Tuesday, April 14, 2009

Onbesonge held

Hy was dertien jaar oud toe hy sy lewe aan Christus oorgegee het.
Hy was so gedrewe vir die Here, dat hy vir vier jaar lank, elke dag die evangelie op straat rond verkondig het.
Hy was 17 jaar oud toe hy as predikant begin preek het.
Hy was ‘n man wat sy lewe -- let wel, nie vir sy vriende nie -- maar vir onbekendes opgeoffer het.

Sy naam was John Harper, onbesonge held van die Titanic.

Ironies genoeg, het John verskeie kere in sy lewe amper verdrink: op 2½ voordat hy deur sy moeder uit ‘n put gered is; op 26 toe ‘n seestroom hom meegesleur en hy het ternouernood aan die dood ontkom het; en toe hy 32 jaar oud was, was hy ‘n skipbreukeling op die Middelandse See.

Was God besig om hom voor te berei vir die finale toneel van sy lewe?

Dit was die nag van 14 April, 1912. Die RMS Titanic was oppad na Amerika en onder die passasiers was die wewenaar-predikant John Harper, met sy geliefde ses jaar-oue Nana.

(Ds. Harper is gevra om van Skotland na Chicago te kom vir ‘n reeks dienste en sou aanvanklik met ‘n ander skip gereis het, maar het onverwags aan sy tuisgemeente gesĂȘ dat hy sy reisplan verander en op die Titanic plek bespreek het. Een van sy vriende het dringend by hom gepleit om die reis af te stel, aangesien hy (die vriend) in sy gebedstyd onder die indruk daarvan gekom het dat daar ‘n ramp op John wag. Die dominee het die versoek liefdevol, maar beslis geweier.)

Om 11.40 daardie rampspoedige nag tref ‘n ysberg die Titanic en ses waterdigte kompartemente word oopgeruk. Die see stroom die skip binne.

Toe dit duidelik word dat die skip gaan sink, draai John vir klein Nana in ‘n kombers toe en dra haar in sy arms na die ysterleer wat na die bo-dek lei, waar die vrouens en kinders vergader om in die reddingsbote te klim. Terwyl die trane oor sy wange loop, soen hy haar vir die allerlaaste maal en vertrou haar toe aan die sorg van sy niggie, Jessie Leitch.

Verskeie oorlewendes het later getuig hoedat hierdie onverskrokke mens sy reddingsbaadjie uitgetrek en aan ‘n man naby hom oorhandig het met die woorde: “Moet jou nie oor my bekommer nie -- ek is nie oppad ondertoe nie, maar na bo!”

‘n Ruk later weerklink ‘n angswekkende gerammel uit die binneruim van die Titanic en die meeste mense dink dit is ‘n ontploffing. Inderwaarheid was die reusagtige skip besig om in twee te breek.

Daardie nag is 1498 mense die yswaters in. John Harper het koorsagtig tussen hulle heen-en-weer geswem en by die onbekeerdes gepleit om tog hul lewens aan Jesus oor te gee voordat hulle sterf.

Vier jaar later by ‘n herdenkingsbyeenkoms van die ramp in Kanada, het ‘n Skotse jongman die volgende vertel:

“Ek het krampagtig aan ‘n wrakstuk vasgeklou toe John Harper vir my skreeu: ‘Is jy gered?’, waarop ek ‘Nee!’ moes antwoord.

“Toe roep hy uit: ‘Glo in die Naam van Jesus Christus en jy sal gered word!’ Net daarna is hy weggedra op die golwe, maar ‘n paar minute later het hy weer by my uitgekom.

“Nogmaals het hy aan my gevra: ‘Is jy gered?’ en weereens was my antwoord ‘Nee.’

“Met sy laaste asem het Harper nog ‘n keer hardop uitgeroep: ‘Glo in die Naam van Jesus Christus en jy sal gered word!’ Net daarna het hy onder die water verdwyn.

“En meteens, in doodsbenoudheid, het ek tot God geroep om my siel te red.”

Van die 1½ duisend mense in die water, is slegs ses daardie nag deur die oorvol reddingsbote opgepik. Een van hulle was John Harper se laaste bekeerling.


“Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflĂȘ.”
Johannes 15:13

3 comments:

Nimsi se Blog said...

Wow!
Ek het nie woorde nie!
Nimsi

Jan and Miekie said...

Hoe kry ek nou hoendervleis! Dankie vir hierdie aangrypende pos! Wys jou nou net - God het 'n plan met elkeen van ons en met alle gebeure en rampe!

mariki said...

Ja, julle twee -- dit IS voorwaar aangrypend om die Here selfs in die donkerte en pyn te sien werk.