Genadiglik haal ons die agressie nie op mekaar nie, maar op ‘n gesamentlike vyand uit: mislike motte.
En baie van hulle. Elke dag minstens sewentienstuks of wat, wat baie ywerige deur ons die mot-ewigheid ingehelp word.
Die oorlog het so in drie fases verloop:
verbasing
verstomming
verligting.
En as hier nie redelik kort gelede ‘n deeglike huisskoonmaaksessie plaasgevind het nie -- dankie toggie -- dan was al die fases nog deurspek met skuldgevoelens boonop.
Maar so tussendeur het die oorloggie ‘n ligter sy ook: bokspronge en atletiese rekspronge, klapdanse, (hiervoor het jy bogemiddelde koördinasie nodig want jy moet die indringer probeer doodslaan met die vlieëplak terwyl hy teen ‘n wafferse spoed by jou verbypeil en luglangs swenk) -- en dit alles word met allervenyn teen die ronddartelende, vaalgrys gebroedsels uitgehaal!
Verbasing en verstomming – wat is aan die gang?
Tot gister was ons grootliks bekommerd oor die skade wat die gagga-goed besig is om aan te rig – volwasse kleremotte leef nou weliswaar net ‘n klein rukkie omdat hulle nie eet nie, maar intussen kan ‘n jonger mot se vreetpartytjie 12 mm klerasie in ‘n minuut laat verdwyn! En net omdat hulle die vermoë het om die proteïn Keratien te verteer, is hul gunstelinghappies wol, pels en ander diereprodukte.
Bowendien, so onder onse neuse kon daar nog allerhande onstigtelikhede ook helderoornag plaasgevind het, want vroutjiemotte se feromone kan tot 8 km ver by meneer-motte aandag trek, terwyl sy ywerig besig is om dit vry te stel deur die skubbe op haar vlerke, deur haar abdomen of deur die tibiasegment van die been (hoe lyk ‘n meisiemot se been?!)
Seksie, so ‘n mottemeisie seg ek jou.
Verligting
Groot dankie tog het ons kon aflei dis nie valkmotte nie – dié insek-wêreldrekordhouers swiep teen meer as 50 km/h by jou verby; ook is dit nie hummingbirdmotte nie, wat hulle vlerke teen 70 maal per minuut klap. Of dan die witheksmot -- brrr!!
Só voer ons toe oorlog hierdie laaste twee weke sonder om te weet waarvandaan en waarom, totdat ‘n klein koerantberiggie vanoggend ons vrae beantwoord.
1) Die wat: dis glo vaalbruin Miller-motte op verbyvlug na Kansas, en die pes is baie lig vanjaar. (Juig!) Ook vreet hulle nie materiaal nie – hoera!
2) Die waarom: hoewel die wetenskaplikes onder mekaar verskil (wat’s nuut?), glo meeste dat motte die maan as padwyser gebruik, en as hulle dié nie kan sien nie, maak hulle op geomagnetiese tekens staat. (En as ek so aanhou, praat ek myself netnoumaartjies in ‘n respeksverhouding met hierdie motgedoentes in.)
Maar nou raak van die verbyvliegendes moeg, kom rus op MY vensterbanke en dergeliks, word aangetrek deur MY lamplig en kom versteur MY vrede.
En dan gee die joernalis die wenk: gedurende vliegtye moet mens maar saans sorg dat daar so min lig moontlik vir die maansoekende motterasies sigbaar is.
(Hierdie paragrafie het ek nie vir Vennoot gelees nie, anders moes ek dalk vanaand met sonsonder al gaan slaap het.)