Monday, April 27, 2009

Geskenknaweek

Twee wonderlike dae het in my skoot geval!

My Ingelandse vriendin Jillian het onverwags hier aangeland terwyl sy saam met haar dokterman oppad is na ‘n konferensie in Kalifornië.

Ken haar al amper negentien jaar lank. Van die tyd af toe van ons krose destyds nog in Ouland in dieselfde hospitaalsaal beland het, tot nou nog se ongereelde maar diep en verkwikkende oor die diepsee-heen-se-telefoongeselse.

Hulle woon al lange jare in die Cotswolds, een van die mooiste dele van Engeland en so 2 ure van London af (groen en golwende heuwels; klein ou dorpies met sandsteenkothuisies en smal straatjies; Shakespeare se Stratford-On-Avon en Oxford -- om maar ‘n paar van die hoogtepunte op te noem.) Saam-saam het ons twee ‘n paar jaar gelede vir ‘n paar weke lank daardie eilandlandjie stukkend getoer. ‘n Onvergeetlike ervaring wat ons behoorlik aan mekaar “vasgesement” het.

Jillian se blyplek -- is dit nie onvergelyklik nie?!


Daarom was dit vir my verskriklik om agttien maande gelede te moes hoor van haar skildklierkanker, en met tallose telefoongesprekke kon ek maar net magteloos luister na die afwisselende hoop, verlorenheid, dan weer vasberadenheid afgewissel met vrees en later die oorgawe aan die wete van ek-is-oppad-om-te-sterwe.

Só onafwendbaar het dit gelyk, dat ek dit skaars kon inneem toe Jillian een oggend baie vroeg bel om stil-stil die “ek is skoon”-nuus mee te deel. ‘n Wete te diep vir onmidelike vreugde, het dit ‘n tydjie geneem om in te sink.

En só beleef ons toe, nadat ons op ‘n stadium gereed was om mekaar nie weer hier op aarde te sien nie – die afgelope heerlike saamweesnaweek – as ‘n suiwer genadegeskenk uit die hand van ‘n liefdevolle Vader!

5 comments:

Sandra said...

Ek hoop julle het die kuiertjie vreeslik geniet! Ek en my vriendinne toer daai eilandtjie binnekort en lyk my jy moet bietjie "tips" gee waar mens moet gaan loer.

mariki said...

Ons het, Sandra, dankie. Ag, jy is so 'n gesoute "treveller" dat jy die ding sommer reg sal doen.

Charmaine said...

Ai Mariki, dis wonderlik dat Vader julle en vir haar die genadetyd gee. Dan waardeer mens alles met baie groter helderheid. Engeland lyk presies soos waarvan ek sal hou. Ek kan nie wag nie!!!

Nimsi se Blog said...

Ai mariki,
wanneer ek van sulke wonderwerke hoor en lees... is ek altyd so opgewonde en trots! ek wil nou selfs hier op jou blog skree:- EK DIEN DAARDIE WONDERLIKE GOD!
Hoop julle het baie lekker gekuier!
Nimsi

mariki said...

Ja, Charmaine, mens moet eers (amper) verloor om beter te waardeer, né. Ons bly maar simpel, ons.

Oee, jy gaan HEERLIK rondloop.

Ja, Nimsi, ons God is onbeskryflik goed!!!