Wednesday, April 29, 2009

Hondelewe

Ek moet eers gou kom totsiens-sê voor môre se ry, so die Here wil, Vancouver-eiland, Kanada, toe.

Ons ry sodra Poppiedot-hulle se hond eers by die veearts 'n draai gemaak het.

En hier is die rede vir die vertraging, die liewe ou Indiana Jones:


Sien, Poppiedot ry saam om by haar boesemvriendin uit SA, wat tans in Vancouver swot, te kuier terwyl ons op die eiland is vir 'n week. (Kon mos nie destyds ons tyddeel in SA verkoop kry nie en nou "moet" ons elke jaar 'n week vakansie hier daarvoor uitruil en dis hoe ons op die eiland gaan land.)

(Volgens die weervoorspelling wag daar bewolkte en reënerige weer op ons, dus verlaat ek my sommer uit die staanspoor op brosjure-foto's!)

In elk geval, hond se kind is nou siek en sy het laat vanaand gebel om te sê sy moet hom eers veearts toe vat voordat ons kan vertrek. Grote gedorie, dat mens op jou oudag ook nog jou lewe moet skik na getroude kinners se troeteldiere se gesondheidstoestand....pure hondelewe...maar toemaar, ek is lief vir die ou dier.

En ek het nog nie eens al my vertelle oor Arizona vertel nie, en hier val ons alweer in die pad. Ek wens natuurlik dis hoe 'n loshotnotlewe ons kan voer tot wie-weet-wanneer-se-jare, maar Vennoot verseker my dit sal die laaste trippie in 'n hele rukkie wees, hierdie ene....sug...

(Ek kla nie hoor, want ek besef wel deeglik hoe uiters bevoorreg ek is om in hierdie tye en dae nog so bederf te mag word, en hoe goed God vir ons is.)

Mag dit met almal wel gaan en mag die vrede van ons Hemelvader oor ons harte en ons lewens die wag hou.

mariki

9 comments:

Sandra said...

Dit lyk pragtig daar. Julle moet dit vreeslik geniet en ons bietjie kom wys as jy terug is.

mariki said...

Sal so maak, Sandra, dankie.

Mariette. said...

Dankie vir daardie laaste wense wat jy oor ons almal uitspreek, ons vat dit- in Jesus Naam.

Hoop die ou hondjie is beter, en mag julle die trippie vreeslik geniet, ons kyk uit na die nuwe vertellings.

veilig reis.

groete
x-x

Jan and Miekie said...

Teen hierdie tyd is julle seker al lankal daar! Ek bid dat julle dit vreeslik baie moet geniet!

Charmaine said...

O jinne maar dis pragtig Mariki. Ek hoop Indiana Jones is sommer gou beter... komende van nog 'n hondeliefhebber wat so goed verstaan hoe mens se diere nes kinders is.

Desia said...

Geniet die tydjie weg, en Gelukkige Moederdag Sondag.
Ek hoop julle kry beter weer as wat voorspel is.

Jan and Miekie said...

Net om te se, ek dink aan jou in mooie Kanada. Het net kom seker maak of jy nie dalk al terug is nie! Sien uit na die fotos.

Nimsi se Blog said...

Ek begin jou nou ernstig mis vriendin! Hoop alles wel met julle?

mariki said...

Dankie julle almal, vir die goeie wense en gebede -- waardeer julle almal so baie -- moet dit NIE vergeet nie!!