? Ek dink aan die talentvolle kinders van Salvokop waar ek 'n kleuterskool gehad het - hoeveel van hulle sal iets met hulle lewens maak en hoeveel van hulle sal in hulle ouers se voetspore volg en 'n lewe van armoede, alkoholisme, geweld, ongehude ouerskap, vigs ens. ens. ly. Ons droom was om die kringloop van armoede te verbreek deur goeie voorskoolse opvoeding - die tyd sal leer of ons geslaag het. My eerste Salvokop leerders sal nou al 15 jaar oud wees.
Verruklik, né Nimsi!
Sandra -- jy is sooo reg: alles in die Vader se tyd en "Oud is nooit TE oud nie"!
Miekie, mag die Here elke saadjie wat julle in elke kind se lewe geplant het, voluit laat groei!!
Al wat ek weet is dat hierdie vrou se lewe nooit weer dieselfde gaan wees na dese nie!! Sy het 'n ongelooflike stem.
Baie mooi artikel oor haar in gister se rapport...volgens die artikel se die buurman dat hy gaar wel al gekus het... op die wang!
Nimsi
Ek het sopas gelees wat prof Hennie Stander op sy blog vandag oor Susan geskryf het. Gaan lees bietjie hier:
http://www.carpediem.co.za/henniestander/
Jip, Thea -- welseker het haa lewe gans verander. (Mag dit haar tog nie berou nie.) Sal HS gaan lees.
Nimsi, duidelik tel dit nie vir haar nie!
Post a Comment